Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Net Piet Byl kon'
Elize Human, ma van Sheldean Human.
Sheldean Human

Elize Human onthou presies die dag en datum toe haar sewejarige dogtertjie tien jaar gelede verdwyn het.

Sy onthou toe haar Sheldean se lykie dae later in ’n mangat gevind is.

Sy onthou dit was Piet Byleveld wat uiteindelik die verdagte, Andrew Jordaan, aan die praat gekry het.

Human is een van die vele mense op wie se lewe, ook in ’n tyd van seer, Byleveld ’n blywende indruk gelaat het.

Dié befaamde oudspeurder is gister net ná 12:00 ná ’n stryd teen kanker in die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort dood.

Die vervolging van Sheldean se moordenaar was een van die vele suksesverhale op Byleveld se kerfstok.

Sheldean het op 18 Februarie 2007 verdwyn.

Jordaan, wat aan die Human-gesin bekend was, is twee dae later in hegtenis geneem.

Hoewel dit sterk vermoed is dat hy die blondekoppie ontvoer en vermoor het, kon soekgeselskappe haar net nie opspoor nie.

“Ek weet hulle het op 5 Maart daardie jaar vir my gesê dié Piet Byleveld is ingeroep om te kom help, dat hy twee speurders, onder andere (lt.kol.) Mike van Aardt, saamgebring het.

“Ek is vertel dat hy Andrew ondervra het. En toe gaan wys Andrew vir Van Aardt en die ander speurder waar my Shel­dean se lyk is.

“Piet Byleveld het reggekry wat niemand anders kon nie.

“Die polisie het regtig alles gedoen, maar niemand kon uit ­Andrew kry waar my kind was nie. Ek sal altyd dankbaar wees dat hy by die saak betrokke geraak het, anders het ons dalk nou nog gesoek,” het Human gister gesê.

Jordaan is op 9 Junie 2008 lewenslank tronk toe gestuur weens die moord op Sheldean.

Hy is nog 33 jaar en drie maande tronkstraf opgelê omdat hy haar ontvoer en probeer verkrag het, haar maatjie onsedelik aangerand het en dagga in sy besit gehad het. Jordaan is in 2012 deur ’n medegevangene in die tronk vermoor.

Human het Byleveld eers ontmoet toe die hofsaak teen Jordaan destyds begin het.

“Piet het my vertel hy het met Andrew in ’n kantoor gaan sit, hom ’n sigaret aangebied.

“Hulle het saam gerook. Toe sê Andrew hy wil hom iets vertel en pak net daar uit.

Piet Byleveld (67) en sy tweede vrou, Elize, in 2011. Foto: Dawid Roux

“Ek dink Andrew het ’n soort heldeverering vir Piet gehad, dat hy hom probeer beïndruk het deur alles te vertel.”

In ’n mate verstaan Human dit, want sy onthou Byleveld as altyd ordentlik, so beleefd.

“Hy het so saggeaard oorgekom – hoewel ek twyfel of dit dieselfde was met die kriminele met wie hy te doen gekry het.”

Sy weet daar is mense wat nie dieselfde lof vir Byleveld het nie, dat daar onlangs nog “lelike stories” oor hom was.

“As ek aan hom dink, onthou ek ’n man wat altyd daarop uit was om die waarheid uit te kry op sy manier. Daarvoor sal ek hom altyd dankbaar wees.”

“Die Byl” se kollegas het gistermiddag in ’n huldeblyk gesê hy was ’n man wat nie kon rus totdat ’n saak opgelos en suksesvol deur die hof vervolg is nie.

Misdadigers sal hom onthou as die speurder met die sagte stem wat hulle uiteindelik in ’n hoek kon dryf met sy unieke ondervragingstegnieke, sê lt.genl. Deliwe de Lange, Gautengse provinsiale polisiekommissaris, in ’n verklaring. “Hy het altyd ’n uitsonderlike hoë suksessyfer gehandhaaf in die ernstige en gewelddadige misdaadsake wat hy ondersoek het.

“Dit (die suksessyfer) het hy toegeskryf aan eindelose geduld, asook geduld tydens die ondervraging van verdagtes,” lui die huldeblyk.

Longkanker is op 10 Maart by Byleveld gediagnoseer. Die kanker het na sy rugstring, byniere en lewer versprei.

Hanlie Retief, joernalis van Rapport en skrywer van die boek Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder, het die laaste onderhoud met hom voor sy dood gevoer.

“Hy het gesê hy sal nie sonder ’n fight gaan nie . . . Hy het tot die einde toe baklei,” sê Retief.

Retief het die onderhoud verlede Dinsdagmiddag gevoer kort voordat hy in die hospitaal opgeneem is. Sy kon agterkom hy ervaar baie pyn.

“Hy was verskriklik ongemaklik, maar hy wou nie ’n woord daaroor rep nie. Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om die laaste onderhoud met hom te kon voer.”

Byleveld het volgens haar “supersterstatus” behaal ná sy sukses in die moordsaak van Leigh Matthews. Byleveld het binne drie maande Donovan Moodley in 2004 in hegtenis geneem weens dié moord.

“Speurwerk was vir hom ’n roeping, nie net enige werk nie.

Speurwerk was vir hom ’n roeping, nie net enige werk nie.
Hanlie Retief, joernalis en skrywer van die boek "Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder"

“Hy het gereeld gesê hy wil die ongewenste uit die samelewing haal.

“Hy het by daardie slagspreuk geleef. Sy behoefte was om mense te dien.”

Byleveld se familie het by monde van Zelda la Grange, Nelson Mandela se jare lange persoonlike assistent, gesê: “Vir Suid-Afrika en die wêreld was Piet die baasspeurder. Vir ons was hy meer . . . hy was die beste man, pa, broer, oupa en vriend.

“Piet was omring deur sy naaste familie toe hy heengegaan het,” lui die verklaring wat La Grange uitgereik het.

Elize Byleveld, Piet se tweede vrou, het Maandag gesê baie van sy vriende en oudkollegas uit die Brixton-moord-en-roof-eenheid het verlede week en oor die naweek “uit hul pad gegaan om afskeid van hom te neem terwyl hy nog by sy bewussyn was”.

Byleveld het in 2010, ná ’n loopbaan van 38 jaar in die polisie, uitgetree.

Van die ondersoeke waarby die baasspeurder betrokke was, sluit in dié oor die reeksmoordenaars Cedric Maake en Lazarus Mazingane, die Nasrec-moordenaar.

Hy en Elize se private speurmaatskappy het in 2016 gesluit.

Meer oor:  Piet Byleveld  |  Hanlie Retief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.