Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk ‘moet ampte uitbrei om te oorleef’

Die NG Kerk lei tans te min predikante op om volhoubaar te wees, het die algemene sinode se 17de vergadering Woensdag in Benoni gehoor. Talle gemeentes kan ook nie meer voltydse predikante bekostig nie.

Die kerk is daarom genoop om die bestaande struktuur van ampte uit te brei, het dr. Frederick Marais, ondervoorsitter van die algemene kuratorium, Woensdag gesê. Die kuratorium sien om na NG predikante se opleiding.

Volgens ’n verslag oor opleiding is daar tans net 160 teologiese studente by drie teologiese fakulteite (Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch) vir die ses jaar lange (voltydse) kursus ingeskryf.

Marais sê ’n groot uitdaging is die diversiteit van behoeftes in gemeentes.

“Daar is ’n behoefte aan mense wat as predikante werk en hulle op byvoorbeeld die jeug of die gemeenskap wil toespits,” sê Marais.

Hy verduidelik dis soos ’n maatskaplike werker wat in ’n kerk se diens staan en dan ’n kursus doen om leraarsbevoegdheid te kry. “Só iemand bring bykomende vaardighede na die kerk,” sê hy.

Die kerk het hiervoor reeds ’n hele nuwe raamwerk vir teologiese opleiding ontwikkel wat meer as ’n jaar gelede deur die universiteite se kuratoria en die Algemene Sinode se moderamen goedgekeur is.

Afgevaardigdes op die NG Kerk se Algemene Sinode-sitting in Benoni. Foto: Deaan Vivier

Die verwagting is dat die Algemene Sinode Donderdagoggend die reglementwysigings sal goedkeur sodat die nuwe ampte in werking gestel kan word.

Die nuwe ampte

Die vier voorgestelde ampte is bedienaars (ouderlinge met bevoegdheid), standplaasleraars (mense met ’n bepaalde bevoegdheid), diensleraars (leraars met ’n spesialisbediening) en gemeenteleraars (eerste en tweede loopbaan, soos tans die geval is in gemeentes).

Bedienaars is byvoorbeeld ouderlinge wat ná opleiding bevoegdheid ontvang om te preek, sê Marais. Hulle word deur die kerkraad gekeur, deur die ring bevestig en deur gemeenteleraars gementor. Hulle mag nie die doop en die Nagmaal bedien nie.

“Bedienaars doen ’n aanlyn kursus wat sowat R2 500 kos aan die Hugenote-kollege in Wellington,” sê Marais. Dit is ’n kerklike diplomakursus en die deelnemers ontvang ’n diploma van die kollege.

Bedienaars verdien nie ’n salaris nie, maar hul onkoste word gedek.

Standplaasleraars het bevoegdheid in ’n spesifieke konteks, soos byvoorbeeld die bediening van persone met gehoorgestremdheid. Hulle word deur die kuratoriums gemonitor en word by die Hugenote-kollege opgelei.

Hierdie persone word gelegitimeer en verdien ’n salaris van die kerk en geniet werknemervoordele. Hulle mag preek en die sakramente bedien in die gemeente waar hulle gelegitimeer is.

Die volgende vlak is diensleraars. Dis leraars met ’n teologiegraad van drie jaar (B.Th) of ’n honneursgraad in die teologie.

Iemand wat reeds ’n kwalifikasie in maatskaplike werk, onderwys, musiek, sielkunde en ander relevante beroepsrigtings het, kom ook in aanmerking vir hierdie amp en moet dan die honneursgraad in teologie voltooi.

Hulle word in samewerking met gemeentes en ringe deur die kuratorium gekeur. Na afloop van hul studies word hulle as diensleraars gelegitimeer en kan hulle beroep word na gemeentes om diens in hul bepaalde opleidingsveld te lewer.

Hulle dra die “predikant”-titel, mag preek en die sakramente bedien, maar hulle mag nie ’n gemeente lei nie. Hulle kry ’n salaris en werknemervoordele van die kerk.

Laastens is daar die gemeenteleraars, of tradisionele predikante in ’n gemeente. Hulle studeer die sesjaargraad, wat Grieks en Hebreeus op tweedejaarvlak insluit, aan een van die drie universiteite wat NG predikante oplei.

Hierdie opleiding is residensieel, maar sal in die toekoms ook op ’n deeltydse grondslag gedoen kan word.

Sal korter kursusse nie die kerk se teologie begin afplat nie? Dr. Nico Mostert, leraar van die NG kerk Hugenoot en programbestuurder van NetAct, wat werk met teologiese opleiding in Afrika, sê daar is ’n wyer betekenis aan die gesprek.

“As jy van ’n dominee verwag om op M-vlak te kom, kos dit omtrent R210 000 oor die studietydperk. Dit is net om klas toe te gaan. So, as die student daardie geld moet gaan leen en teen die einde met ongeveer R300 000 se studieskuld sit, wat moet daardie student nou verdien om sy studieskuld af te betaal?” vra Mostert.

* Die Sinode het Woensdag gehoor daar is tans 200 000 onopgeleide predikante of pastore in onafhanklike gemeentes.

NG predikante in getalle

* Die NG Kerk het 1 730 predikante (tentmakers inkluis) met volle ampsbevoegdheid.

* Daar is 302 proponente.

* Daar is 1 251 emerituspredikante

Meer oor:  Ng Kerk  |  Ngk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.