“ ’n Seder het waarlik geval.”
Dit was die woorde van die ontslape dr. Danny Titus se dogter Dalene op ’n begrafnisdiens wat Sondag vir haar pa gehou is.
Dalene sê haar pa het dikwels vir haar gesê om altyd te onthou van waar af sy kom en nederig te bly.
Titus (63), politieke ontleder, regskenner, taal- en kultuuraktivis is Sondag in die Fourways-gedenkpark in Johannesburg finaal gegroet. Dalene sê haar pa sal veras word.
Die diens is ook regstreeks op YouTube uitgesaai.
Titus was in ’n koma weens komplikasies ná ’n oogoperasie wat hy in Julie ondergaan het.
Titus se ander dogter is Neriska. Sy vrou, Lynda, is sewe jaar gelede ná ’n stryd teen kanker dood.

Dr. Danny Titus
Leon, Titus se jongste broer, beskryf sy broer as ’n groot kampvegter vir Afrikaans en die erfenis van bruinmense. “Hy het verseker dat die jeug meer erfenis- en kultuurbewus word. Hy wou graag ná sy aftrede meer doen oor die ongeskrewe geskiedenis van bruinmense oral oor,” sê Leon.
Leon sê sy broer het altyd ’n konneksie met sy mense van sy geboorteplek, Worcester, behou.
“Ongeag wat hy op professionele en akademiese vlak bereik het, het hy steeds nederig gebly en nooit Worcester se roots vergeet nie. Hy was maar net altyd ons ouboet. Hy was so bly en opgewonde toe hy my bel om te sê die oogarts sê hulle kan hom help dat hy sy sig, wat effens verswak het weens diabetes, kan terugkry. En vandag mis ek nog steeds jou laataand-oproepe.”
Titus het sy laerskoolopleiding by die NGK-Oefenskool in Worcester voltooi en aan die Hoërskool Esselenpark gematrikuleer. Daarna het hy ’n graad in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi en ’n meesters- en doktersgraad in menseregte in Nederland verwerf.
Jy los die wêreld ’n ander plek as wat jy hom gekry het, jy los ’n leemte.
Christo Davids
In die vroeë 1990’s het Titus as uitvoerende direkteur by die Menseregtekommissie aangesluit. Later het hy uitvoerende direkteur van die ATKV geword.
Lynette Francis-Puren, radio- en televisiepersoonlikheid, was die seremoniemeester op die begrafnisdiens.
Eerwaarde Chris Nissen, menseregtekommissaris, sê daar is baie dinge van Titus wat uitgestaan het, veral “Afrikaans mense se regte. Hy het nie teruggestaan wanneer dit by die onderwerp gekom het nie. Hy het na die Khoi- en San-mense geluister oor wat hulle in die land wil hê.”
’n Video met boodskappe van medelye is op die diens gespeel. Christo Davids, akteur, skrywer en regisseur, sê in die video daar is ’n groot leemte.
“Danny, ek maak hierdie video uit my lapa uit want dis hier waar ons die bruin man se posisie in die land bespreek, debatteer en probeer oplos het by een van ons vele eenman-braais, omdat ons nooit wie saam was, ’n ordentlike spreekbeurt gegee het nie. Jy los die wêreld ’n ander plek as wat jy hom gekry het, jy los ’n leemte.”
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, het ’n boodskap namens die ATKV gelewer.
“Hy het vir elkeen iets beteken. Vir sommige was hy ’n vader, vir ander ’n broer, vriend en kollega. Vir ons in die ATKV was hy amper alles hier bo genoem. Sy begrip vir die konteks vir Afrikaans en sy sprekers, skrywers en denkers het hom iemand gemaak waarvan nasionaal en internasionaal kennis geneem is. Hy was ’n diep mens verbind met die ideale van geregtigheid en medemenslikheid,” sê Brits.