Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NG Kerk: Skeuring dreig ná besluit oor homoseksualiteit
Sinode Goudveld het Woensdag ’n buitengewone sinodesitting in Randfontein gehou. Foto: Nico Smit / Kerkbode

'n Skeuring dreig in die NG Kerk weens ’n vroeëre besluit in die kerk oor die hantering van homoseksualiteit.

Die NG Kerk se Sinode Goudland, wat uit 148 gemeentes in Noordwes en Gauteng bestaan, oorweeg om uit die algemene sinodale verband te tree.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode (AS), het gewaarsku dat so ’n skeuring “geweldig sleg vir die eenheid van die kerk en die kerk in Suider-Afrika se getuienis kan wees”.

Die Sinode Goudland – vroeër bekend as die Sinode Wes-Transvaal – het Woensdag ’n buitengewone sinodesitting by die NG kerk Tetelestai in Randfontein byeengeroep, waar die AS se besluit oor homoseksualiteit bespreek is.

Die AS se besluit, wat in Oktober in Benoni geneem is, maak voorsiening vir ’n verskeidenheid menings oor homoseksualiteit, met die doel om kerkeenheid te behou.

Dit beteken kerkrade kan onder meer self besluit of hulle gay predikante wil beroep en selfdegeslagverbintenisse wil bevestig.

Dié besluit is problematies vir die Sinode Goudland.

Luidens die Kerkbode het die 240 afgevaardigdes Woensdag verskeie kwessies op die buitengewone sinodesitting bespreek.

Die streeksinode het art. 37 van die Kerkorde bespreek. Luidens die artikel kan ’n sinode volledig wegbreek én sy status as NG Kerk, voorregte en naam behou.

Die kwessie van Skrifgesag het ook ter sprake gekom. Sommige gemeentes in die Sinode Goudland voel dat die AS nie meer die Bybel as die primêre bron beskou nie en dat besluite geneem word op grond van “die sielkunde en wetenskap”.

Die Sinode Goudveld oorweeg om bande met die NG Kerk se Algemene Sinode te sny. Foto: Nico Smit / Kerkbode

’n Finale besluit oor ’n moontlike wegbreek van die AS is nie geneem nie. Die Sinode Goudland wil eers volgende week met die AS se moderamen vergader.

Afgevaardigdes van die Sinode Goudland sal op 20 November stem oor óf hulle gaan wegbreek van die AS.

Ds. Norma Rossouw, ’n vorige voorsitter van Sinode Goudland, het volgens die Kerkbode gesê dat die AS se besluit oor homoseksualiteit nie gegrond is op Bybelse beginsels nie. Volgens haar is daar geen Bybel-tekste in die 2019-besluit vervat om dit te staaf nie.

Toe Rossouw om verdere kommentaar genader is, het sy ’n Facebook-inskrywing van haar aan ’n geslote groep aangestuur vir publikasie. Sy het daarin geskryf: “Die Algemene Sinode se besluit dien net een kant van die kerk – so much vir eenheid. Die besluit van jou kerkraad sal jou nie vrywaar van die besluit van die Algemene Sinode nie.

“Kerkrade kan nie oor beleid besluit nie, dit hoort op die tafel van die Algemene Sinode en die orde en beleid van die Algemene Sinode is wat sal dien op die tafel wanneer jy in die hof staan.”

Ds. Johan Brink, voorsitter van Sinode Goudland, het luidens die Kerkbode, Woensdag aan afgevaardigdes gesê dié streeksinode is by ’n kruispad.

Brink het gesê hy het die AS ná die vorige besluit oor homoseksualiteit, wat in 2015 geneem is, gewaarsku dat dit groot finansiële implikasies sal hê.

Volgens Brink trek al tien sinodes waaruit die AS bestaan geldelik swaar.

Janse van Rensburg het gesê om “drukkende finansies” aan die 2015-besluit toe te skryf, “kan nie verantwoordbaar word nie”.

Kerkrade kan nie oor beleid besluit nie, dit hoort op die tafel van die Algemene Sinode en die orde en beleid van die Algemene Sinode is wat sal dien op die tafel wanneer jy in die hof staan.

“Daar is landwyd ekonomiese druk. Die droogte het ’n geweldige impak op gemeentes. Daar is baie redes waarom finansies onder druk is."

Brink het by navraag gesê omdat die Sinode Goudland se buitengewone sinodesitting nog onderweg is, het die dagbestuur besluit “om geen kommentaar te lewer of uitsprake te maak nie”.

Adv. Dewyk Ungerer, die AS se aktuarius en ’n kerkregkenner, sê indien die skeuring plaasvind, sal die kerk regsekerheid oor ’n paar kernkwessies moet kry.

Implikasies wat ondersoek moet word, is byvoorbeeld dat dominees hul bevoegdheid kan verloor.

“Waar sal Goudland dominees kry wat gelegitimeer is as hulle uit die verband tree? En sal hulle dan ’n dominee van binne die NG Kerk kan beroep?”

Die NG Kerk lei tans predikante by drie universiteite op. Indien die Sinode Goudland van die kerk wegbreek, ontstaan die vraag of hy nog gelegitimeerde NG-proponente mag beroep.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Skeuring  |  Gay-Kwessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.