Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk ‘gaan skeur’
Regstelling
'n Foto van ds. Jan Louw het voorheen verkeerdelik onder die naam van ds. Theo Danzfuss by hierdie artikel verskyn. Dis intussen verwyder. 

’n Skeuring in die NG Kerk oor die kwessie van gay-huwelike lyk onafwendbaar, met leraars en lidmate van verskeie gemeentes wat openlik daarvoor begin voorbrand maak.

Ds. Willem Badenhorst
Ds. Norma Rossouw

Die twee teologiese stromings in die kerk oor selfdegeslagverhoudings “is soos ’n huwelik wat op die rotse is. Die oplossing is maar eintlik soos daardie huwelik waar die pad van hierdie twee... op die een of ander manier gaan skei,” het Pieter Breytenbach, bedryfshoof van die NG Kerk se grootste gemeente, Moreletapark, verlede Donderdag op ’n vertroulike vergadering aan lidmate en predikante van beswaarde gemeentes gesê. Rapport is in besit van ’n opname van die vergadering wat op Zoom gehou is.

Die vergadering was tussen lede van die Moreleta Kairos Netwerk (MKN), waar Breytenbach terugrapporteer het oor gesprekke tussen ’n werkgroep van die MKN en die kerk se algemene sinodale moderamen (ASM) oor die gay-kwessie op 19 November.

Die MKN is in Februarie van stapel gestuur en bestaan uit sowat 60 dolerende gemeentes wat almal sterk gekant is teen ’n vroeëre kerkbesluit om gay-huwelike te voltrek, omdat hulle glo dit in stryd is met wat die Bybel sê.

Die openlike wyse waarop die beswaardes oor kerkskeuring op dié vergadering gepraat het, het as ’n groot skok vir kerkleiers gekom.

Ons gaan terug na ’n tyd van sensuur vir dié ouens.

“Dit is baie ernstig. Dit is duidelike skeurmakery,” het een senior kerkleier aan Rapport gesê nadat die koerant die opname vir hom gespeel het.

“Dit is mense wat aan die een kant (vir kerkleiers) sê hulle soek oplossings, maar hulle beplan terselfdertyd ’n strategie om die kerk te skeur.”

Hy meen onder dié omstandighede kan die gesprekke tussen die beswaardes en die ASM om ’n oplossing vir hul geskille te vind nie meer voortgaan nie. Hy het met Rapport gepraat op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie.

Destyds, ná hul vergadering met die ASM, het die MKN-werkgroep die gesprekke in ’n verklaring as “positief” en “ ’n tree in die regte rigting” beskryf. Uit die opname in Rapport se besit blyk dit nou dat die behoudendes dié gesprekke allermins as “positief” beskou.

Breytenbach sê onder meer dat hulle (die MKN) nie daarin belangstel om hulle met die “ander stroming” te vereenselwig nie. Hy sê alhoewel hulle by die ASM aangedring het op ’n spesiale sinodesitting om weer gay-huwelike ongeldig te laat verklaar, meen hulle heimlik dat so ’n sitting geen oplossing gaan bring nie.

Pieter Breytenbach
Pieter Breytenbach
Ds. Nelis Janse van Rensburg
Ds. Nelis Janse van Rensburg

“Dit gaan maar net weer die bal aan die rol sit. Daar gaan net weer ’n geveg wees.” Hy sê dit gaan nie help om hande te vat met die ASM “en mekaar te omhels nie. Dit sal miskien gebeur as hulle tot bekering kom. Dan sal ons dit oorweeg.”

Daniel Louw, ’n voormalige lidmaat van die kerk, wou by Breytenbach weet “waarom ons nie meer eerlik en openlik is dat ons wil wegbreek nie”.

Breytenbach se antwoord daarop was dat hulle moet verseker dat “die koninkryk nie te veel skade kry nie”.

