Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'n Week by haar ma se lyk

’n Sewejarige meisie het vermoedelik meer as ’n week lank langs haar ma se lyk op ’n plaas naby Tzaneen in Limpopo van grondboontjiebotter en water oorleef voordat sy gevind is.

Richard O’Connell by ’n teddiebeer van die jong meisie in die huisie waar sy vermoedelik meer as ’n week alleen by haar ma se lyk was. Foto: Deon Raath

Die ma, Jacqueline Ridland (31), se kêrel, Richard O’Connell (32), het haar op 1 Januarie die laaste keer lewendig in Tzaneen gesien. Agt dae later, voorverlede Saterdag, het vriende op haar lyk op die 22 ha-plaas afgekom.

Dit is nog onduidelik presies wanneer of waaraan Ridland dood is, maar anonieme bronne in die mediese en veiligheidsbedryf sê die lyk was reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding.

“Die huisie waarin hulle gekry is, het ’n sinkdak. In hierdie erge hitte is dit moeilik om op die eerste oogopslag te sê hoe lank sy al dood is. Ons sal moet wag vir die lykskouing se uitslag,” het een bron aan Rapport gesê.

‘Sy en haar ma was my hele lewe.’

Volgens O’Connell, ’n passer en draaier by ’n ingenieursfirma, het die meisie langs haar ma se lyk gelê en “van grondboontjiebotter en water oorleef”.

’n Gebroke O’Connell het Rapport vergesel na die plaas in ’n onherbergsame gebied minder as 10 km van Tzaneen. “Hierdie plaas was Jacque­line se groot droom. Sy wou ’n gemeenskap begin waar mense wat hulp nodig het, kan saambly sonder om ge-judge te word. Sy het baie vir sulke mense omgegee, want ander mense kyk af na hulle. My Jacqueline was nie so nie.”

Hy sê Ridland en haar dogter het albei die vorige week siek gevoel.

O’Connell met ’n valhelm wat aan sy gestorwe meisie, Jacqueline Ridland, se sewejarige dogtertjie behoort. Op die agtergrond is die baksteenhuisie waarin Ridland se lyk gevind is. Foto: Deon Raath

“Ons was bang dis Covid-19, toe vat ek hulle kliniek toe vir toetse. Hulle het gesê dit is brongitis en het vir hulle medisyne gegee.”

Op 30 Desember het hulle nog ’n boodskap gekry dat ma en dogter se Covid-19-toetsuitslae negatief is.

Op Oujaarsdag het O’Connell in hul huurwoonstel in die dorp wakker geword en Ridland was weg.

“Ek het maar solank die wasgoed gedoen. Jacqueline het die middag teruggekom met sakke vol groceries.”

’n Traan rol oor sy wang.

Dood gekry: Jacqueline Ridland.

“Sy was so in haar noppies. Jacqueline werk by ’n karre-plek. Sy polish en buff die karre. Sy het die maand ’n groot salaris van R7 500 gekry nadat sy ander maande ’n voorskot moes vra. Sy het die vorige dag baie opgewonde vir my gesê sy gaan met alles groceries koop, toe sê ek vir haar sy moet die dorp se winkels bréék,” sê O’Connell met ’n hartseerlaggie.

Dit word vroeg donker teen die berg en hy het Ridland oorreed om in die woonstel te oornag.

“As dit donker is, kan jy op die berg nie jou eie hand voor jou oë sien nie.”

Die volgende oggend, 1 Januarie, het hulle besluit om die kruideniersware en die negatiewe toetsuitslae te vier.

Jacqueline Ridland en haar dogter in die huisie waar sy dood gevind is. Die kind se gesig word verbloem om haar identiteit te beskerm.

“Ek het vroeër vir ons twee botteltjies J.C. Le Roux (-vonkelwyn) gekoop. Dit was die eerste keer in seker twee jaar dat ons dit gedoen het. Die eerste bottel kon sy nie saam met my en my tweelingbroer drink nie, want sy het nog bietjie maagkrampe gekry.

