Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Net een ‘vader van VS-krieket’

Ewie Cronjé (80) wat gister oorlede is, laat diep spore in Vrystaatse sport, veral krieket. Hier volg sy sportverhaal soos hy dit in 2001 met sy uittrede uit die bestuur van die Vrystaatse Krieket-unie, aan Cobus Claassen, sportverslaggewer destyds by Volksblad, vertel het. 

Ewie Cronjé en Corrie van Zyl in Junie 2012 ten tyde van Krieket SA se amateurtoekennings in Sandton, Johannesburg. Volgens Cronjé was die kontrakte wat destyds met Van Zyl en Allan Donald gesluit is en die verskil wat hulle op die veld gemaak het, van die hoogtepunte in sy tyd by die Vrystaatse Krieketunie. Foto: Gallo Images

Ewie Cronjé kan tereg as die vader van Vrystaat-krieket gereken word. Hy het vier dekades lank lojale diens gelewer en ’n reuse-rol­ daarin gespeel om krieket in die provinsie te kry waar dit is.

Cronjé het nie net in krieket nie, maar in verskeie ander sportsoorte, soos rugby en tennis, diep spore getrap. Hy is ongetwyfeld een van die veelsydigste sportlui wat dié provinsie opgelewer het.

Cronjé vertel graag hoe hy as student op een Saterdag aan vier sportsoorte moes deelneem. Hy het daardie jaar vir die Kovsies se eerste rugby- en krieketspanne gespeel en was ook die Universiteit van die Vrystaat (UV) se voorste tennis-, tafeltennis- en muurbalspeler.

Hy erken tennis was sy voorkeursport, maar ’n mens kan steeds nie sy rol as krieketspeler en administrateur genoeg beklemtoon nie.

Hoogtepunt as krieketspeler

“Ek het in 1946-’47 die eerste keer met krieket kennis gemaak tydens ’n klubwedstryd op Springfontein se veld (sy pa het by Springfontein geboer).

“David Marks, eienaar van die hotel op Springfontein, het ons na die wedstryd genooi. Ons het nog nie ’n kolf gehad nie, maar menige wedstryde is op die plaas teen die motorhuis se muur gespeel – ons het die bal maar weggeskop pleks daarvan om die wilgerlat in te lê. Ons het wel later ’n kolf gekry,’’ sê hy glimlaggend.

Ek het in die wedstryd 70 onoorwonne lopies aangeteken en het ook ’n boulontleding van 25-12-44-3 behaal.

Cronjé het in 1951 na Grey-kollege in Bloemfontein gekom en het reeds in st. 7 vir die eerste krieketspan gespeel.

Hy is die volgende drie jaar in die Vrystaatse Nuffieldspan ingesluit en het ook die span die laaste twee jaar aangevoer.

In die 1960-’61-seisoen maak hy as student aan die UV sy debuut vir die Vrystaat teen Natal in Pietermaritzburg.

Meer as ’n dekade later dwing ’n rugbesering hom om in Desember 1971 sy laaste wedstryd vir die Vrystaat teen Grens te speel.

Cronjé het die Vrystaat in sowat­ tien wedstryde aange-voer. Sy hoogtepunt as krieketspeler?

“Die Vrystaat se wedstryd teen die 1966-’67-Aussie-toerspan van Bobby Simpson op Ramblers was vir my baie spesiaal. Ek het in die wedstryd 70 onoorwonne lopies aangeteken en het ook ’n boulontleding van 25-12-44-3 behaal.’’

Vrystaat groei

Cronjé het in 1965 as onderwyser aan Grey-kollege die eerste keer in die Vrystaatse krieket-komitee gedien.

Hy was in dié tyd ook Vrystaatskole-keurder, bestuurder van die Nuffieldspan, asook Suid-Afrikaanse universiteitekeurder.

In 1969 het hy hom by die Kovsies as sportorganiseerder aangesluit en oor dekades heen baanbrekerswerk by die sportburo verrig.

“Nadat ek in 1965 die eerste keer in die Vrystaatse krieketkomitee gedien het, was ek ’n paar jaar lank – in die jare sewentig – weens rugby en ander verpligtinge, nie so betrokke nie.’’

In 1977 het Cronjé weer in die komitee begin dien totdat die laaste hoofstuk in die boek oor dié groot gees van Vrystaat-krieket in 2001 afgesluit is.

Hy was president van die unie van 1983 tot 1990 en het van 1987 tot 1993 ook in die bestuur van die Suid-Afrikaanse Krieketunie gedien.

Cronjé praat graag oor die Vrystaat se groei van die spannetjie wat in die B-afdeling meegeding het tot die span wat in die jare negentig Suid-Afrikaanse krieket oorheers het.

Keerpunt

“Die tydperk van 1983 tot 1990 was van die opwindendste jare van Vrystaat-krieket. Ek kan nog onthou hoe spelers in die 1983-’84-seisoen R120 vir die seisoen betaal is en die unie het die seisoen met R36 000 in sy rekening afgesluit.

“Die kontrakte wat met Corrie van Zyl en Allan Donald gesluit is en toelating tot die A-afdeling was alles hoogtepunte.”

Volgens Cronjé het Kelly Tyres (nou Goodyear) se borgskap van R250 000 oor drie jaar in 1987 ’n keerpunt in die geskiedenis van Vrystaat-krieket gebring.

“Ons kon toe oorsese beroepspelers soos Sylvester Clarke, Allan Lamb en Alvin Kallicharan vir die Vrystaat bekom, ’n heeltydse kantoor inrig (1987) en ook ’n afrigter, Mike Proctor, hierheen bring. Bogenoemde het ’n groot rol gespeel en dit was die begin van iets groots.

“Die bou en inwyding van Springbokpark op 20 September 1989 asook die wen van die eerste Benson & Hedges-trofee in die 1988-’89-seisoen is baie spe­siaal.’’

Die kontrakte wat met Corrie van Zyl en Allan Donald gesluit is en toelating tot die A-afdeling was alles hoogtepunte.

Vir Cronjé was die Vrystaat se vertonings van 1991 tot 1996 ’n riem onder die hart omdat niemand harder as hy gewerk het om Vrystaat ’n krag in Suid-Afrikaanse krieket te maak nie.

“Ja, die Vrystaat het in dié tyd sewe bekers verower en hom onderskei as die voorste provinsiale span.

“Spelers soos Allan Donald, Hansie Cronjé, Franklyn Stephenson, Corrie van Zyl en Omar Henry was almal wedstrydwenners en het saam met spelers soos Bradley Player, Rudolf Steyn, Louis Wilkinson, Johan van Heerden en Mickey Arthur tot ’n briljante eenheid ontwikkel.”

Gaan Ewie Cronjé nog enigsins betrokke wees by Vrystaat-krieket?

“Vrystaat-krieket is, was en sal altyd ’n groot deel van my lewe wees. Ek wil graag nog betrokke wees, maar ek wil die klem verskuif na die spelers. Dit gaan op die ou einde oor die spelers op die veld.’’

Meer oor:  Ewie Cronjé  |  Bloemfontein  |  Vrystaat  |  Krieket  |  Sport  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.