Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG kerk in Jhb maak in 2022 plek vir behuising

Die perseel van die NG kerk Lindenpark in Johannesburg is verkoop aan ontwikkelaars wat van plan is om die kerkgebou te sloop en wooneenhede daar te bou. Die kerkgebou is sowat 58 jaar oud.

Die gebou van die NG kerk Lindenpark gaan gesloop word. Foto: Deaan Vivier

Die Lindenpark-gemeente in Linden is in die proses om met die Fontainebleau Gemeenskapskerk saam te smelt.

Ds. Christo Naudé, die gemeente se predikant, het in ’n skrywe aan Netwerk24 gesê die besluit is weens finansiële redes geneem.

Daar is in April 2020 begin met gesprekke oor die gemeente se finansiële toekoms.

Die 58 jaar oue NG kerk Lindenpark van binne gesien. Foto: Deaan Vivier

“Ná ’n beroep op die gemeente het daar tydelike verligting gekom, maar dit was nie standhoudend nie. Ons het weer met die gemeente gesels tydens ’n gemeentebyeenkoms in September, waartydens ons benarde finansiële toestand verduidelik is,” lui die skrywe.

Daar is voorgestel om die kerkgebou in die mark te sit en die hoogste aanbod te oorweeg.

“Intussen het die Covid-19-pandemie ’n stok in die wiele van ons inkomstegenererende aktiwiteite gesteek en ons finansiële posisie het verder verswak. Die basaar en nagmarkte het in die slag gebly. Dit het ook lidmaatbetrokkenheid ernstig geknou. Eredienste is swak bygewoon, al kon ons 100 lidmate akkommodeer, en gevolglik is min kollektegeld ingesamel,” sê Naudé.

Drie aanbiedings is ontvang, waarna die hoogste aanbod van die ontwikkelaars Renico aanvaar is.

Die Lindenpark-kerkraad het in Mei besluit op eenwording met die Fontainebleau Gemeenskapskerk.

“Eenwording beteken dat ’n gemeente wat nie langer selfstandig wil of kan voortbestaan nie, ontbind en die betrokke lidmate by ’n ander bestaande gemeente ingelyf word,” sê Naudé.

“Ingevolge die Kerkorde moet die kerkraad van Fontainebleau toestemming tot inlywing gee. Die gemeenteraad van Fontainebleau vergader op 17 Junie, waartydens hulle die aangeleentheid sal bespreek.”

Lindenpark se kategete het reeds by die Fontainebleau Gemeenskapskerk ingeskakel.

Volgens Daantjie Smit, ’n lid van Lindenpark se kerkraad, is daar nog nie ’n datum waarop die gemeente finaal uit die gebou moet skuif nie.

Die kerk se hoeksteen is in 1963 gelê. Foto: Deaan Vivier

“Ons hou nog kerk in die gebou en in hierdie stadium doen ons nog dinge op ons eie. Van die kwessies wat uitgeklaar moet word, is reëlings vir personeel en roerende bates,” sê Smit.

Die plaaslike regering moet ook toestemming gee dat die as in Lindenpark se nismuur verskuif kan word.

“Daar is al met familielede gepraat van die geliefdes wie se as hier geplaas is, maar ons kan eers die formele proses aan die gang sit as ons toestemming het. Fontainebleau het gesê dit kan na hul nismuur verskuif word. Ons probeer dit so sensitief as moontlik hanteer,” sê Smit.

Volgens Naudé word daar op talle fronte gedebatteer oor die afname in Afrikaanssprekende gereformeerde kerke se lidmaatgetalle.

“Die angstige, ontwrigtende en onsekere tye waarin ons ons bevind, bied egter ook ’n geleentheid om die evangelie van Jesus Christus op ’n nuwe en kreatiewe manier te verkondig. Die wyse waarop die kerk sy dienswerk verrig, sal na alle waarskynlikheid nooit weer dieselfde wees nie,” sê hy.

Die NG kerk Lindenpark wag nog op toestemming om die as in die kerk se nismuur te verskuif. Foto: Deaan Vivier

“As gemeentes van die Here is dit noodsaaklik om ons roeping te herontdek. Ons moet ons geloof gebruik om ons te help om met onderskeiding vorentoe te beweeg.”

Johan Louw, bemarkingsbestuurder van Renico, het bevestig die plan is om die kerkgebou te sloop. Dit sal waarskynlik eers in 2022 gebeur.

Die Lindenpark-gemeente gebruik steeds die gebou totdat die eenwording met die Fontainebleau Gemeenskapskerk afgehandel is. Foto: Deaan Vivier

“Die area verleen hom tot behuising, so dit sal ’n deeltitel-ontwikkeling wees. Ons is nog vroeg in die proses, daar is nog nie konsepplanne opgetrek nie,” sê hy.

“Ons hou by die riglyne soos deur die stadsraad uiteengesit, waaronder die hoogtebeperkings. Dit sal soortgelyk aan twee van ons ontwikkelinge net verder af in die pad wees.”

Die Lindenpark-kerkgebou op die hoek van Bram Fischer-rylaan en Central-laan is deur die argitek Henri Taljaard ontwerp. Die kerk se hoeksteen is in 1963 deur ds. D.P.M. Beukes gelê.

Meer oor:  Kerkgebou  |  Ng Kerk Lindenpark  |  Wooneenhede  |  Kerk  |  Sloping  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.