Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Netwerk24 koop sy eie woord

Die woord “Netwerk24” behoort nou eksklusief aan die nasionale nuuswebtuiste Netwerk24.

Dit het amptelik geword toe Willem Botha, die redakteur van die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT) Vrydag ’n sertifikaat aan Henriëtte Loubser, Netwerk24-redakteur, in Kaapstad oorhandig het.

Netwerk24 ontvang die sertifikaat. Van links is Maryke Cumpsty (bestuurder: platform en kommersiële ontwikkeling), Kayla Alexander (sosialemedia-redakteur), Ané van Zyl (algemene verslaggewer), George Germishuys (redakteur: NetNuus), Johan Nel (digitale bemarkingsbestuurder), Willem Botha (redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal), Henriëtte Loubser (redakteur: Netwerk24), Theresa Olivier, (adjunkredakteur: Netwerk24) en Nadia Honiball (Netwerk24 nasionale nuusredakteur). Foto: Adrian de Kock

Netwerk24 het bygedra tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die woord ‘Netwerk24’ eksklusief te koop,” lui die sertifikaat.

Die WAT is die grootste beskrywende Afrikaanse woordeboek wat daarna streef om die Afrikaanse taal in sy geheel te weerspieël.

Die WAT bied die publiek die geleentheid om ’n woord te borg teen R100, of ’n woord te koop teen R5 000. Enigiemand kan enige woord koop of borg – dit hoef nie in die woordeboek te wees nie.

Die voorblad van die EWA Supplement.Foto: Takealot.com

Nie net Standaardafrikaans word in die WAT vervat nie, maar ook variëteite soos Kaaps en Namakwalands. Veertien volumes is reeds gepubliseer, met die 14de volume wat die eerste deel van die letter S bevat. Die WAT is ook beskikbaar as ’n CD en op die internet.

Botha sê die nuuswebtuiste Netwerk24 is ’n belangrike bron van inligting vir die WAT, wie se leksikograwe soveel moontlik beskikbare teks in Afrikaans bestudeer om woorde te definieer.

Die berigte wat op Netwerk24 verskyn, word ook só bestudeer en definisies van woorde word geïllustreer met werklike voorbeelde.

Botha sê mans is baie lief daarvoor om vir hul vroue woorde te gee as geskenke. “Voorbeelde van die woorde wat hulle koop, is ’n woord soos ‘sagmoedig’,” sê hy. Die woord ‘jammer’ is egter nog beskikbaar.

Die woord ‘springbokke’ is ook nog beskikbaar. Die WAT bevat ook alle Afrikaanse vloekwoorde, en dié is vanselfsprekend ook beskikbaar om te koop. Die omstrede musiekgroep Die Antwoord het reeds aanspraak gemaak op die p-woord, sê Botha.

* Om ’n woord te koop of borg: Stuur jou betalingsbewys saam met jou woord of woorde, e-posadres en telefoonnommer na wat@sun.ac.za, of aan die WAT Trust, Posbus 245, Stellenbosch 7599. Jy kan ook ’n elektroniese betaling maak deur na www.wat.co.za te gaan en op Borg ’n Woord te klik. Vind die WAT se rekeningbesonderhede ook op dié webblad.

Die WAT, wat vanuit Banghoekweg in Stellenbosch bedryf word, het ook ’n Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) saamgestel. Dié woordeboek gee besonderhede oor die herkoms van woorde.

Die eerste uitgawe van die EWA, wat in 2003 verskyn het, het meer as 8 000 trefwoorde ingesluit, maar daar is nog baie Afrikaanse woorde wat volgens die WAT-span etimologiese beskrywing verdien.

Om dié leemte aan te vul is ’n gedeelte van daardie ontbrekende woorde in die EWA Supplement ingesluit.

Die EWA Supplement bevat meer as 2 300 nuwe trefwoorde wat sorgvuldig gekies is om die ryk, multikulturele oorsprong van Afrikaanse woorde te illustreer, lui die WAT se webtuiste.

Lesers sal ’n goeie aanduiding kry van wat sedert 1652 met die Nederlandse woordeskat in Suid-Afrika gebeur het, en ook van dít wat Afrikaans sonder die toedoen van Nederlands bygekry het.

Die elektroniese weergawe van die EWA op CD-ROM is in 2015 bekend gestel en is ten opsigte van die inhoud daarvan ’n faksimilee-weergawe van die gedrukte EWA en EWA Supplement.

* Is jy nuuskierig oor die herkoms van ’n woord? Sê vir ons watter woord dit is in die kommentaarafdeling onderaan dié berig, en ons sal Botha vra om jou woord se herkoms te verduidelik. Stuur alternatiewelik ’n e-pos met jou woord na sosialemedia@netwerk24.com.

Meer oor:  Netwerk24  |  Wat  |  Willem Botha  |  Borg 'N Woord  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.