Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Net 1 uit 4 jonges het werk, wys nuwe syfers

Byna drie uit elke vier Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 jaar oud wat in die derde kwartaal beskikbaar was om te werk, sit sonder werk en sowat die helfte van dié wat 25 tot 34 jaar oud is, is werkloos.

Dié neerdrukkende syfers blyk uit die kwartaallikse arbeidsmagpeiling wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Donderdag bekend gemaak het. Daarvolgens is die werkloosheidskoers nou 30,8%.

Volgens die breë definisie, wat diegene insluit wat nie werk nie en nie aktief werk soek nie, is dit 43,1%. Dit is die hoogste sedert dié peiling in 2008 gedoen word.

Alexander Forbes verwag 1,7 miljoen poste sal vanjaar verlore gaan...

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê in ’n nota dié 43,1% is 13,6% hoër as in dieselfde tydperk in 2008.

SSA sê van die 6,5 miljoen werkloses in die land het meer as 53% nie ’n matriekkwalifikasie nie, terwyl 36,4% net matriek het. Net 2,1% van werkloses was gegradueerdes, terwyl 7,9% ’n ander tersiêre kwalifikasie as hoogste kwalifikasie het.

Luidens die tesourie se mediumtermynbegrotingsdokumente in Oktober het die Covid-19-pandemie werkloosheid tot rekordvlakke opgestoot.

Van ’n bevolking van sowat 59,6 miljoen en ’n arbeidsmag van 18,4 miljoen het net meer as 14 miljoen Suid-Afrikaners tans werk, sê die tesourie.

Die ekonome Isaah Mhlanga, Khanyisa Phika en Murendeni Nengovhela van Alexander Forbes sê die 14,7 miljoen mense wat in die derde kwartaal gewerk het, is 10,3% minder as in 2019 se derde kwartaal.

Die Internasionale Monetêre Fonds het vroeër vanjaar gewaarsku Suid-Afrika se gemiddelde werkloosheidskoers vir 2020 kan op 35,3% staan weens Covid-19 se vernietigende uitwerking op ’n reeds sukkelende ekonomie. Dit sal na verwagting teen 2021 effens daal tot 34,1%.

Alexander Forbes verwag 1,7 miljoen poste sal vanjaar verlore gaan teenoor 900 000 formele poste tydens die finansiële krisis in 2009.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê al het 543 000 meer mense in die derde kwartaal gewerk as in die tweede kwartaal, is dit steeds 1,7 miljoen minder as in die derde kwartaal van 2019.

Die styging in indiensneming in die derde kwartaal dui nie op werkskepping nie, maar op poste wat herwin is nadat dit tydens die inperking verlore gegaan het.

Op ’n jaargrondslag het indiensneming in die formele sektor met 8,3% afgeneem, in die informele sektor met 18%, in die landbou met sowat 8% en in private huishoudings met sowat 13%, sê Nedbank.

Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen, ekonome van PwC, sê PwC raam ’n netto verlies van 1,4 miljoen poste teen einde vanjaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.