Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk besin van voor af oor gays

Die NG Kerk se Algemene Sinode het sy besluit oor selfdegeslagverhoudings nietig verklaar.

Dit beteken hy moet van voor af met ’n proses begin om sy standpunt hieroor te formuleer.

192 afgevaardigdes is in Benoni, Gauteng, besig met ’n spanningsvolle gesprek oor hierdie brandpunt op die agenda van die kerk se 17de vergadering van sy Algemene Sinode.

Die vergadering het Dinsdagaand ’n ordemosie deur ds. Christo van Vuuren aanvaar waarin hy vra dat die besluit wat op die sinodesitting in 2015 geneem is, op grond van prosedurele foute ongeldig verklaar word. Dié besluit het behels dat kerkrade self kan besluit of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies in die huwelik sal verbind, of gay predikante sal aanstel.

Van Vuuren se mosie is aanvaar.

Die 2015-besluit is in 2016 op ’n buitengewone sinodesitting omgekeer. In ’n hofsaak tussen die kerk en van sy lidmate het die hof egter gelas dat dié 2016-besluit nie grondwetlik is nie, en dit is tersyde gestel. Die 2015-besluit het dus weer gegeld.

Dr. Dewyk Ungerer, aktuarius van die kerk, het vroeër verduidelik dat as die besluit van 2015 nietig verklaar word, die sinode ’n ander beskrywingspunt oor selfdegeslagverhoudings ter tafel kan lê.

Die gesprek in Benoni hieroor duur voort.

KAS:

Alternatiewe voorstel vir 2015-besluit

Die volgende beskrywingspunt deur die sinode van die Wes-Kaap word nou as ’n alternatief vir die 2015-besluit oorweeg:

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot ’n dooiepunt gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.

2. Die sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die

belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar dat dit eerder verryk en verdiep word.

3. Die sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skepping van gespreksruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 Hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 Nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie; en

4.3 Daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hul eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan om met die aanwysing van persone in die ampte, die volgende oor die lidmate in ag te neem:

6.1 Die doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe.

6.2 Toegang tot die sakramente.

6.3 Integriteit van verhoudings.

6.4 Geskiktheid vir die spesifieke rol ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. Met die legitimasie van teologiese studente moet die volgende rakende die studente in ag geneem word:

7.1 Doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe.

7.2 Toegang tot die sakramente.

7.3 Integriteit van verhoudings, en

7.4 Teologiese en bedieningsvorming ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 Kerkrade en predikante is wat nie hul weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie.

8.2 Dat daar ook kerkrade en predikante is wat wel hul weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word om volgens hul oortuiging op te tree, bevestig.

10. Die Algemene Sinode laat dit dan aan Atlas (die Algemene Sinode se Taakspan oor Leer en Aktuele Sake) oor om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van

burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

11. Die Algemene Sinode:

11.1 Betreur dit dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar

en seergemaak het.

11.2 Vra dat gay lidmate en hul families wie se menswaardigheid wetend of onwetend misken is, uitdruklik om verskoning gevra word vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 Verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimte te skep vir gesprekke waarin almal

se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe

gesprekke in die kerk.

12. Die Algemene Sinode dra dit aan Atlas op om voort te gaan met navorsing oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoering daaroor aan die volgende sinodesitting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.