“Die regte roete is om dit deur die algemene sinode te doen. Die eerste wegspring is om dit op ’n vreedsame wyse te doen sonder om in ’n bal van bakleiery betrokke te raak.”

Hy sê die uitdaging is om kerkskeuring te bewerkstellig sonder om “goed soos beroepbaarheid, geboue, pensioenfondse en al daardie goed” in gedrang te bring.

Ná Breytenbach se spreekbeurt het ds. Willem Badenhorst, ’n leraar by Moreletapark, verduidelik hoe ver die groep al is met hul planne vir kerkskeuring.

“Moet asseblief nie dink ons trap water nie. Daar word reeds navorsing gedoen oor die aspekte waarvan Pieter gepraat het. Die prosesse is aan die gang. Ons het nodig dat julle agter ons inklim en saam met ons sal skrum.”

Badenhorst sê die werkgroep praat reeds met die Noordwes-Universiteit se teologiese fakulteit oor opleiding vir behoudende predikante.

Breytenbach sê dit gaan nie help om bestaande dosente met liberale neigings sover te kry om “terug te draai nie. Dit is waarom ons kyk om in terme van opleiding totaal iets nuuts te begin.”

Ds. Theo Danzfuss, nog ’n lid van die werkgroep, het gesê hulle moet druk plaas op diegene wat gay-huwelike ondersteun om die kerk te verlaat.

“Iemand moet van die wa afklim en ons wil hê húlle moet afklim. Dis miskien idealisties, maar dit is die feit van die saak.”

Henriëtta Klaasing, ’n afgetrede onderwyskundige, het gesê hulle moet soveel as moontlik lidmate met hulle saamvat.

“Daar is ’n massa mense wat glad nie bewus is wat aangaan nie. Ek noem hulle die oom Jannies en tannie Mollies, wat nie koerante lees nie en nie internet-geletterd is nie. Ons moet soveel as moontlik van hierdie mense saamvat.”

Ds. Stephen Heyns van die Petrus Steyn-gemeente in die Vrystaat het gesê hy berei reeds sy gemeente voor “dat die kerk vir seker uitmekaar gaan spat”.

Heyns het gesê hy praat nie meer met diegene wat selfdegeslagverhoudings steun nie.

“Van hulle was van my nabye vriende gewees. Ek moet hulle wegjaag, want hulle stap nie in die voetspore van Jesus Christus nie.”

Breytenbach het gewaarsku die ASM is bekend daarvoor dat hulle vertragingstegnieke gebruik.

“Ons gaan van ons kant baie druk op hulle plaas om ’n oplossing te vind. Ons wil nie oor en oor hierdie gesprekke hê nie. Dit skep onstuimigheid in jou eie gemeente wat gedoleer het. Jy wil so gou as moontlik stabiliteit skep sodat daar gefokus kan word op die uitdra van die evangelie.”

Lede van die werkgroep het ook op die vergadering ’n beroep op behoudendes gedoen om lektore by universiteite te teiken wat “dwaalleer in hul klasse verkondig”.

“Ons het almal van julle se hulp nodig om vir die groter kerk te vra om teen sulke dosente op te tree,” het ds. Norma Rossouw van die Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark gesê.

“Julle gaan vir ons moet help om die ouens verantwoordelik te hou oor wat hulle vir studente sê. Ons gaan terugbeweeg na ’n tyd waar die ouens onder sensuur geplaas gaan word.”

Dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is duidelik dat die twee teologiese stromings  mekaar nie meer tegemoet kan kom nie en hul paaie gevolglik skei.

“Hoe jammer ook, ek dink dit is die voorland van die NG Kerk. Die noodmaatreëls wat ons tot hier gebring het, werk eenvoudig nie meer nie.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, sê hy wil hom nie uitlaat oor die opname nie. “Ek gaan niks sê wat ons gesprekke kan kompromitteer nie.

“Amptelik is ons by praat oor die pad vorentoe. Ek glo daar is ’n klomp misverstande wat uit die weg geruim kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.