’n Helikopter van Netcare 911 wat Donderdagmiddag in KwaZulu-Natal neergestort het, het “in stukke gebreek” enkele oomblikke voordat dit neergestort het.
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het Donderdagaand aan Netwerk24 gesê die ongeluk het om 14:10 naby Winterton en Colenso in die Bergville-omgewing gebeur.
“Die helikopter wat vyf mense aan boord gehad het, het in die lug in stukke gebreek, neergestort en toe ontplof. Hulle is almal op die toneel dood. Die voorval word deur die owerhede ondersoek,” sê Mbele.
Netcare het die name van die oorledenes in 'n verklaring bevestig.
Hulle is: dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, chirurg, en Mpho Xaba, 'n spesialis-teaterverpleër. Hulle was verbonde aan die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Die ander oorledenes is Sinjin Joshua Farrance, paramedikus van Netcare 911, en Mark Stoxreiter, die vlieënier.
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het Donderdagaand bevestig dat die BLO die ongeluk reeds ondersoek.
“Die BLO is Donderdag ingelig oor die helikopterongeluk en beamptes is gestuur om ondersoek te gaan instel,” sê Ledwaba.
Vroeër is berig dat Netcare 911 omstreeks 13:00 nog getwiet het dat sy Netcare 1-noodhelikopter ’n pasiënt tussen hospitale vervoer.
Craig Grindell, besturende direkteur van Netcare 911, sê hulle is diep geskok en bedroef.
“Ons innige simpatie met die families van ons kollegas wat in die Netcare 1-lugambulans was.”
Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sê in 'n verklaring “daar heers ’n stilte in Netcare. Ons buig ons hoof in respek, liefde en herinnering aan ons kollegas wat helde in die voorste linies was. Daar is nie woorde om ons verlies te beskryf nie”.
Intussen stroom boodskappe van skok en medelye op Netcare 911 se Facebook-blad in.
Michelle Loftus skryf haar gedagtes en gebede is by Netcare 911 se hele helikopterspan. “My diepe meegevoel aan die paramedici en vlieënier.”
’n Kollega skryf “Ons harte is gebreek, ons kollegas en vriende sal altyd in ons harte wees.”
Khaya Mwelase skryf “Dit was goeie mense. Ons kollegas. Geweldig geskok!”
Dorinka Nel beskryf die gebeure as “absoluut tragies”, terwyl Leon Crause sy meegevoel met die oorledenes se families en kollegas by Netcare betuig.