Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ná nag in sel sê dokter hy sal weer in nag ry as dit moet
Een van die selfies wat dr. Ivan Jardine Vrydagaand in die aanhoudingsel by die Bedfordview-polisiekantoor geneem het om vir vriende te stuur.

’n Johannesburgse dokter van in sy 60’s wat op ’n mediese noodoproep gereageer het, is in hegtenis geneem omdat hy die aandklokreël oortree het.

Dié dokter sê egter hy sal dit enige tyd weer doen om ’n pasiënt se lewe te red.

Dr. Ivan Jardine, ’n oor-neus-en-keel-chirurg wat in Bedfordview praktiseer, het een nag in ’n koue, piepklein aanhoudingsel deurgebring.

’n Meisietjie in gr. 3 het selfs aangebied om vir die dokter ’n koek te bak sodat hy kan beter voel ná alles wat hy die afgelope paar dae deur is.

Jardine het Maandag in die landdroshof in Edenvale verskyn op aanklag van die oortreding van regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur. Die saak is tot 5 Augustus uitgestel.

Jardine het Vrydagaand ’n oproep van familielede ontvang om sy bejaarde tannie te help wat dringend mediese sorg benodig het. Sy was bedlêend en gedehidreer nadat sy al vir ’n paar dae niks geëet of gedrink het nie.

Vroeëre pogings om mediese sorg vir haar te kry, was onsuksesvol. Ander familielede was in isolasie nadat hulle positief vir die koronavirus getoets is en kon dus nie help nie.

Dr. Ivan Jardine

Hy het in sy voertuig geklim en van Kensington na Quellerina gery. Dit is ’n rit van sowat ’n halfuur.

Kort ná 21:00 het hy die pad terug huis toe aangedurf nadat hy sy tannie ondersoek en haar op ’n drup geplaas het.

Jardine is rondom 22:00 naby die Eastgate-winkelsentrum in Bedfordview deur ’n polisievoertuig afgetrek. Twee polisiebeamptes het uitgeklim en hom oor sy doen en late uitgevra.

Die huidige aandklokreël bepaal dat mense van 21:00 tot 04:00 by die huis moet wees en hy het nie in daardie stadium sy permit by hom gehad nie.

Jardine het aan die polisie verduidelik dat hy op ’n noodgeval gereageer het. Hy het aangebied om saam met hulle na sy kantoor daar naby te gaan om bewys te lewer dat hy ’n dokter is, terwyl hy ook die hospitaal gebel het om bewys aan die polisie te lewer.

Die polisie het nie rede ingesien nie en gedreig om hom in hegtenis te neem, sê Jardine.

Hy het ingestem om hulle na die Bedfordview-polisiekantoor te volg, waar hy in ’n aanhoudingsel van 3 x 4 m gesit is met nog vyf ander mense wat glo ook die aandklokreël oortree het. In daardie stadium het hy nog sy selfoon by hom gehad en het hy selfies in die sel geneem wat hy in ’n desperate hulpkreet aan sy vriende gestuur het. Sy selfoon is ’n rukkie later by hom afgeneem.

Die Saterdag omstreeks 08:00 is hy op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Jardine glo hy is onregmatig in hegtenis geneem, want hy is onder die indruk dat dit nie verpligtend is om sy permit byderhand te hê wanneer hy buite die aandkloktye op ’n noodgeval reageer nie.

“Ek is darem nie aangekeer toe ek op pad soontoe was nie. Wat sou met die pasiënt gebeur het as ek op pad na die noodgeval in hegtenis geneem is?” vra hy.

“Ek moet op ’n mediese noodgeval reageer. Ek het vir die polisie gesê as dieselfde situasie weer ontstaan, sal ek presies dieselfde doen.”

Een van die selfies wat dr. Ivan Jardine Vrydagaand in die aanhoudingsel by die Bedfordview-polisiekantoor geneem het kort voordat sy selfoon by hom afgeneem is.

Die polisie sê

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het bevestig dat Jardine Vrydag omstreeks 22:00 deur polisielede op Nicolweg in Bedfordview aangekeer is.

Volgens Kweza was die dokter saam met ’n passasier in die voertuig – Jardine het bestuur – en albei was in gewone klere.

Jardine ontken dat enigiemand saam met hom was en sê dat hy sy skropklere gedra het met ’n gewone baadjie bo-oor.

“Die polisielede het die dokter ingelig dat die aandklokreël van krag is en het vir sy permit gevra. Die dokter het aangedui dat hy nie ’n permit by hom het nie en het die lede versoek om hom na sy spreekkamer te vergesel om die permit uit te druk,” sê Kweza.

“Die regulasies, insluitend die verandering van die aandklokreël, is deur pres. Cyril Ramaphosa ingestel en is van toepassing op almal, insluitend dokters en polisiebeamptes. Daar word van noodsaaklike werkers verwag om heeltyd ’n permit by hulle te hê, veral tydens die aandklokreël. Dit is die geval totdat dit deur die president verander word. En as jy nie die permit het nie, sal polisiebeamptes jou in hegtenis neem.”

Kweza sê daar word nie van polisiebeamptes verwag om jou na jou huis of spreekkamer te vergesel om jou permit te gaan haal of uit te druk nie.

“Diegene wat in die kategorie van noodsaaklike werkers val – soos dokters – moet hierdie permit en hul identiteitsdokumente by hulle hê, want dit is ’n manier om aan te dui dat hulle is wie hulle beweer hulle is. Die permit moet ook kontakbesonderhede vir verifiëringsdoeleindes hê, indien dit nodig sou wees.”


Meer oor:  Ivan Jardine  |  Selfies  |  Borgtog  |  Selfoon  |  Aandklokreël  |  Noodoproep  |  Sel  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.