Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk: Alles of niks
Dis die Bybel vs. die Grondwet in die stryd van Benoni

Die dekade lange stryd oor die regte en voorregte van gay lidmate van die NG Kerk word hierdie week op die spits gedryf op die kerk se algemene sinode wat vandag in Benoni begin.

Bouwer Bosch

Gemeentes gekant teen gayhuwelike dreig om die kerk te verlaat as die kerk ’n vorige besluit wat gays volle regte gee, nie herroep nie.

Dit is egter ook moontlik dat die vergadering bloot tot ’n voortsetting van die lae-intensiteitoorlog sal lei, ongeag watter kant die oorhand kry.

Die groot twispunt is ’n besluit van die algemene sinode in 2015 dat elke gemeente self kan besluit of hulle gay verhoudings erken, gay lidmate aanvaar, gay paartjies trou of gay predikante aanstel. Dit is destyds gesien as die bes moontlike kompromie om albei opponerende kampe binne die Nederduits Gereformeerde tent te hou.

Die besluit het egter gelei tot ’n onverkwiklike geveg waarin die 2015-besluit eers deur ’n buitengewone algemene sinode ter syde gestel is. Die besluit is deur sommige lidmate in die hof betwis, waarna ’n volbank van die hooggeregshof in Pretoria in Maart vanjaar bevind het dat die proses wat gevolg is om die buitengewone sinode bymekaar te bring, teenstrydig met die kerk se eie reëls was én dat dit ongrondwetlik sou wees om gay lidmate die reg op ’n huwelik te ontsê.

Weens die hofuitspraak is die 2015-besluit nou die geldige beleidstandpunt.

“Dit lyk of diegene wat gekant is teen die 2015-besluit nou alles moontlik gaan probeer doen om dit van die tafel af te kry. Hulle besef as hulle dit nie nou stop nie, is hul kanse heeltemal verby,” het ’n predikant, wat nie geïdentifiseer wou word nie, aan Rapport gesê.

Gegriefde gemeentes wil die NG Kerk verlaat as gays enige regte kry, terwyl progressiewes volle regte vir gay lidmate eis. By die sinode is dit vandag . . .

Daaronder tel verskeie gemeentes – veral in die Vrystaat – waaronder sommige in geen onduidelike taal aangedui het dat hulle bereid is om weg te breek van ’n kerk wat gayhuwelike voltrek. Die ring van Heilbron in die Vrystaat is een van hulle en sê indien die 2015-besluit staan, dit die ring se “verhouding met die algemene sinode in gedrang (sal) bring”.

Die Bethal-Moedergemeente sê in ’n brief wat in Junie gestuur is dat hulle ’n “dolerende (ontevrede) gemeente is, solank as die 2015-besluit van die sinode staan”.

Die kamp ten gunste van die 2015-besluit veg ewe hard en het Vrydag ’n ope brief en ’n regsmening aan die kerk gerig waarin gewaarsku word dat enige besluit waarvolgens gay lidmate nie in al die voorregte van kerklidmaatskap deel nie, ongrondwetlik is en sal neerkom op minagting van die hof se bevinding.

Die brief is onder meer deur die voormalige Wes-Kaapse premier Helen Zille, die sanger Bouwer Bosch, die teoloog Christina Landman en die akteur Deon Lotz onderteken.

Die groep skryf: “Die Bybel praat nêrens oor seksuele oriëntasie as sodanig nie. ‘Homoseksualiteit’ is nie ’n Bybelse term nie, maar dateer uit die 19de eeu. Dit is ons oortuiging dat, soos ’n heteroseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie sonde is nie, so is ’n homoseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie ’n sonde nie. En soos ’n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, so is ’n morele homoseksuele leefwyse nie sonde nie.

Prof. Christina Landman

“Ons aanbid ’n God van liefde en van geregtigheid. Waar daar haat en onreg is – tussen en teenoor rasse, geslagte, nasies, heteroseksuele en homoseksuele mense – is God bedroef. Alle mense is na God se beeld gemaak en ’n kerk, veral ’n kerk, moet elke vorm van onreg afwys.”

