Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk-moderator onttrek aan biddag by moskee

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, het besluit om nié meer Sondag aan ’n gebedsbyeenkoms by ’n moskee in Kaapstad, vir slagoffers van die selfmoordbomaanvalle in Sri Lanka, deel te neem nie.

Janse van Rensburg het by navraag sy besluit verduidelik en gesê hy het dit aanvanklik oor drie redes oorweeg om die geleentheid by te woon:

- Daar is ’n hele aantal Christenkerke by die geleentheid betrokke;

- Die geleentheid gaan om solidariteit met die Christene wat in Sri Lanka vermoor is;

- Dit is tyd dat alle godsdienste die godsdienstige geweld in die wêreld saam veroordeel.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk. Foto: Herman Verwey

Janse van Rensburg sê hy is sterk ten gunste van dialoog tussen die onderskeie godsdienste in die land sodat mense vrede kan handhaaf en mekaar met respek hanteer.

“Ons het tans ’n besonder positiewe kultuur van wedersydse respek en verdraagsaamheid wat ons in stand moet hou. Ons wil immers nie blootgestel word aan die soort godsdienstige onverdraagsaamheid en geweld wat ons elders in die wêreld sien nie,” sê Janse van Rensburg.

Hy verduidelik dan hoekom hy egter besluit het om nie die geleentheid by te woon nie: “Gesamentlike aanbidding tussen verskillende godsdienste is vreemd aan ons tradisie en ek wil op geen manier deur my teenwoordigheid die NG Kerk se belydenis oor die Drie-enige God kompromitteer nie,” sê Janse van Rensburg.

Intussen het ds. Riaan de Villiers, leraar van die Groote Kerk in Kaapstad, by navraag gesê hy het groot agting vir Janse van Rensburg, respekteer sy besluit en berus hom daarby.

“Ek het persoonlik ook aan ds. Nelis gesê ek dink dit is jammer dat hy hom aan die geleentheid onttrek, maar dat ek dit so aanvaar,” sê De Villiers.

Hy sê hyself sal wel by die geleentheid wees, en dít op grond van die volgende:

- “Dit is ’n ekumeniese en intergeloofsbyeenkoms wat ons bywoon op uitnodiging van die Moslemgemeenskap van die Al-Azhar-moskee, en daar sal verteenwoordigers en sprekers van verskillende kerke wees, waaronder die Anglikaanse en die Rooms Katolieke Kerk, asook ander gemeentes en predikante van die NG Kerk en gemeentelede van die Grootte Kerk wat dit sal bywoon.”

- “Ons doen dit omdat ons oortuig is daarvan dat daar in sekere tye, soos in hierdie tyd van ekstremistiese geloofsgeweld en die verskriklike aanvalle in Sri Lanka, ’n plig by gematigde geloofsgroepe is om byeen te kom, te midde van geloofsverskille, om ’n verenigde front te vorm, ’n boodskap van veroordeling teenoor hierdie haat uit te stuur na die wêreld, en te dien as ’n simbool en boodskap van verdraagsaamheid.”

- “Ons moet saamleef in hierdie wêreld en ons kies om dit te demonstreer in liefde en in vrede.”

Janse van Rensburg het vroeër in ’n Facebook-boodskap geskryf die gewelddadige dood van honderde mense in Sri Lanka weens fundamentalisme en haat is “oneindig sleg”.

“Ons bid vir die naasbestaandes van almal wat oorlede is. Ons bid ook vir dié wat gewond is en vir hulle geliefdes, dat die Heilige Gees self sal troos en hoop bly gee,” het Van Rensburg gesê.

Gesamentlike aanbidding tussen verskillende godsdienste is vreemd aan ons tradisie . . .

Hy het bygevoeg die NG Kerk het ’n lang verbintenis met die mense van Sri Lanka.

Tydens die Vryheidsoorlog aan die begin van die 20ste eeu is talle boerekrygers daar in konsentrasiekampe aangehou.

“Ons voortgesette verhouding met die Reformed Church in Sri Lanka is ’n lewende getuienis van ons omgee en verbintenis aan die mense van dié eiland,” volgens Janse van Rensburg.

Hy het gesê die wêreld is steeds ’n onveilige plek waarin wrede, fanatieke mense die grootste bedreiging vir veiligheid en vrede is.

“Ook fanatieke Christene neem deel aan geweld. Dit terwyl Christus die Vors van Vrede is, die Een wat mense liefhet, die Een wat ’n nuwe koninkryk van vrede en geregtigheid kom vestig het, die Een wat aan ons die bediening van versoening met Hom en mekaar toevertrou het,” het Janse van Rensburg verder in sy Facebook-boodskap gesê.

Hy het gevra dat mense op geen manier deelneem aan die polarisering van die wêreld en veral Suid-Afrika nie.

“Laat ons altyd bou aan ruimtes waar mense binne hoorafstand van mekaar kan verkeer en mekaar in die oë kan kyk en mekaar as God se geliefde mense kan bly sien - ongeag die persoon se godsdienstige oortuigings of politieke drome en affiliasies of geslag of ras of seksualiteit.

“Die alternatief is altyd te erg om aan te dink,” volgens Janse van Rensburg.

Meer oor:  Ds. Nelis Janse Van Rensburg  |  Kaapstad  |  Sri Lanka  |  Ng Kerk  |  Terreur  |  Moskee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.