Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk en gays: Berispe taakspan, vra 12 litigante

Regstellings:

Hierdie berig het vroër gesê die 12 litigante het gevra die sinode moet die taakspan berispe omdat hulle voortgegaan het met die hofsaak. Hulle vra egter dat die taakspan berispe moet word, omdat hulle voortgegaan het met die interne appélproses ten spyte van oorweldigende regsopinie daarteen.


Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, glo nie dit gaan help om diegene te “straf” wat verlede jaar hof toe is om te keer dat gay-huwelike in die kerk bevestig word nie.

Hulle moet eerder vergewe word.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk.

“Ons het nodig om met wedersydse begrip en respek met mekaar op reis te bly. Blamering en straf is nie die kerk se voorkeurmetodiek nie. Vergifnis is wel,” sê hy.

Die 12 litigante in die hofsaak oor die gay-kwessie het lede van die moderatuur Maandag vir drie uur op Stellenbosch ontmoet.

Die 12 is dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van Kerkbode, asook Laurie Gaum, Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen, ds. Pieter Oberholzer, Judith Kotzé, adv. Leon Wessels, dr. Murray Coetzee, dr. Nadia Marais, dr. Chris Jones, prof. Hendrik Bosman en Michelle Boonzaaier.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Maart eenparig in die guns van dié lidmate beslis in hul twis oor gay huwelike in die kerk.

Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit in 2016 tersyde gestel waarmee ’n vorige besluit in 2015 ten gunste van huwelike herroep is nie; die hof het ook bevind dit is onregmatig om gay-lidmate die huwelik te ontneem.

Die 12 het Maandag gevra dat die algemene sinode die algemene taakspan: regte by sy sinodevergadering in Oktober berispe omdat hulle voortgegaan het om die appélproses teen die 2015-besluit van die algemene sinode te hanteer ten spyte van die oorweldigende regsopnie daarteen.

Die volgende sinodevergadering word van 7 tot 11 Oktober in Benoni gehou.

Hulle wys daarop dat ds. Thijs van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam, regsadvies dat die taakspan nie die appèlproses moet hanteer nie as ongetoetste opinies" beskryf het.

“Die hooggeregshof se uitspraak toon egter dat die ‘ongetoetste opinies’ presies in die kol was en dat die appèlliggaam ernstig fouteer het deur nie daarna te luister nie en dat hulle die kerkorde heeltemal verkeerd verstaan het.”

Die 12 applikante sê die hooggeregshof was korrek om te bevind dat daar onregmatig teen gay-lidmate gediskrimineer is. Die diskriminasie was egter nie net in stryd met die Grondwet nie, “maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde”.

“Die ‘wêreldse hof’ se uitspraak verwoord die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al sy lidmate: dit moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit.”

Die 12 lede sê indien die algemene sinode weer besluite sou neem wat op onbillike diskriminasie neerkom, dit op minagting van die hof sal neerkom.

“Die kerk moet daarop bedag wees om nie nuwe strukture van uitsluiting te skep nie, maar bly besin oor hoe om radikale inklusiwiteit te beliggaam.”

Hulle glo gay-lidmate is ernstig benadeel deur die besluit om die 2015-besluit ten gunste van gay-huwelike op te skort.

“In die proses is daar in werklikheid wederregtelik ’n kerklike ‘halt!’ uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en spesifiek oor die bediening van afgestudeerde en in sommige gevalle gelegitimeerde gay- en lesbiese predikante.”

Die lede glo:

  • Die sinodevergadering moet kyk na maniere om alle lidmate wat nie heteroseksueel is nie, insluitend gay-mans, lesbiërs, biseksuele mense, transgender-lidmate en interseksueles (LGBTQI+) te betrek;
  • Gay-mense kan help om ’n meer lewegewende geloofsgemeenskap te skep;
  • LGBTQI+-mense moet hul plek in kerkrade, taakspanne en sinodes inneem;
  • Die algemene sinode behoort te help om geld te voorsien “sodat bekwame LGBTQI+-lidmate gemeentes kan besoek met die opdrag om leiers in die gemeentes te begelei en op te lei ten opsigte van genderdiversiteit en sensitiwiteit”.

Van Rensburg sê hy stem saam met die groep dat daar by die algemene sinode se vergadering oor die teologiese en tegniese geldigheid van die 2015-besluite beslis moet word. Hy sê die algemene sinode sal wel volgens “sy eie oortuiging besluite moet neem”.

“Ons sal daarom eers moet sien wat die uitkoms van die besluitnemingsprosesse is voordat ons kan bepaal watter prosesse daarna gevolg moet word.

“Dit is belangrik dat die algemene sinode nou op ’n korrekte manier sy besluite neem waarin hy sy oortuigings oor hierdie aangeleentheid duidelik stel. Die sinode het al dikwels in die verlede verskoning gevra aan diegene wie se menswaardigheid in die gang van die gesprek in gedrang gekom het.

“Waar hulp nodig is, of regstelling, sal dit plaaslik moet geskied. Gemeentes sal ook moet uitreik na gelowiges wat vervreem is deur besluite van die kerk oor hierdie aangeleentheid,” sê Janse van Rensburg.

Meer oor:  Laurie Gaum  |  Nelis Janse Van Rensburg  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.