Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nasionale orde vir krieketheld Jacques Kallis

Die voormalige Protea-krieketheld Jacques Kallis was so veelsydig hy kon op enige plek in die kolforde ingespan word. In die boulorde kon sy kaptein ook enige tyd op sy knoppie druk.

Jacques Kallis in sy speeldae.Foto: Christiaan Kotze

Nou verskyn Kallis, een van die veelsydigste spelers in die geskiedenis van krieket, se naam op ’n ander ordelys – as ontvanger van ’n nasionale orde.

Die presidensie het Dinsdag aangekondig die Orde van Ikhamanga (silwer) sal op 25 April aan Kallis toegeken word vir sy uitsonderlike bydrae tot Suid-Afrikaanse krieket.

Dieselfde orde sal ook aan onder andere die sangeres Yvonne Chaka Chaka vir haar bydrae tot musiek en maatskaplike saamhorigheid in Suid-Afrika, en die veteraan-koerantmanne Mathatha Tsedu en Benjamin Pogrund vir hul rol in die Suid-Afrikaanse joernalistiek toegeken word.

Dr. Cassius Lubisi, direkteur-generaal van die presidensie, is die kanselier van nasionale ordes en voorsitter van die komitee wat besluit aan wie die ordes toegeken word.

Die negejarige Thapelo Tambani, ’n leerling van die Transoranje Skool vir Dowes, wat verlede jaar ’n maatjie uit ’n sloot in Soshanguve naby Pretoria gered, maar toe self verdrink het, sal postuum met die Mendi-dekorasie vir Dapperheid vereer word.

Die Nederlandse aktivis Klaas de Jonge – wat in die 1980’s lank in die Nederlandse ambassade in Pretoria geskuil het nadat hy van wapensmokkelary verdink is – sal een van die ontvangers van die Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo wees vir sy rol in die stryd teen apartheid.

Edna Molewa, die voormalige minister van omgewingsake wat verlede jaar oorlede is, sal die Orde van Mapungubwe (goud) postuum ontvang vir haar “uitsonderlike bydrae om die planeet te help red”. Die komitee sê sy het ’n groot rol daarin gespeel dat Suid-Afrika beskou word as ’n wêreldleier op die gebied van omgewingsreg.

Die Orde van die Kremetart (silwer) word aan onder andere William Smith toegeken wat jare lank wiskunde en wetenskap op televisie aan leerlinge verduidelik het.

Yvonne Chaka ChakaFoto:

Die volledige lys van ontvangers is:

Die Mendi-dekorasie vir Dapperheid

Thapelo Tambani (postuum).

Die Orde van Ikhamanga (silwer)

* Achmat Davids (postuum): vir dié Kaapse storieverteller se bydrae tot die literatuur en die bewaring van die geskiedenis;

* Jacques Kallis: vir sy bydrae tot krieket;

* Yvonne Chaka Chaka Mhinga: vir haar bydrae tot musiek en maatskaplike samehorigheid;

* Nomhle Nkonyeni: vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste;

William SmithFoto: Argief

* Benjamin Pogrund: vir sy bydrae tot die joernalistiek en die vryheidstryd;

* Mathatha Tsedu: vir sy bydrae tot die joernalistiek in Suid-Afrika en die res van Afrika; en

* Mary Mhlongo Twala: vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste en gesondheidskwessies onder vroue.

Die Orde van Ikhamanga (goud)

* Johaar Mosaval: vir sy bydrae tot die uitvoerende kunste, veral ballet.

Die Orde van die Kremetart (silwer)

* Braam Jordaan: vir sy bydrae tot die bewusmaking van gebaretaal en die menseregte van mense met gehoorgestremdheid wêreldwyd;

* Constance Miriam Thokozile Koza (postuum): vir haar bydrae tot onderwys en gemeenskapsontwikkeling;

* Bongani Donald Mkhwanazi (postuum): vir sy bydrae tot die opheffing van swart ondernemings;

’n Argieffoto van Klaas de Jonge.

* Ray en Dora Phillips (postuum): vir hul rol om die lewensomstandighede van mense in die vroeë 20ste eeu aan die Witwatersrand te verbeter;

* William Smith: vir sy rol om wiskunde en wetenskap te bevorder;

* Velaphi Msane: vir sy bydrae tot die vryheidstryd en menseregte;

* Thandi Lujabe-Rankoe: vir haar bydrae tot die vryheidstryd;

* Anthony Andrew Trew: vir sy bydrae tot die ontwikkeling van demokrasie en die postapartheid-gemeenskap;

* Moyisile Douglas Tyutyu: ’n voormalige lid van uMkhonto we Sizwe vir sy rol in die vryheidstryd; en

* Yosuf Veriava: vir sy bydrae tot die mediese beroep.

Die Orde van Mapungubwe (brons)

* Thokozani Majozi: Vir sy bydrae tot die wetenskap.

Die Orde van Mapungubwe (silwer)

* Malik Maaza: Vir sy bydrae tot nanowetenskap en -tegnologie.

Die Orde van Mapungubwe (goud)

* Edna Molewa (postuum): vir haar bydrae om die planeet te beskerm.

Die Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo (brons)

* Riccardo Sarra (Italië): vir sy rol in die vryheidstryd.

Die Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo (silwer)

* Klaas de Jonge (Nederland): vir sy rol in die vryheidstryd;

* Khotso Makhulu (Brittanje): vir sy rol in die vryheidstryd;

* Paulette Pierson-Mathy (België): vir haar rol as skrywer in die vryheidstryd;

* Amii Omara-Otunnu (Uganda): vir sy rol in die bevordering van demokrasie en maatskaplike geregtigheid wêreldwyd; en

* Lucia Raadschelders (postuum, Nederland): vir haar rol in die stryd teen apartheid.

Die Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo (goud)

* Adm. Didier Ignace Ratsiraka (Madagaskar): vir sy rol in die stryd vir ’n demokratiese Suid-Afrika.

Meer oor:  Yvonne Chaka Chaka  |  Jacques Kallis  |  Politiek  |  Vereer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.