Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
’n Sertifikaat vir man wat sy pa red – 50 jaar ná heldedaad

Net meer as 50 jaar gelede het die 12-jarige Herman Steyn sy pa van ’n gewisse verdrinking gered.

Die Voortrekkerbeweging het hom destyds vir die heldedaad vereer met die Reddingsboei vir dapperheid, maar toe raak die sertifikaat in die pos weg.

Herman Steyn, wat 50 jaar gelede sy pa se lewe gered het en ’n halfeeu later deur die Voortrekkers vereer is. Foto: Elizabeth Sejake

Steyn (63), ’n afgetrede landmeter by Anglo American Platinum se Mogalakwena-myn in Mokopane, Limpopo, het die sertifikaat uiteindelik op 6 April ontvang.

Steyn was as laerskoolkind lid van die Voortrekkers. Die Steyns het destyds in Parys in die Vrystaat gebly. In Desember 1968 het die gesin in Mosambiek vakansie gehou. Steyn, sy pa (ook Herman) en ’n gesinsvriend, Phyllo de Villiers, het in ’n bootjie by Zavora, noordoos van Maputo, visgevang. Hulle was sowat ’n kilometer die see in toe golwe hul boot omgeslaan het. “Ek onthou die gemaal en ek onthou dit was redelik donker onder die water,” vertel Steyn.

“Toe pop ek bo die wateroppervlak uit. Ek sien toe vir Phyllo ’n ent van my af, seker sowat 35 m verder, aan ’n rooi petroltenk vashou.”

De Villiers het aan die tenk geklou en strand toe begin swem.

Steyn jr. het aan ’n ou binneband wat op die bootjie was, vasgehou. Hy het in die ongeluk ’n harde hou teen die kop weg, maar het sy pa in die rowwe see gesoek. Dié se een skouer was ontwrig en sy voete was in vislyn verstrengel. Die jong Steyn het tot by sy pa gedryf en hom gehelp om aan die binneband vas te hou. Hulle het met die band bo-oor ’n rif gedryf tot in stiller water, waar hulle weer die bootjie in die hande kon kry.

Hulle het later baie daaroor gepraat en hy het ook by die skool vertel wat gebeur het.

Die Voortrekkers het hom met die Reddingsboei-sertifikaat vereer, wat slegs toegeken word aan ’n Voortrekker wat sy eie lewe in gevaar gestel het om iemand anders se lewe te red.

Maar iewers het die sertifikaat verlore geraak en die Steyns het na Bloemfontein verhuis.

Die Voortrekkers se Parys-kommando se huurkontrak van 30 jaar het onlangs verstryk en die kommando moet na ’n nuwe perseel verhuis. Dawn Rall, kommandoleier, sê terwyl hulle ingepak het, het hulle op Steyn se sertifikaat afgekom. Die Voortrekkerbeweging is vanjaar 85 oud en as deel van die feesvierings is besluit om Steyn se sertifikaat aan hom te oorhandig.

“Toe ons die 85-jaar feesvieringe reël, het ek gesê ons moet die man soek. Dit was vir ons ’n hoogtepunt om 50 jaar later vir hom die Reddingsboei te gee,” sê Rall.

Dr. Danie Langer, hoofleier van die Voortrekkers, het die koevert met die sertifikaat by die kommando in Parys aan Steyn oorhandig.

“Op die koevert staan dit is van Bellville na Boksburg gepos. Iewers het dit weggeraak. Iemand het dit seker maar neergesit en dis nooit oopgemaak nie,” sê Steyn.

Hy het die week in sy meenthuis in Pretoria erken die oorhandiging was vir hom baie emosioneel en dat dit hom teruggeneem het na sy familie. Hy verstaan nie die bohaai oor wat hy gedoen het nie. “Ek dink enige mens sou dit gedoen het,” sê hy oor dié dag wat maklik heeltemal anders kon geëindig het.

Meer oor:  Redding  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.