Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
’n ‘Ruimer huis vir Afrikaans’

Waarhede en versoening op die agenda by beraad in die naam van drie Khoi-leiers.

Afrikaans sal net in die toekoms kan floreer as sy jong sprekers weet daar is ’n lewe te maak uit en in die taal, en as al die sprekers van die taal se variëteite in Afrikaans kan tuis voel.

Die rymkletser en skrywer Simon Witbooi, oftewel Hemelbesem, was een van die gassprekers by die DAK Netwerk konferensie wat gister en vandag in Pinelands, Kaapstad, gehou word.Foto: EDREA DU TOIT

Dit was gister twee van die kernboodskappe by die konferensie van die organisasie DAK (ter ere van die Khoi-leiers Damon, Autshumao en Krotoa) oor waarheid en versoening in Afrikaans, wat in die Kaapse voorstad Pinelands gehou word en vandag ten einde loop.

Die gemaklikhede en die ongemaklikhede van verskillende Afrikaanse rassegemeenskappe is gister by tye priemend belig.

Hoewel sprekers soos die omroeper Jerome Topley dit duidelik gemaak het dat DAK geen Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) oor Afrikaans beoog nie, het eggo’s uit die WVK-tyd – insluitend by sommiges ’n aandrang op restitusie – soms weerklink.

Die dag is ingelei deur twee stewig nagevorste insette oor Afrikaans se gedeelde en verdeelde geskiedenis. Prof. Hein Willemse, oudhoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, het gesê daar bestaan nie ’n enkele waarheid oor Afrikaans nie.

“Taal is soos water en lig. Jy dink nie daaraan tot dit opraak of besoedel is nie. Die hartseerste oomblik vir Afrikaans was die Soweto-opstand van 1976. Die impak op Afrikaanse taalverbondenheid was verbysterend. Vir baie mense het Afrikaans gestink. Terselfdertyd het baie mense geprotesteer: Waarom die taal blameer? Maar dit gaan nie om die geldigheid nie. Dit gaan om die werklikheid van die belewing.”

Willemse het die saak gaan haal by die taalstryder ds. S.J. du Toit se bepalende tipering van Afrikaans as witmanstaal in ’n artikel in 1874, wat vir meer as 100 jaar die bepalende narratief was. Ook Langenhoven het dit so beskryf, al was dit nie so nie.

Hy het, soos verskeie sprekers, die bepalende inset van die Moslemgeloof in Afrikaans as skryf- en gebruikstaal uitgelig.

Prof. Hans du Plessis van die Noordwes-Universiteit het gesê die eksklusiewe fokus op Standaardafrikaans het die Afrika-hart uit Afrikaans geruk. Hy is sekerder oor die toekoms as die verlede van Afrikaans. Du Plessis het sy omvattende inset oor taalvariëteit en taaldiversiteit só afgesluit: “Afrikaans is die somtotaal van sy variëteite – selfs dit wat die skoolkinders praat. Standaardafrikaans moet herskryf word – sonder linguistiese kaderontplooiing.”

Uit die gehoor is ontsteltenis uitgespreek oor die “vermetelheid” van sommige wittes om die taal net vir hulself te wou en wil toe-eien. Sommiges het aangedring dat wit mense luidkeels van daardie eksklusiwiteit moet afstand doen.

Tydens ’n paneelbespreking het Quinton Adams, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit Stellenbosch, gesê hy is so Afrikaans as kan kom maar hy is bekommerd daaroor dat mense onbewus blyk te wees dat taal nie aan sosio-ekonomiese werklikhede kan ontkom nie.

Hy het gesê die ekonomiese ongelykhede onder sprekers van die taal maak kaartjies by kunstefeeste vir baie mense onbekostigbaar. As dit nie getakel word nie, is baie van die gesprekke onsinnig.

Hierop het die KKNK-voorsitter, Crispin Sonn, uitgewys dat geldelike hulpbronne vir Afrikaans miskien nie so omvattend is as wat party mense sal glo nie.

Adams het onder applous uitgeroep dat Afrikaans groter is as Afrikaans is Groot. Hy ervaar dit as eksklusief.

Vanuit die onderwysmilieu het Robyn van de Rhede gesê daar is by derdetaalsprekers wat Afrikaans as eerste addisionele taal leer, ’n weerstand teen Afrikaans, tot jy vir hulle kan verduidelik hoe bemagtigend dit vir hulle persoonlik is.

Verskeie sprekers het dit gehad oor die wisselwerking tussen Standaardafrikaans en Kaaps, en die probleme wedersyds met die verstaan van beide. Sprekers soos die Stellenbosse filosoof prof. Anton van Niekerk en die Matiestudent Giselle Botha het gewys op die tanende belangstelling – weliswaar met uitsonderings – in Afrikaans as onderrigtaal by studente op Stellenbosch.

Dit is iets waarvoor universiteitsowerhede “verkeerdelik” geblameer word, maar wat setel in studente se onwilligheid om vir Afrikaans se verlede aanspreeklik gehou te word.

Meer oor:  Dak  |  Beraad  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.