Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG dominees sal by moskee gaan bid vir Sri Lanka

Mense van verskillende gelowe, insluitende Christene van ’n NG kerk in Kaapstad, sal Sondag by ’n Moskee in Kaapstad bymekaarkom om te bid vir diegene wat hul lewe verloor het in die onlangse selfmoordbomaanvalle in Sri Lanka.

Ds. Riaan de Villiers, leeraar van die Groote Kerk in Kaapstad. Foto: Argief

Die Groote Kerk in Kaapstad, wat onlangs skerp gekritiseer is omdat hy deelgeneem het aan ’n nagwaak vir “heidene” (Moslems) wat in Nieu-Seeland dood is, sal ook deel wees van dié gebedsbyeenkoms wat by die Al-Azhar-moskee aan die Keizergracht, Distrik Ses, gehou word.

“Ons harte is stukkend oor die haat en duisternis van ons wêreld,” lui ’n inskrywing op die kerk se Facebook-blad oor die aanvalle in Sri Lanka waarin meer as 350 mense dood is.

“Ons treur, bid en staan saam met ons broers en susters in Sri Lanka. Ons steek kerse aan, ons stuur ’n simbool van lig. Dit is ’n klein gebaar in ’n oorvloed van seer.”

Voorheen is dié NG kerk en sy leraar, ds. Riaan de Villiers, gekritiseer omdat daar na Moslems as “broers en susters” verwys is.

De Villiers sê dit pla hom nie dat sekere mense dalk weer krities oor hierdie nagwaak sal wees nie.

“Ons wil doen wat ons glo reg is in ’n tyd van verdeeldheid en identiteitspolitiek. Ons wil hande vat en brûe bou en ’n land en toekoms skep waarin ons kinders te midde van verskille in vrede kan saamleef,” sê De Villiers.

Hy sê ook ds. Nelis Janse van Rensburg, die NG Kerk se moderator, sal ’n spreekbeurt kry op die geleentheid Sondag.

Janse van Rensburg het Maandag in sy persoonlike hoedanigheid op Facebook geskryf dat hy ook bid vir die naasbestaandes van almal wat dood is in die aanvalle.

“Die NG Kerk het ’n lang verbintenis met die mense van Sri Lanka. Tydens die Vryheidsoorlog aan die begin van die 20ste eeu is talle Boerekrygers daar in konsentrasiekampe aangehou. Ons voortgesette verhouding met die Reformed Church in Sri Lanka is ’n lewende getuienis van ons omgee en verbintenis tot die mense van dié eiland,” het hy op Facebook geskryf.

Die geweld in Sri Lanka, na aanleiding van verlede maand se aanvalle op moskees in Nieu-Seeland, beoog om ’n siklus van geweld in beweging te bring. Ons reageer eerder met liefde en deernis.

Janse van Rensburg het bevestig hy gaan by die nagwaak wees omdat hy glo dat dit baie belangrik is dat goeie verhoudings tussen geloofsgemeenskappe behou moet word, veral wanneer spanning so hoog loop tussen geloofsgemeenskappe die wêreld oor.

Vir Sheikh Ismail Keraan van die Al Azhar-moskee is die geleentheid ’n oproep tot aksie vir die mense in Kaapstad.

“Die afgryslikheid van hierdie dade verdiep namate meer besonderhede aan die lig kom,” sê Keraan in ’n verklaring.

“Die geweld in Sri Lanka, na aanleiding van verlede maand se aanvalle op moskees in Nieu-Seeland, beoog om ’n siklus van geweld in beweging te bring. Ons reageer eerder met liefde en deernis,” sê Keraan.

Godsdienstige en gemeenskapsleiers sowel as die algemene publiek word aangemoedig om die geleentheid by te woon, sê Keraan.

Intussen het honderde Moslems Woensdag uit die dorp Negombo in die weste van

Sri Lanka gevlug uit vrees vir vergelding nadat die selfmoordbomaanvallers as Moslems geïdentifiseer is.

Honderde Moslems het uit die dorp gestroom nadat plaaslike Sri Lankaanse inwoners hulle met geweld gedreig het.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Ds. Riaan De Villiers  |  Sri Lanka  |  Kaapstad  |  Moskee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.