Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ná ‘báie kallers’ vang hy toe sy 1ste baba

Johan Hoewe, die man wat die land platry om beeste en buffels se hoewe te versorg, het al baie beeste gehelp kalf. Maar nou uiteindelik het hy ook sy eerste mensbaba gevang.

Johan Combrink, alombekend as Johan Hoewe, by Lolly Pietersen en haar baba, Beaunichia. Foto: Jeanne-Marié Versluis

Johan (49), wie se van eintlik Combrink is, bring sy tyd met sy gesin en honde in die Pretoriase Moot deur wanneer hy nie op boere se plase sy diens lewer nie.

Twee weke gelede was hy nog tuis toe daar “skielik ’n gegil en geskree” was. Dit was Lolly Pietersen (26), die Combrinks se huiswerker en kinderoppasser. Johan sê sy vrou, Lizette, het kort tevore vir Lolly ’n Panado gegee toe dié gekla het sy voel sleg. Lolly het toe na haar kamer gegaan om ’n bietjie te gaan rus en Lizette is werk toe.

Johan sê toe hy in Lolly se kamer kom, het haar water reeds gebreek.

Lolly sê sy het glad nie besef sy was swanger nie. Sy het net ’n klein magie gehad. En daardie Dinsdag blaaspyn – daarom het sy die Panado gekry.

‘Ek sê toe vir Lolly: Gooi mielies!’

Johan, wat op ’n video van sy hoefversorgingsdiens wys hoe behendig en vinnig hy diere se hoewe kan sny en afrond, was aanvanklik nie seker hoe om dié situasie te hanteer nie. Lolly het kraampyne gehad en die baba wou vinnig kom.

Hy het haar gehelp om op die bed te lê en gesien die baba se koppie het al begin kroon.

“Nou wie bel jy? Jy kan nie 10111 bel nie, want hulle is die polisie,” het hy aan Rapport gesê.

Hy onthou toe van die krisisnoodlyn waarvoor hy maandeliks ledegeld betaal. Die nommer is op ’n rubberbandjie om sy pols.

Hy het gebel en hulle het ’n ambulans gestuur. “Maar in ’n stadium het hulle my na die ambulans deurgesit sodat ek vir hulle kon beduie hoe om by die huis uit te kom.”

“Ek het eers vir Lolly gesê sy moenie druk nie, want die ambulans is nog nie hier nie.”

Maar Lolly het geantwoord: “Ek kan nie meer hou nie!”

Johan sê hy het toe maar opgegee en vir Lolly gesê: “Gooi mielies!”

Binne sowat 40 minute vandat Lolly se water gebreek het, was die baba daar. Hy het die bondeltjie op die bed neergesit. Net tóé het die ambulanspersoneel by die kamer ingestorm, maar hulle het nie iets gehad om die naelstring mee af te bind nie.

Johan sê hy het toe ’n stukkie van die tou van ’n vensterblinding afgesny en dit gebruik om die naelstring af te bind. Die ambulansmense het daarna die naelstring met hul skêr geknip. Die ambulans het Lolly en haar baba na die Steve Biko-hospitaal geneem. Hulle is verlede Sondag ontslaan. Haar dogtertjie van 3,5 kg is perdfris. Sy heet Beaunichia, ’n naam wat ’n tante van Lolly voorgestel het.

Lolly het in Maart vanjaar van De Aar na Pretoria gekom om by die Combrinks te kom werk. Agt van haar familielede van De Aar werk ook in die Moot. Lolly sê sy was dus al swanger toe sy van De Aar gekom het, maar sy het dit glad nie vermoed nie. Sy is ’n enkelouer en het ook ’n sesjarige dogtertjie.

Johan sê: “Ek het al báie, báie kallers gevang. Maar dié was ’n eerste. Dit was ’n groot verrassing.”

Meer oor:  Johan Hoewe  |  Johan Combrink  |  Geboorte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.