Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nathan gegroet ná skietdood in Februarie
Nathan Hebler (18), wat in Februarie in Vanderbijlpark doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Nathan Hebler (18), wat in Februarie voor ’n kitskoswinkel in Vanderbijlpark doodgeskiet is, was nie sommer net nog iemand wat nou dood is nie.

“Hy was Catherina en Johan se seun. Juandré (15) se boetie. ’n Kleinseun. ’n Vriend. ’n Leier. Nathan was iemand met ’n ongelooflike hart.”

Só het ds. Errol Sheppard van die Nederduits Hervormde Kerk in Vanderbijlpark, Saterdag gesê op die roudiens wat vir Nathan gehou is.

Die gebroke familie kon nou eers die roudiens hou omdat Nathan se pa, Johan (52), weke lank in die hospitaal was nadat hy ernstig gewond is in die skietery waarin sy seun dood is. Johan is in sy maag geskiet en herstel steeds.

Hy en Nathan het Dinsdag 2 Februarie omstreeks 18:30 na die Slap Chips-kitskoswinkel gegaan om kos te koop toe Tommy Phalatsi (49) wild op mense begin skiet. Dit is steeds ’n raaisel wat Phalatsi tot die skietery gedryf het.

Nathan sou vanjaar in matriek aan die private skool Destinata gewees het.

’n Boodskap wat Nathan se jonger broer, Juandré (15), op ’n wit karretjie geskryf het. Die motortjie is op ’n tafel met blomme en foto’s van Nathan geplaas. Foto: Verskaf
Blomme en foto’s van Nathan Hebler (18), wat in Februarie voor ’n kitskoswinkel doodgeskiet is, op ’n tafel voor in die kerk waar ’n roudiens vir hom gehou is. Foto: Verskaf
Catherina en Johan Hebler, ouers van die vermoorde Nathan (18), Saterdag buite die Nederduits Hervormde Kerk in Vanderbijlpark waar ’n roudiens vir hom gehou is. Foto: Verskaf

Sy ma het Saterdag snikkend met ’n houtkissie waarin Nathan se as is, by die kerk ingestap terwyl vriende van haar seun ’n erewag gevorm het.

Haar jonger seun, Juandré, het langs haar geloop met ’n wit Volkswagen Golf-modelkarretjie. Hulle het dit voor in die kerk op ’n tafel by ’n ruiker spierwit blomme en foto’s van Nathan neergesit.

Sheppard het gesê Nathan se lewe het ander mense aangeraak en verryk.

“Niemand kan in tye soos dié, wanneer ’n geliefde sterf, enigiets sê wat die finaliteit van die dood kan wegvat nie. Daar is geen towerwoorde nie.

“Nathan is so onnodig van ons weggeruk. Sy hele lewe het voor hom oopgelê. Hy was maar 18 jaar oud.”

Sheppard het gesê ’n mens se lewe moet nie aan die tydsduur daarvan gemeet word nie, maar aan die gehalte van verhoudings met ander mense.

“Nathan het die Here geken. Hy het ’n vol lewe gehad en waar hy nou is, kom hy niks kort nie.”

’n Video met foto’s van Nathan as klein seuntjie op die strand met seevakansies en as ywerige hengelaar langs die hengelwaters is in die kerk gewys.

Ná die diens het almal buite die kerkgebou ’n “shooter” op Nathan gedrink.

Sheppard het gesê hoewel dit voel of die hartseer ’n mens verlam, moet Nathan se familie “die lewe gaan leef soos Nathan dit gedoen het”.

• Phalatsi het op 2 Februarie in sy goue BMW X5 by die parkeerterrein van die winkelsentrum in Frikkie Meyer-rylaan ingejaag en Lewis Towsen (52), die bestuurder van Slap Chips, wat buite die winkel gestaan het, raakgery. Hy het die Heblers toe geskiet.

Towsen ondergaan steeds rehabilitasie.

Phalatsi het dieselfde aand ook vir Willie Kriel (47) in die kop geskiet. Phalatsi het daarna na die Global-vulstasie in Soweto gery waar hy hom ten aanskoue van petroljoggies buite sy BMW in die kop geskiet het.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê dit is steeds ’n raaisel wat tot die skietery gelei het.

Die polisie se ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Meer oor:  Nathan Hebler  |  Vanderbijlpark  |  Moord  |  Skietdood  |  Roudiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.