Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Napier-tragedie: Dogter vertel oor pa se laaste woorde

“Lief vir jou meisiekind, sien jou later.”

Marzell Newman (24), wat haar ouers, twee oumas, ’n oupa en suster Paasmaandag in ’n gru-ongeluk buite Napier verloor het, sê dit was haar pa se laaste woorde aan haar net voordat hy en die res van die familie vanaf Agulhas terug huis toe na Kaapstad vertrek het.

“Hy het uit die motor geklim, sy hande op my wange om my gesig gesit, en vir my gesê ‘lief vir jou meisiekind, sien jou later’. Dit was sy laaste woorde aan my. Ons is so ’n hegte familie. Ons soengroet en druk mekaar elke keer as ons groet.”

“Hierdie is almal wat verongeluk het, selfs Jax,” sê Marzelle Newman (tweede van links) van haar familiefoto. Dit is verlede Kersfees geneem. Van links is haar ouma, Hazel Newman, Marzelle, haar suster, Chanté, ouma en oupa, Maria en Johan Pieterse, haar ouers, Manna en Zelda Newman, en dan hul hondjie Jax. Foto: Verskaf: Marzelle Newman

Newman sê haar ma het R50 in haar hand gesit en gevra sy moet Handy Andy vir die huis gaan koop.

“Ek het dit onmiddellik gaan doen, salig onbewus van wat sou gebeur,” sê sy.

Marzelle Newman en haar kêrel, Armand van Wyk (26), vroeër die maand. Foto: Verskaf: Marzelle Newman

Newman het haar ouers, Manna en Zelda Newman (albei in hul 50’s), haar suster, Chanté (21), haar oupa en ouma, Johan en Maria Pieterse (albei in hul 70’s), asook haar ouma Hazell Newman (in haar 70’s) op een slag verloor.

Die gesin se schnauzer, Jax, is ook dood in die ongeluk.

Newman sê al wat die ongeluk oorleef het, is haar ringnek-papegaai, Lollie. “Sy het ligte harsingskudding gehad.

“Ek probeer om nie te huil nie. Ek is nou wees. Ek het letterlik my hele gesin verloor. Ons het vandag hul lyke gaan uitken. Ek het nie kans gesien daarvoor nie en my oom (Francois Pieterse) het dit gedoen. Ek het die dokumentasie geteken,” sê Newman Donderdagmiddag.

Sy herhaal dat sy nie kans gesien het om haar ma en pa se lyke te sien nie.

Newman woon tydelik by haar kêrel, Armand van Wyk (26), en sy ma, Sonja Coetzee, in Struisbaai. Sy sien nie kans om na haar ouerhuis te gaan nie.

Marzelle Newman by haar pa, Manna, en haar suster, Chanté. Foto: Verskaf: Marzelle Newman
Manna en Zelda Newman.Foto: Verskaf: Marzelle Newman

“Nee, ek het niks familie nie,” sê Newman weer.

Newman was op die dag van die ongeluk nog by Van Wyk in Struisbaai. Die res van haar familie het solank gery en sy en Van Wyk sou later deurry met almal se bagasie in hul motor.

Daar het inligting op sosiale media begin versprei oor ’n ongeluk op die Napier-pad. Newman het op ’n foto op WhatsApp gesien dit is ’n Fortuner wat in die ongeluk was.

“My pa behoort aan die Harley Davidson-klub en daar is altyd ’n Harley-plakker op ons motor. Maar hy het die Fortuner net vier maande terug gekoop en nog nie tyd gehad om ’n plakker op te sit nie. So, ek kon nie dadelik sê of dit ons motor is nie.

“Ek het my ma, pa, my suster, almal gebel. Onophoudelik. Ek het vir Armand gesê iets voel nie vir my reg nie, ons moet ry. Ek dink dit is my ma-hulle. Dit lyk nie goed nie. Ek voel nie goed nie,” beskryf Newman haar angstige oomblikke.

Manna Newman en Armand van Wyk. Marzelle Newman sê Armand se pa is in 2002 dood. “My pa was van toe af sy vaderfiguur. Hulle het ’n ongelooflike hegte band gehad en feitlik alles saam gedoen.”Foto: Marzelle Newman

Hulle het op die ongelukstoneel afgekom wat reeds afgesper was. Die polisie wou nie vir Newman en Van Wyk deurlaat nie.

Die sersant het gesê hy is jammer en toe die name van Newman se familie wat dood is met haar bevestig.

“Dit is die hele werklikheid. Jy weet dit is die duiwel se werk, maar die Here wat dit toegelaat het.”

Daar is voorlopig besluit dat die begrafnisdiens op Donderdag 2 Mei om 11:00 sal wees. Omdat haar ouers so baie mense geken het, en die ongeluk so groot nuus is, word daar nog gesoek na ’n groot genoeg plek om al die begrafnisgangers te kan akkommodeer.

“Dit is abnormale omstandighede,” sê Newman.

Meer oor:  Napier-Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.