Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Name van Meyerton-brand se slagoffers bekend

Forensiese ondersoekers was Woensdag druk besig om bewyse in te samel wat lig kan werp oor hoe Tommie Strauss, sy vrou, Sibongile, en haar drie kleinkinders Maandag in ’n huisbrand in Meyerton, Gauteng, omgekom het.

Ryan Reddy (29), een van die plaaslike inwoners wat deur Strauss onder sy vlerk geneem is, vertel dat hy Maandagaand skuins voor middernag ’n oproep van Penny, Strauss se stiefdogter, gekry het dat iets verskrikliks gebeur het.

Ryan Reddy (agter) saam met Strauss se stiefkleinkinders (van links) Sibusiso, Busisiwe en Thomas.

“Ek het dadelik na die huis gegaan. Ek ken Tommie al sedert 2012. Hy was soos ’n ouer broer vir my,” het ’n hartseer Reddy Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Sy vriende het hom die bynaam Tamatie gegee omdat hy rooi geword het as hy te veel gedrink het. Hy was ’n vriendelike ou wat daarvan gehou het om saam met sy vriende te kuier. Hy was ook ’n kok van formaat. Hy kon iets uit niks uit optower. Mense het van ver gekom om sy platters by die slaghuis hier naby, waar hy gewerk het, te koop,” sê Reddy.

Volgens Reddy het Strauss hom altyd moed ingepraat as die lewe druk.

“Hy het ’n wonderlike sin vir humor gehad en was baie geliefd onder die inwoners in die omgewing. Ek was vir ’n lang tyd werkloos en hy het vir my gesorg asof ek van sy eie familie is. Ek gaan hom baie mis.”

Tommie Strauss, links, was een van sy beste vriende, sê Ryan Reddy. “Ek gaan hom baie mis.”

Paul Jordaan, Strauss se werkgewer by die P&F Vleismark in Meyerton, was ook vol lof vir Tommie.

“Hy was lief daarvoor om ’n drankie te vat, maar was een van die hardste werkers by die slaghuis,” sê Jordaan.

Strauss (39), sy vrou, Sibongile (41), en Sibongile se drie kleinkinders, Sibusiso (6 maande), Thomas (6) en Busisiwe (4), het in die brand omgekom.

Netwerk24 het vroeër berig een familielid, die ma van Sibusiso en Busisiwe, het die tragedie oorleef omdat sy in daardie stadium by ’n winkel was. Met haar terugkeer was die huis omsingel deur brandweermanne wat die vlamme probeer blus het.

Die drie kinders was Sibongile se kleinkinders van haar kinders uit ’n vorige verhouding.

Konst. Shaan Motsapi, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

“Die ondersoek vorder stadig, want die hele huis het afgebrand. Dit maak sake moeilik.”

Die afgebrande huis. Foto: Werner Beukes
Forensiese ondersoekers was Woensdag druk besig om bewyse in te samel. Foto: Werner Beukes
Polisie het Woensdag die huis in Meyerton besoek om die toneel te fynkam vir leidrade.Foto: Werner Beukes
Meer oor:  Meyerton  |  Gauteng  |  Huisbrand  |  Forensiese Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.