Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hof sê NG Kerk se besluit oor gay-huwelike is onwettig

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydagoggend beslis die NG Kerk (NGK) se standpunt oor selfdegeslaghuwelike is onwettig.

Die NGK se besluit oor gay-huwelike is in 2016 deur die algemene sinode verander, nadat dit die jaar tevore aanvaar is dat kerke self kan kies of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies mag trou en gay predikante wil aanstel.

Ingevolge die hofbeslissing is die besluit deur die algemene sinode van die NG Kerk van 7 tot 10 November 2016 "onwettig en ongeldig".

’n Groep van ’n dosyn lidmate het die hof verlede jaar genader om aansoek te doen dat die besluit in 2016 tersyde gestel word. Hulle voel onder meer die aangeleentheid is in die publiek se belang.

Hans Oosthuizen, prokureur vir die NGK, het vroeër aan Netwerk24 gesê dit is baie hartseer dat die saak in die hof beland het.

“Daar is groot tweespalt in die kerk oor die aangeleentheid. Dit is sleg vir die kerk. Dit moes eerder op ’n kerklike en Bybelse wyse gehanteer word en nie in die wêreld se howe nie,” sê Oosthuizen.

“Die kwessie het nou ’n konstitusionele kleur gekry en ek is seker die ander party sal appelleer."

Die lidmate het verlede jaar aangevoer die NGK se besluit oor selfdegeslaghuwelike is nie ’n private kwessie nie.

Hulle voer aan die huwelik is ’n statutêre instelling van die staat, en omdat die staat beslis het gay paartjies mag trou ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006), moet die NGK hom daaraan onderwerp. Deur sy verbod ontstaan daar dus ’n skending van menseregte wat in stryd is met die Grondwet.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

DIE AGTERGROND

Die NGK se algemene sinode het in 2015 met ’n geskiedkundige besluit bepaal kerke kan self kies of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies mag trou en gay predikante wil aanstel.

Dié besluit is in 2016 op ’n spesiale sitting van die sinode vervang.

Die kerk se beleid sedertdien is dat homoseksuele mense deel mag wees van die kerk mits hulle nie onder sensuur geplaas is nie en selibaat lewe.

Verder sal ’n gay persoon net toegelaat word om ’n dominee te word mits hy of sy selibaat lewe. Predikante word ook nie toegelaat om paartjies van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig nie.

Die NGK hou wel by sy 2015-besluit dat hy alle mense van gelyke waarde ag, ongeag hul seksuele oriëntasie.

Meer oor:  Hans Oosthuizen  |  Ng Kerk  |  Homoseksualiteit  |  Hof  |  Gays  |  Ngk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.