
Steve Hofmeyr Foto: Verskaf
As die Anglo-Boereoorlog ’n nuwe naam moet kry, is daar net een alternatief – die “Wit Boerevrou & Kinderoorlog”.
Só het die sanger Steve Hofmeyr gister op sy Facebook-blad geskryf.
Die naam van die oorlog is amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog verander om swart slagoffers in te reken.
As die sterftes per volk dan die basis is, is daar net een alternatiewe naam vir die Anglo-Boereoorlog, skryf hy.
Talle Hofmeyr-aanhangers het in hul kommentaar sy skrywe ondersteun.
“ ’n Ikoon in ons land wat nie ’n bang haar op sy kop het nie is jy Steve, jy is die een wat die volk bymekaar hou met jou woord en baklei vir wat ons wil hê . . . dankie!” skryf Stefan van Rooyen.
Hofmeyr was Dinsdag ’n gas op die eerste uitsending van MSVStereo (jy het VLC of WinAmp nodig vir die skakel om te werk).
Dié aanlyn radiostasie is ’n uitvloeisel van die Miljoen Stemme vir Steve-veldtog wat vroeër vanjaar van stapel gestuur is nadat Hofmeyr aangedui het dat hy die politiek sal betree as hy ’n miljoen ondersteuners kan werf.
Volgens MSVStereo se Facebookblad is die radiostasie daarop gerig om die fokus “terug te plaas op die belangrike rol van die Afrikaner in Suid-Afrika” .
Hofmeyr was Dinsdag die eerste gas en het op Facebook oor sy besoek vertel.
Hy het benadruk dat MSVStereo outonoom is en nie noodwendig namens hom praat nie.
“Hul belangrikste bydrae was om my ’n mandaat te gee om te mag praat namens meer mense as net een: myself.”
Hy verwys daarna as “maklik van die grootste onlangse mobiliserings van ‘mense wat soos ons dink’ ”.
Die poging tot ’n miljoen stemme ter ondersteuning van Hofmeyr staan nou reeds oor die 205 000 sterk.
“Hulle vertrou my omdat hulle my leer ken het oor dekades, nie as beterweterige moralis nie, maar as gewone sterfling met kulturele beginsels en behoeftes. En hulle is gemaklik daarmee dat ek dit dan 9 uit 10 keer akkuraat verwoord.”
Intussen het Hofmeyr se jongste album, If you could read my mind, slegs drie weke na uitreiking platinumstatus bereik.
By die publikasietyd van hierdie berig het Hofmeyr nog nie op ’n e-posnavraag gereageer nie.