Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
’n Rooi struik vir wit Zoeloe

’n Bloedrooi bougainvillea vir sy tuin.

Dit was een van Johnny Clegg se laaste wense voordat hy Dinsdag om en by middagete in sy huis in Johannesburg oorlede is. Hy was 66. Langs sy bed was sy vrou, Jenny, en twee seuns, Jesse en Jaron.

Johnny Clegg en sy seun Jesse saam op die verhoog. Foto: Getty Images

“Roddles” – soos Clegg sy bestuurder en vriend van die afgelope 28 jaar, Roddy Quin, genoem het, was tien minute later daar. Quin sê sy vriend was rustig en gemaklik. Le Zoulou Blanc – soos Clegg deur die Franse media gedoop is – het in 2015 gehoor hy het pankreaskanker.

Quin sê nadat Clegg weens sy siekte al hoe meer tyd tuis deurgebring het, het hy ’n kranige tuinier en voëlkyker geword.

Hy skud sy kop toe hy vertel van Clegg se versugting na ’n rooi bougainvillea vir sy tuin.

“John het ons almal op hol gehad om te soek vir so ’n struik. Jenny het al wat ’n kwekery is gebel. Sy het uiteindelik een gekry, maar ons is nie seker of dit inderdaad rooi is nie. Hy het nog nie geblom voordat John oorlede is nie – nou wag ons almal vir daardie oomblik,” sê Quin.

Hy het ons, sy gesin, altyd eerste gestel en vir ons soveel magic gegee.

Dan lag hy.

“Jissie, hy het ons besig gehou. Ons het almal geweet sy tyd is kort, maar nie te veel daaraan gedink nie. Daar is ook die storie van die papajas. Een van die dinge wat hom die laaste tyd baie plesier verskaf het, was om in sy tuin voëls te kyk.

“Op ’n dag sê hy vir Jenny hy wil ’n papaja hê. Maar dit was nie papaja-tyd nie en ons soek oral om een te kry. Jy kan mos nie vir iemand wat so siek is iets weier waarvoor hy lus het nie.

“Ná ’n moerse soektog kry ons toe vir hom papajas. En wat doen hy? Sny dit op en gaan gee dit vir ’n paar van ‘sy voëls’, want hulle hou glo spesifiek van papaja,” sê Quin.

Johnny Clegg en Roddy Quin, sy agent en vriend van 28 jaar, by sy laaste konsert verlede jaar.

Hy sê sy vriend was ’n vegter tot op die einde. Toe pankreaskanker by hom gediagnoseer is, het die dokter hom ses maande gegee. “Maar John het altyd gesoek na die gate in heinings. ’n Manier om daardeur te kom.”

Hy het ’n paar jaar gelede ’n groot operasie van agt uur lank gehad waartydens ’n deel van sy pankreas en maag verwyder is. Hy was toe in remissie, waarna die kanker teruggekeer het.

Quin sê hy het die daaropvolgende chemoterapie fyn beplan sodat hy nog steeds kon voortgaan met sy konsertoptredes.

“Daarom het hy op Maandae gegaan sodat hy teen die naweek weer kon beter voel.”

In die 28 jaar wat Quin sy bestuurder was, het hulle net nodig gehad om twee vertonings te verskuif – en dit was reg aan die einde van sy loopbaan omdat Clegg te siek was weens die chemoterapie.

Dit beteken nie dat sy toere en optredes sonder teenspoed was nie, lag Quin. “Eisj man, op elke toer het hy iets iewers vergeet. Die grootste gedeelte van die toere het ons spandeer om iets te soek of te gaan haal wat John vergeet het. Hy het hierdie verskrikte, grootoog-uitdrukking op sy gesig gekry, dan weet ek, hier kom dit nou.

“Sy hele huis is vol leesbrille. Bakke vol, want hy het sy brille die hele tyd vergeet, so hy het oral waar hy gegaan het nog een gekoop,” sê Quin.

Dis Clegg se humorsin wat hulle almal deur moeilike tye gedra het. Wanneer daar probleme was, het hy altyd ’n manier gevind om die positiewe raak te sien. Teen die einde van sy lewe was dit ook sy humorsin wat die mense na aan hom aan die gang gehou het tot aan die einde.

Sy seun Jesse, ook ’n sanger, sê sy pa het hom geïnspireer as sanger en mens.

“Hy het ons, sy gesin, altyd eerste gestel en vir ons soveel magic gegee. Hy het ons van kleins af geleer van die tools wat jy nodig het om ’n lewe met betekenis te leef. Hy was so wys en het alles met oorgawe gedoen.

“Ek weet nie hoe ons gaan klaarkom sonder hom nie, maar dis ’n troos om te weet dat hy rustig was toe hy dood is en dat hy so baie vermag het. Ons gaan seker maak sy legende leef voort.”

  • Clegg was die afgelope paar jaar nou betrokke by die nieregeringsorganisasie The Click Foundation wat daarop fokus om kinders te help om te lees. Sy laaste wens was dat mense wat medelye met sy dood wil betoon ’n donasie aan dié stigting maak. Gaan na clickfoundation.co.za vir meer inligting.
  • Lees ook die huldeblyk in Weekliks.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.