Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Netbal se ras-herrie: stappe teen afrigter?

Netbal Suid-Afrika (NSA) besluit vandag of hulle teen ’n afrigter gaan optree wat ’n brief op sosiale media gedeel het waarin NSA verduidelik waarom haar netbalspan van hul halfeindpunte in die nasionale liga gestroop is.

Theresa Rossouw, afrigter van die Mpumalanga Sunbirds.

Theresa Rossouw het die brief verlede Dinsdag op haar Facebook-blad geplaas nadat haar span, die Mpumalanga Sunbirds, twee weke gelede in die eindronde verloor het omdat hulle te min wit spelers op ’n gegewe tyd op die baan gehad het in hul halfeindstryd in afdeling B van die nasionale liga teen KwaZulu-Natal se Kingdom Queens.

Rossouw het ook die brief waarin sy appelleer op Facebook gedeel.

Sy het albei briewe verwyder nadat Blanche de la Guerre, NSA se uitvoerende hoof, haar met tugstappe gedreig het.

“As (Rossouw) nie die brief verwyder nie, sal ons ’n dissiplinêre proses moet begin, want sy bring die organisasie daarmee in oneer en oortree die gedragskode wat al ons afrigters moes onderteken,” het De la Guerre ’n week gelede aan Rapport gesê.

Dit blyk nou NSA gaan haar dreigemente uitvoer.

De la Guerre wou Saterdag niks oor die aangeleentheid sê nie. “Dit sou voortydig wees om nou iets te sê. Ons vergader môre (vandag) met die partye. Kom ons luister voordat ons kommentaar lewer.”

‘Belaglike’ reëls rig skade aan hele sport.

Die Sunbirds is ná hul wedstryd van hul punte gestroop omdat daar 19 minute lank net een wit speler op die baan was.

NSA se reëls bepaal ’n span moet te alle tye ’n rasbalans van 5/2 of 4/3 handhaaf. Hulle is nie voorskriftelik oor watter ras beter op die baan verteenwoordig moet word nie. Die spanbestuurder, Maria Cato, monitor die span se rassesamestelling gewoonlik, maar sy is die vorige dag in die hospitaal opgeneem.

Die Sunbirds het die halfeindstryd teen die Queens met 43-42 gewen.

Hulle het kort ná die wedstryd gehoor hulle word van hul punte gestroop, wat beteken hulle het die wedstryd met 42-0 verloor en sou vir die derde of vierde plek uitspeel.

  • Die vakbond Solidariteit dreig nou in ’n brief om NSA hof toe te sleep tensy hy sy “diskriminerende en rasgereguleerde” reëls onttrek wat daartoe gelei het dat die Sunbirds hul punte verloor.

Solidariteit het sy brief eergister vir Cecilia Molokwane, president van NSA, en De la Guerre gestuur.

Die reëls verwys na die nasionale demografie en provinsies se demografie, maar dit is onduidelik hoe dit toegepas moet word om ’n rasbalans van 5/2 of 4/3 te handhaaf, lui die brief. Solidariteit sê die reëls is niks anders nie as ’n wispelturige en arbitrêre kwotastelsel wat op ’n irrasionele wyse gebruik is om ’n sportspan van hul welverdiende oorwinning te ontneem.

Volgens Solidariteit is die reëls nie net ongrondwetlik nie, maar ook teenstrydig met internasionale sportliggame soos die Internasionale Netbalfederasie (INF) se regulasies oor diskriminasie.

Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, sê die reëls is verstommend belaglik. “Die idee dat rasseskeidsregters deurlopend verseker dat spanne ’n kunsmatige en onregverdige rassekwota tydens wedstryde moet handhaaf, is heeltemal teenstrydig met internasionale norme en moreel afskuwelik by uitstek.”

Hy sê die reëls benadeel nie net sekere groepe nie. “Alle spelers, afrigters en uiteindelik die hele sport ly skade weens hierdie onregverdige reëls.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Netbal Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.