Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ná erge brand is dit terug na gr. RR

’n Vyfjarige seun van Pretoria het sy merkwaardige herstel nadat hy ernstige brandwonde by ’n braaivleisvuur opgedoen het te danke aan die feit dat sy ouers kop gehou het en hom in die swembad gedompel het.

Logan Barnard (5) by sy ma, Chanie, en sussie, Mira (12). Foto: Elizabeth Sejake

Ná die fratsongeluk by sy ouerhuis in Mountain View, Pretoria, op 17 Augustus was Logan Barnard vier weke lank in die waakeenheid in dik verbande toegedraai. Sy een long het platgeval en hy was aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel. Sy ouers het gevrees hul seuntjie gaan sterf.

Maar tot hulle én die medici se verbasing het die klein vegtertjie so goed herstel dat hy op 14 September uit die Johannesburgse Garden City-hospitaal ontslaan is.

Sy ma, Chanie (34), sê haar man, Chris (42), het die aand ’n vuur in ’n vuurput buite die huis gemaak. Oudergewoonte het Chris vir Logan toegelaat om die hout vir die vuur te pak.

‘Hy is nou so bederf, hy kan doen net wat hy wil.'

Nadat die vuur aangesteek is, het Logan – sonder dat sy ouers geweet het waarmee die mannetjie besig is – ’n plastiekbakkie in die kombuis gaan haal. In die motorhuis het hy bo-op die grassnyer gestaan, op ’n rak geklouter en ’n kannetjie petrol wat vir die grassnyer gebruik word, afgehaal. Hy het brandstof in die bakkie uitgegooi, die kan toegedraai en teruggesit op die rak en is terug na die braaivleisvuur om die petrol op die vuur te gooi.

Toe Logan se lyfie begin brand, het Chanie en Chris onmiddellik hul seuntjie gegryp en in die swembad gedompel voordat hulle hospitaal toe gejaag het.

Hy het ernstige brandwonde aan sy maag, regterbeen en gesig opgedoen. Aanvanklik sou hy veloorplantings moes ondergaan, maar dit was uiteindelik nie nodig nie.

Die vuurput waarin Chris Barnard vuur gemaak het die aand toe Logan petrol op die vlamme gegooi het. Foto: Elizabeth Sejake

By Rapport se besoek wou Logan met die intrapslag weet: “Tannie, wil jy hierdie storie kyk? Wat wil jy kyk?”

Dan brei hy uit oor die program op Cartoon Network: “Weet jy wat is hierdie storie se naam? Apple and Onion.”

Op die oog af lyk dit of alles voor die wind gaan, maar Chanie sê die ongeluk het emosioneel ’n reuse-impak op Logan gehad. “Hy is baie bang. Hy weier om alleen te gaan piepie en slaap snags by my en Chris op die bed.”

Sedert hy terug is by die huis, het Chanie en Logan al ’n draai gaan maak by Krulletjies en Kui­fies, die preprimêre skool by die Laerskool Saamspan waar hy in graad RR is. Daar het Logan sy maatjies gewaarsku: “Jy gaan brand as jy naby ’n vuur staan.”

Maandag keer hy permanent terug skool toe.

Logan destyds in die hospitaal.

Wanneer sy na die foto’s van Logan in die hospitaal kyk, is sy dankbaar oor haar besige, bekkige seuntjie se herstel. “Ek waardeer elke order wat hy my gee. Hy is nou so bederf, hy kan doen net wat hy wil,” glimlag sy.

Elke dag word die brandplekke met akwaroom, weefselolie, ’n beskermingsmiddel vir sy vel en oogsalf gesmeer. Sy vel raak nog rooi wanneer hy in die son kom en sy beentjies is styf wanneer hy soggens opstaan, maar Chanie glo ook dit gaan herstel sodra hy aktief raak.

In die komende week neem sy en Chris vir Logan na ’n kliniese sielkundige wat in kinderberading spesialiseer.

“Hierdie weke het my en Chris so na aan mekaar gebring. Ons band is nou sterker as ooit. Ons is gedwing om agt uur per dag in mekaar se geselskap te wees, te midde van die stres. Ons het saam gelag en saam gehuil,” sê sy. Die voorval het ook hul geloof versterk. “Dit het ons baie nader aan die Here gebring.”

Meer oor:  Logan Barnard  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.