Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
’n Stille afskeid vir Louis

Dit was hel om nie by die begrafnis te kon wees nie, sê Mia Ziervogel (53) oor die begrafnis van haar pa, Louis Wilsenach (79), wat vroeër dié week weens Covid-19 dood is.

Louis Wilsenach se begrafnis. Net sy kleinseun Max Ziervogel (tweede van regs), dié se vriend Stephan le Roux (middel) en Louis se aangenome seun, Tebo (heel regs) is toegelaat om die begrafnis by te woon. Die kort diens is gelei deur past. Eben Combrinck. Heel links is ’n werknemer van Avbob.

Mia se oudste seun, Max Ziervogel (26), het sy oupa Vrydag in Krugersdorp begrawe.

Haar pa is alleen dood en weens die inperking kon net vier mense sy begrafnis bywoon.

“Niemand kon eens my pa se hand vashou terwyl hy so gelyhet nie. Ek het hom die laaste keer gesien toe ek hom omtrent nege dae gelede by die hospitaal afgelaai het,” het ’n hartseer Mia gister gesê.

Omdat sy hom versorg het nadat hy siek geword het, is sy, haar man, Christo, en haar jongste seun, Luca (24), sedertdien in isolasie op haar pa se kleinhoewe in Muldersdrift.

Max moes die begrafnis hanteer, want hy was die enigste van die familie wat nie met sy oupa kontak gehad het sedert hy siek geword het nie.

Ons moet saamwerk om ons land te red.

Hy moes by die polisie toestemming kry om rond te ry. “Ons het sy persoonlike besittings, soos sy selfoon, by die hospitaal gaan haal. Dit is alles in ’n sterk plastieksak toegemaak wat ons eers oor 14 dae mag oopmaak,” sê Max.

Wilsenach se lyk is ook in drie plastieksakke toegemaak voordat dit na die lykbesorger gebring is. By Avbob is dit in ’n spesiale afgesonderde gebied gehou waar niemand toegelaat is nie en dit is met nog drie plastieksakke omhul.

“Dit was alles ’n logistieke nagmerrie. My oupa was die derde mens wat aan die siekte dood is in Suid-Afrika, so al die stelsels is ook nog nie in plek nie en niemand is mooi seker hoe om dit te hanteer nie,” sê Max.

Boonop kan die amptelike doodsertifikaat ook eers ná die tyd van inperking by die departement van binnelandse sake afgehandel word.

“Selfs die hospitaal se doodsertifikaat is in plastiek omhul en niemand mag vir 14 dae daaraan raak nie, omdat sy vingerafdruk daarop is,” sê Max.

Louis Wilsenach (links voor) saam met sy dogter, Mia Ziervogel, en sy twee kleinseuns, Mia se seuns, Max (agter) en Luca (voor).

Dit was Wilsenach se wens om saam met sy vrou, Gretchen, in haar graf in die Helderfontein-begraafplaas in Krugersdorp begrawe te word.

“Aanvanklik het ons gehoor dit mag nie gedoen word nie, want hy moet veras word. Na ’n lang gesukkel het ons toestemming gekry. Ons moes hom toe binne drie dae begrawe.”

Net Max, sy vriend Stephan le Roux (29), Wilsenach se aangenome seun, Tebo Lechela (35), en ’n jarelange vriend, past. Eben Combrinck, kon by die begrafnis wees. Combrinck het die kort diens waargeneem en Max het dit op video opgeneem sodat familie en vriende van sy geliefde Opi later daarna kon kyk.

“Ek en Stephan het toestemming gekry om boodskappe van vriende en familie op die kis te skryf. Dit is toe in die grond laat sak, toegegooi met grond en toegemessel. Selfs Avbob se mense sê dit was een van die vreemdste ervarings wat hulle nog gehad het,” sê Max.

Hulle het klippe op die graf gepak en toe ook ’n olyfboompie op die graf geplant.

Terwyl die begrafnis Vrydagoggend om 08:00 aan die gang was, het Mia, Christo en Luca by Wilsenach se huis kerse aangesteek en saam gebid.

Ná die tydperk van inperking sal hulle ’n gedenkdiens hou waar almal teenwoordig kan wees.

Mia sê haar pa was in George op vakansie toe hy siek geword het.

“Hy het al griepsimptome gehad met Luca se verjaardag op 20 Maart. Hy het al hoe sieker geword en ek het by hom gaan bly om hom te versorg. Maar hy was hardkoppig en wou nie hospitaal toe gaan nie. My pa het baie na aan God geleef en geglo in die Here se genesing en regtig nie gedink hy sal só siek word nie.”

Sy het hom op 27 Maart hospitaal toe gevat. Sy moes hom in die ongevalle-afdeling groet. Hy is Maandag dood.

“Ek wil benadruk mense moet dringend hulp kry as hulle siek voel. Moenie wag nie. Ek dink met sy dood het my pa vir Suid-Afrikaners ’n baie belangrike boodskap gelos.

“Dit is om die stryd teen Covid-19 ernstig op te neem en te sorg dat hulle veilig is. Ons moet saamwerk om ons land te red.”

* Lees ook hier.

Meer oor:  Coronavirus  |  Sterfgeval  |  Begrafnis  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.