Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ná 41 jaar selfs nog mooier as op hul troudag

In die meer as drie maande terwyl sy vrou haar kleinkinders opgepas het, het hulle nie geweet of hulle mekaar weer lewend sou sien nie.

Dawid en Wilmien Kuyler op hul troudag 41 jaar gelede.
Dr. Dawid en Wilmien Kuyler op hul 41ste huweliksherdenking. Haar trourok pas amper beter as destyds en sy troudas pas nog net-net, skerts hy.

Daarom was dr. Dawid Kuyler (62) se Wilmien (65) Dinsdag op hul huweliksherdenking in Reebok in die Wes-Kaap vir hom byna selfs mooier as 41 jaar gelede toe hy haar vir die eerste keer in haar trourok gesien het.

Wilmien pas boonop nog in die rok wat sy destyds self gemaak het.

Sy het voorverlede week tuisgekom nadat sy haar kleinkinders van twee en vier jaar in Welkom in die Vrystaat opgepas het terwyl hul ma, Jenny de Wet, as dieetkundige gewerk het.

“Wilmien was nog altyd skraal, maar sy het ’n kilo of twee verloor, want dis baie oefening om na twee sulke kleintjies te kyk. Haar rok pas 100%,” sê Dawid, ’n teoloog.

Dit was “nie so lekker” sonder Wilmien in die huis nie al het hulle saans met video-oproepe gesels.

Die skaduwee van die dood loop agter jou aan in dié tyd. Ek is dankbaar ons is nou weer saam.

Intussen het hy kos gemaak, huis skoongemaak, wasgoed gewas en met Eddie oor die inperkingsregulasies getob. “Dis nou ’n hond met ’n personality. Hy volg my soos ’n skaduwee.”

Van die begin van die inperking het Dawid sy en Eddie se gedagtes op Facebook begin deel. Die inskrywings, getiteld “Eddie de Hond se gedagtes”, het baie aftrek gekry. “Mense kon daarmee vereenselwig en Eddie (die inskrywings) was my terapie.”

Die see is hul “kantoor”. Op 2 Mei het Dawid geskryf: “My kantoor bly mooi. My hond dink ook so. Hy dink antie Dlamini-Zuma en kie se koppe raas. Hulle ontneem hom van sy regte om op kantoor te wees en kantoordinge te doen. Ek het hom gewaarsku oor sy gevaarlike denke. Hy sê hy worry nie. Hy is ’n ou hond. Hy kan nog byt.”

Hy en sy vrou is nie sieklik nie, maar is in ’n “gevaarlike” ouderdomsgroep. Hy was bang een van hulle doen die virus op terwyl hulle so lank van mekaar weg is. “Die skaduwee van die dood loop agter jou aan in dié tyd. Ek is dankbaar ons is nou weer saam.”

Daarom was die troudagherdenking Dinsdag vir hulle ekstra spesiaal.

Eddie “op kantoor”.

Hulle het eers met hul seuns, Francois en Admill, en dié se gesinne in onderskeidelik Nieu-Seeland en Denemarke gepraat.

“Toe het ons twee en Eddie ver langs die see gaan stap.” Pizza by die Punt by Mosselbaai en klinkende glasies tuis die aand het die dag afgerond.

Baas en hond het ook weer gedagtes op Facebook uitgeruil:

Eddie: “Ek verneem dit is ’n belangrike dag vandag.”

Dawid: “Inderdaad, Eddie. ’n Vreugdevolle herdenking van inperking en beperking. Vir 41 jaar is ek ingeperk saam met een besondere maatjie en beperk ek my liefde tot haar . . . Geseënde inperking.”

Eddie: “Jy het vergeet ek is al 15 jaar deel van jul inperking.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.