Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Net 10c per e-tolhek? Hier is staat se opsies

Die taakspan wat deur pres. Cyril Ramaphosa opdrag gegee is om 'n oplossing vir Gauteng se e-tolsituasie te vind, kon volgens goed geplaaste bronne geen eenstemmigheid daaroor bereik nie – wat beteken die kabinet sal daaroor moet besluit.

Die taakspan bestaan uit Fikile Mbalula, minister van vervoer, Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, premier van Gauteng.

Rapport se susterskoerant City Press het by twee sleutelbronne verneem die taakspan het vorendag gekom met minstens sewe voorstelle, waarvan twee oorweeg word.

“Twee uiterstes gaan aan die president voorgelê word. Een plan kyk na die behoud van e-tolgeld, (die ander) om R70 miljard te vind om die lenings terug te betaal wat gebruik is om Gauteng se paaie te bou. Die waarskynlikste is om e-tol teen verminderde tariewe te behou, moontlik ? maksimum van R100 per gebruiker per maand, oftewel 10c vir elke tolhek waardeur gery word,” het ’n bron met toegang tot die voorstel gesê.

Opsie een

City Press is in besit van twee besprekingsdokumente. Een van hulle praat van 'n 70%-afslag op huidige tariewe. In dié dokument, wat op finansiële aannames vir 2018 gegrond is, word verklaar dat hierdie benadering werkbaar sou wees “ . . . ten einde die beginsel te handhaaf dat gebruikers moet betaal, om voldoening tot sowat 50% op te stoot en om die bedryfskoste van die tol(stelsel) gedeeltelik te verhaal”. Voordele sou kon inhou:

* Motoriste sal hou van laer tariewe, wat kan lei tot hoër vlakke van voldoening (betaling van e-tolgeld).

* Sanral, die agentskap wat nasionale paaie en die Gautengse e-tolpaaie bedryf, sal sy skuld makliker kan delg en die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) in stand hou. Nadele sluit in:

* ’n Negatiewe uitwerking op die potensiële inkomste uit e-tol, wat dus ’n beduidende regeringsbydrae sal vereis om daarvoor op te maak.

* Kritici sal daarop wys dat die koste van invordering steeds meer is as die tol wat ingevorder word. Hulle sou ook kon aanvoer dat die stelsel misluk het en dat die regering weier om dié werklikheid te erken.

* Gegewe wat tot dusver gebeur het, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat voldoening sal verbeter nie.

Opsie twee

Die tweede opsie behels dat die regering die rekening namens motoriste betaal. Pogings om tolgeld van motoriste te verhaal, word beëindig. Die terugbetaling van skuld sowel as padverwante kapitaalkoste word deur die regering hanteer deur middel van ? belastingheffing. Geld word steeds by konvensionele tolhekke ingevorder.

Voordele:

* Padgebruikers word van die e-tol-las bevry.

* Sanral kry sy inkomste by die regering en nie van padgebruikers nie. Die verhoogde sekerheid van inkomste beteken dat Sanral sy skuld sal kan diens én die GFIP kan bedryf.

* Verminderde bedryfskoste van tolbedrywighede.

Nadele:

* Die beginsel dat gebruikers moet betaal, geld nie meer nie, wat die toepassing daarvan elders in gedrang bring.

* ’n Groter finansiële las op die regering, en padgebruikers word onthef van die verantwoordelikheid om paaie in stand te help hou.

* Dit sal beskou word as ’n oorwinning vir die publiek, wat kan lei tot verhoogde druk om ander tolprojekte in te kort of op te skort.

Mbalula het Saterdag gesê die proses om deurslaggewende belangegroepe oor die saak te raadpleeg, is met twee weke verleng, waarna ’n aanbeveling aan die president en die kabinet gedoen sal word.

Outa, die organisasie teen belastingmisbruik, sowel as die AA is ten gunste van die skrapping van e-tolgeld en die vervanging daarvan deur ’n belastingheffing. Dít beteken egter ’n nóg hoër brandstofprys, en dat byvoorbeeld taxi’s, wat tans uitgesluit is van e-tol, en mense wat nooit die e-tolpaaie gebruik nie, ook indirek sal help betaal. “Die vraag is,” soos City Press se bron dit stel, “Hoe betaal Suid-Afrika vir sy (toekomstige) padinfrastruktuurkoste, wat na raming meer as R400 miljard is?”

Een van die bronne wys ook daarop dat daar ander rampspoedige gevolge kan wees as die nasionale tesourie al die skuld sou betaal. “Suid-Afrika se skuld is besig om onhanteerbaar te word. Mense wat van die begin af e-tol betaal het, sal terugbetaal moet word as jy e-tol kanselleer. Dít is (nog) sowat R5 miljard.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  David Makhura  |  Fikile Mbalula  |  Sanral  |  E-Tol-Taakspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.