“Sy het ’n glasie van die tweede bottel gedrink en daarna ’n koffie en toe het hulle later met die motorfiets plaas toe gery. Dit was die laaste keer wat ek hulle gesien het,” sê O’Connell.

“Jacqueline het die motorfiets self van scratch af gebou. Sy was so trots daarop.”

Hy sê Ridland is met ’n pap selfoon daar weg en daar was ’n probleem met die sonpaneelkrag op die plaas. “Ons plug die stelsel uit as ons dit vir ’n rukkie nie gaan gebruik nie en dan moet jy eers weer alles herlaai voor jy krag het.”

Toe hy ná drie dae niks van Ridland hoor nie, het hy begin bekommerd raak.

“Ek het deur die dorp geloop en hulle oral gesoek. By Jacqueline se werk het die mense gesê sy was nog glad nie weer daar nie.”

Hy het hulle gevra om te help.

“Van haar vriende het verlede Saterdag plaas toe gery om hulle te gaan soek. Toe kry hulle my Jacque­line en haar dogtertjie. Sy en haar ma was my hele lewe. Nou weet ek nie meer wat om te doen nie,” sê O’Connell.

Hy sê “sy vrou” het die plaas drie jaar gelede vir R400 000 gekoop met geld wat sy by haar ma geërf het. Dié is in ’n motorfietsongeluk dood.

“Daar was ’n sesslaap­kamerhuis se fondasie op die plaas, maar geen krag of lopende water of heinings nie. Ons het maar bietjie-bietjie die plek begin leefbaar maak.”

Die gesinnetjie het aanvanklik in ’n houthuisie en ’n tent op die plaas gebly terwyl hulle self die baksteenhuisie gebou het waarin Ridland later dood is.

Vrese oor veiligheid het O’Connell die woonstel in die dorp laat huur.

“Hier is net te veel mense wat in die aande in die berg rondloop. Ek het nie gevoel dis veilig nie. Ons het baie argumente daaroor gehad, toe huur ek die woonstel in die dorp, maar Jacqueline het gesê daardie R4 000 per maand was geld wat ons op die plaas kon gebruik.

“Ons wou verlede jaar getrou het, maar toe kom Covid en lockdown.

“Ons het die troue toe aangeskuif na Julie 2021 . . .”

“Jacqueline was ’n paar maande swanger toe ons ontmoet het. ’n Paar weke later het ek eers gesien sy het ’n magie. Ek het haar dogtertjie as my eie grootgemaak tot nou.”

Weer dwaal sy oë die berge in.

“Sy het my altyd ‘Richie’ genoem as sy my roep, en as sy suiker om my mond wou smeer wanneer sy iets wou hê, was ek ‘Daddy’.”

Hy sukkel om die trane terug te hou.

“Hierdie plek lyk so mooi in die aand. Jy moet die sterre sien. Alles voel soos ’n siek grap. Kan nie glo jy sien ’n persoon vandag so gelukkig en so mooi en dan is sy net weg nie,” sê O’Connell met ’n amper smekende klank in sy stem.

Saam met Rapport gaan hy die eerste keer sedert die tragedie by die baksteenhuisie in. ’n Dubbelbedmatras met bloedspatsels op staan eenkant regop en die res van die huisie is deurmekaar. Klere, boeke en ander besittings lê die wêreld vol.

“Dit het nie só gelyk toe ek laas hier was nie,” sê ’n hartseer O’Connell.

Van kruideniersware is daar geen teken nie, maar ’n bottel grondboontjiebotter staan in ’n hoek van die deurmekaar vertrek.

Toe Rapport se verslaggewer ’n yslike pienk teddiebeer onder klere uittrek, ruk O’Connell tot stilstand asof ’n onsigbare hand hom stuit.

“Dis haar teddie. Sy is my lewe; wat gaan ek sonder haar doen?” ’n Plaaslike welsynsorganisasie het aan Rapport bevestig die kind is in sy sorg geplaas.

* Brig. Motlafela Mojapelo, ’n polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ’n geregtelike doodsondersoek is aan die gang. “Die oorsaak van die gestorwene se dood sal bepaal word soos die ondersoek ontwikkel.”

Meer oor:  Tzaneen  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.