Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Namibiër sterf ná fratsgolwe hom omslaan
Alec Mackenzie (30) van Somerset-Wes het Saterdagmiddag in onstuimige see by Kleinmond ingeswem om ’n 63-jarige man te probeer red. Die man is egter later in die hospitaal dood verklaar. Foto: Verskaf

Met ’n lyfplank (bodyboard) en een paddavoet het ’n inwoner van Somerset-Wes die onstuimige see by Kleinmond aangedurf om ’n Namibiese dokter uit die water te probeer red.

Alec Mackenzie (30) het Saterdagmiddag sowat 400 m ingeswem om die 63-jarige man, wat deur fratsgolwe van 'n rots afgeslaan is, te probeer red.

“Ongelukkig kon ons hom nie lewend uitkry nie, maar die lyk is teruggebring sodat die familie darem ’n behoorlike begrafnis kan hou. Dit is vir my die een troos.”

Mackenzie het sowat ’n halfuur by die man van Windhoek in die see gewag totdat die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) opgedaag het.

Die NSRI is om 14:18 ontbied.

Verskeie pogings om die man by te bring, het misluk.

Volgens Mackenzie het die man glo twee weke gelede afgetree en saam met sy gesin kom vakansie hou.

“Hulle het deur Kleinmond gery en by ’n rots gestop. Hy en sy seun is albei deur ’n brander omgeslaan. Die seun het uitgekom, maar ná nog twee of drie branders was dit duidelik dat die pa nie kon uitkom nie.”

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Saterdagmiddag ontbied na Kleinmond waar ’n man van Namibië in die see in die moeilikheid beland het. Foto: NSRI

Mackenzie was vir die naweek by sy oom se huis in Kleinmond en het met sy neef gaan kyk na die branders, “omdat die see so rof was”.

Terwyl hulle vir ’n uitkykpunt gesoek het, het ’n vrou na hulle gekom en gesê iemand het in die moeilikheid beland.

“Ek en my neef het ons duikpakke gegryp. My neef is van die rotse afgeslaan, maar ek het gelukkig ’n gaping gekry en so met een paddavoet en ’n lyfplank ingeswem.”

Toe hy by die man aankom, kon Mackenzie sien dat hy ernstige beserings op die rotse opgedoen het voordat hy verder in die see ingedryf het.

“My familie was ook maar geskok. As jy die see gesien het, sou jy gedink het ons is eintlik mal, maar as die instink inskop, gaan jy dit nie keer nie.”

Hy sê hy was voorheen ’n menseredder en ken die see by Kleinmond goed. Mense onderskat egter soms die onstuimigheid van die see.

Die NSRI het Mackenzie geprys vir sy optrede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.