Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nagswem nou ook vir ysbere aangebied

Die Vrystaat se hoofysbeer, Felix Burri, sê vanjaar sal ’n spesiale nagswem vir die dapperste ysbere, die gewone ysbeerswem en die opveil van sy eie baard bykomende opwinding op die Bundu-ysbeerswem buite Ventersburg verskaf.

Felix Burri meet die watertemperatuur.

Burri sê hy maak gereed vir 600 swemmers om saam met hom op 29 Junie die Sandrivier se ysige water aan te durf.

Burri word op dié dag 60 en sê hy dink hy sien kans vir nog tien jaar en beplan voorlopig om op 70 as ysbeer uit te tree.

Die middernagswem word vanjaar vir die eerste keer aangebied. “Net 50 mense gaan in die donker die Sandrivier se ysige waters met ’n koplig aandurf.”

Hy sê die water is tans 9 °C, maar sal na verwagting teen 29 Junie 8,5 °C wees. Die Sandrivier is ook so ’n bietjie voller as vorige jare, sê Burri.

Swemmers wat aan die middernagswem wil deelneem, sal elk ’n spesiale geskenkpak en ’n volkleurmedalje kry. Inskrywings kos R500 elk.

Die gewone dagswem se inskrywingsgeld is R50 per swemmer en die hekgelde is R60 per voertuig.

Die hekgelde is saam met die inkomste uit die kosverkope ten bate van Engo Kinder- en Gesinsorg.

Maar die Ysbeerswem is nie net vir swemmers nie, petrolkoppe kan ook kom inloer om aan die 4x4-gesinskompetisie deel te neem.

Burri sê die 4x4-kompetisie begin om 10:00 en daar sal ook die aand ’n sjerrie-en-springmielierit wees.

Swemmers wat die Ysbeerswem voltooi, kry vanjaar ’n volkleurmedalje, geborg deur Goldco Midas. Die medalje links is vir die nagswem en die ander vir die dagswem. Foto: Verskaf
Die ikoniese ysbeertjie, Bundu, is reeds deur Felix Burri in die water geplaas en is gereed vir die Ysbeerswem.

Klubs van die Goudveld, Kroonstad en Bloemfontein reël die 4x4-kompetisie.

Hy sê swemmers van oor die land heen het laat weet hulle is slaggereed vir die geleentheid en hy hoop dat 600 swemmers vanjaar saam met hom die Sandrivier sal aandurf.

Burri wag reeds aanbiedinge vir sy baard in en sê dié geld sal aan Veterane Hoop geskenk word. Veterane Hoop staan oudsoldate geldelik by.

Mense wat meer oor die inskrywings vir die swem wil weet, kan Burri by 082 851 4584 bel.

Om inligting oor die 4x4-kompetisie te kry kan mense Riaan Bester by 082 554 3093 bel.

Meer oor:  Ventersburg  |  Swem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.