’n Gedeelte van die N10 in die Oos-Kaap is steeds Dinsdagoggend gesluit ná ’n ernstige botsing Maandagaand op die Olifantskop-pas tussen Cookhouse en Paterson.
Die verkoolde lyk van ’n onbekende man is op die toneel ná die ongeluk aangetref.

Die N10 in die Oos-Kaap is steeds vir verkeer gesluit nadat twee vragmotors reg van voor gebots het. Foto: Verskaf
Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het plaasgevind nadat twee vragmotors omstreeks 19:30 reg van voor gebots het.
Die twee vragmotors het in vlamme uitgebars.
Govender sê die twee vragmotorbestuurders het ernstige beserings opgedoen, maar het die ongeluk oorleef, hoewel die verkoolde lyk van ’n man ook op die toneel gevind is.

Motoriste moet alternatiewe roetes gebruik, of gereed maak vir lang vertragings terwyl die toneel nog opgeruim word. Foto: Verskaf
Die polisie weet egter nie waar die lyk vandaan kom nie.
Sy sê nie een van die vragmotorbestuurders kon tot dusver sê wat tot die botsing gelei het nie.
Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer en veiligheid, sê die N10 tussen Paterson en Cookhouse is steeds vir verkeer gesluit terwyl opruimingswerk voortgaan.

Die verkoolde lyk van ’n man is ook op die toneel gevind. Foto: Verskaf
Hy sê owerhede is op die toneel en daar word gewag op masjinerie wat groot genoeg is om die wrakke van die toneel te verwyder.
“Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, of om hulself gereed te maak vir lang vertragings op daardie stuk pad.”
Die een vragmotor het glo mangaan vervoer, terwyl die ander vragmotor aluminium vervoer het.