Hulle sê enige besluit wat nie gays gelyke behandelinge binne die kerk gee nie, is nie net in stryd met die Grondwet nie, “maar in elke opsig ook teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod”.

In die regsmening wat ook by die brief aangeheg is, maan adv. Jeremy Gauntlett SC, een van die mees gerespekteerde advokate in die land, die kerk dat enige poging om die 2015­besluit ongeldig te probeer verklaar, die regsbeginsel van res judicata verbreek waarvolgens ’n saak nie verder gevoer kan word waaroor ’n hof reeds ’n bevinding gemaak het nie.

Die behoudendes hou aan die ander kant vol dat die kerk se reglement van orde nie nagekom is toe die 2015-besluit geneem is nie. Indien dié betoog slaag, word die besluite wat in 2007 geneem is weer geldig. Destyds het die kerk besluit dat gay persone slegs tot kerkampte toegelaat sal word indien hulle selibaat is. Verder beskou die kerk net die verhouding tussen een man en een vrou as ’n huwelik.

Daar is ook 82 gravamina (beswaarskrifte) wat vra dat die inhoudelike aspekte van die 2015-besluit weer oorweeg moet word.

Die minste wat ons kan doen, is om ruimte te maak vir sinodes en gemeentes wat aan alle mense die vryheid wil bied om Hom met oortuiging te dien, sonder dat hulle hul diepste menslike identiteit hoef te ontken.

Die sinode van Wes-Kaapland vra op hul beurt dat die algemene sinode kerkrade se reg moet eerbiedig om self gesprekke oor selfdegeslagverhoudings te voer en dat seksuele oriëntasie en identiteit soos in die geval van ras en geslag geen rol mag speel wanneer ampsdraers aangewys word nie.

In ’n poging om die Wes-Kaaplandse voorstel te neutraliseer, beweer dr. Johann (Tokkie) Ernst, ’n voormalige aktuarius van die algemene sinode, egter in ’n brief van 12 bladsye dat die Wes-Kaaplandse sinode “kerkregtelike ongerymdhede” gepleeg het in die wyse waarop sy beskrywingspunt by die kantoor van die algemene sinode ingedien is.

Dr. Frits Gaum, een van die 12 litigante wat vroeër suksesvol die kerk gedwing het om terug te keer na die 2015-besluit, sê regstegniese argumente kan nie gebruik word as ’n manier om weer teen gay lidmate te diskrimineer nie. “Al gooi hulle die 2015-besluit uit, is hulle steeds verplig om ’n besluit te neem waar gay lidmate aan alle gebruike sal kan deelneem soos ’n siviele verbintenis of die beklee van alle kerkampte.

“Enige ander besluit sal aanvegbaar wees in die howe,” sê hy.

Dr. Frits Gaum

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinodale moderamen, hoop ook dat die algemene sinode die gesprek “vorentoe sal neem” en nie weer vasval in regstegniese argumente “wat geen antwoorde bied op mense se legitieme vrae nie”.

“Die minste wat ons kan doen, is om ruimte te maak vir sinodes en gemeentes wat aan alle mense die vryheid wil bied om Hom met oortuiging te dien, sonder dat hulle hul diepste menslike identiteit hoef te ontken,” sê hy.

Die stryd oor die gaykwessie gaan waarskynlik ook na die leierskapstryd oorspoel.

Die sinode kies vandag die nuwe moderator van die algemene sinode en ander ampsdraers.

Sowel Janse van Rensburg as ds. Dirkie van der Spuy (tans assessor van die algemene sinode) het hulle weer vir senior posisies verkiesbaar gestel. Daar is egter ook ander sterk kandidate soos dr. André Bartlett, moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, en dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die sinode in die Vrystaat. Van dié vier is net Van der Spuy ’n teenstander van die 2015-besluit.

* Lees meer in Stemme hieroor.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Gay Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.