Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NGK: Daar sal teen seksisme opgetree word

Die NG Kerk het ’n baie sterk standpunt oor gelykheid tussen mans en vroue en sou ’n NG-gemeente blatant seksisties wees, sal daar opgetree word.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk. Foto: Nelius Rademan

So sê ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, nadat NG vrouepredikante weer hul misnoeë uitgespreek het omdat hulle nie op die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se kansel welkom is nie.

Vingers is ook gewys na die NGK, wat in ’n verhouding met die GKSA bly “ondanks die GKSA se huidige beleid teen vroue in die amp”.

Die gesprek volg op die herbevestiging van die GKSA se verhouding met die NGK en Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) by die GKSA se algemene sinode vandeesweek in Potchefstroom.

“Die probleem is ná jare nog nie opgelos nie,” sê dr. Elsje Büchner, ’n NG predikant.

“Hulle (die GKSA) verstaan nie hoe ernstig dit is nie. Dis nie net ’n posisie (op die preekstoel) nie, dit sny baie, baie dieper. Dit is geslagsdiskriminasie.”

Dr. Carin van Schalkwyk het gewys op haar Facebook-inskrywing van 2015 toe die samewerking tussen die NGK en GKSA gevestig is.

“Hoekom is ons opgewonde oor hierdie ooreenkoms met die GKSA? Verduidelik asseblief waarom dit iets is om oor te juig as hul amptelike standpunt nie vroue in die bediening erken nie. Het ons nie eerder ’n profetiese taak om in solidariteit te gaan staan by diegene wat uitgesluit is nie?” lui Van Schalkwyk se inskrywing wat sy aan Nelus Niemandt, destydse moderator van die NGK, gerig het.

“Die vrou in die amp is vir ons ’n baie belangrike ding – dis beslis nie ’n kleinigheid nie. Dit gaan oor ’n kerk se mensbeskouing en die manier hoe hulle met die Bybel omgaan,” het Janse van Rensburg Donderdag gesê.

Die vrou in die amp is vir ons ’n baie belangrike ding – dis beslis nie ’n kleinigheid nie
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk

“As ons moet bande breek met almal wat op plekke van ons verskil, sal ons niemand oorhê nie. Ons en die GKSA het ’n teologie in gemeen. Ons het egter ’n sterk standpunt oor vroue in die bediening en sal aanhou om hulle daartoe aan te moedig. Van ons heel beste dominees is vroue.”

Binne die NG Kerk self is daar egter steeds seksisme, lig prop. Jorina Redelinghuys uit.

“Die NG Kerk is vinnig op haar agterpote omdat die GKSA nie vroue wil toelaat nie, maar sy is self nog op baie plekke hieraan skuldig,” sê Redelinghuys.

Sy het vertel van twee vakatures in die Vrystaat verlede jaar waar dit in die bewoording van die vakature gelyk het of ’n vrou nie mag aansoek doen nie.

“Die woorde wat gebruik word is ‘die predikant en sy vrou’ of “die predikant se vrou moet betrokke wees”.

Janse van Rensburg benadruk dat gemeentes wat “blatant seksisties is”, aangespreek sal word. Hy sê dis egter nie die sinode wat besluit oor kanseluitruilings nie, maar die onderskeie gemeentes.

Weens die GKSA se huidige besluit oor die vrou in die amp, “is kanseluitruilings tussen die twee kerkverbande nie ’n uitgemaakte saak nie”, sê dr. Douw Breed, voorsitter van die GKSA se algemene sinode.

By navraag oor hoe die NGK sal reageer waar ’n NG-vrouepredikant ’n GKSA-kansel in ’n kanseluitruiling geweier word, het Janse van Rensburg erken “dit sal ’n groot verleentheid vir ons (NGK) skep.”

“Ons sal ons vrouepredikante altyd bly beskerm.”

’n Afgevaardigde van die GKSA se algemene sinode wat nie sy naam genoem wil hê nie, is egter vol hoop dat “ons gaan vordering maak oor die vrou in die amp” wat na verwagting volgende week op die agenda sal voorkom.

“Byna 40% van die afgevaardigdes hier dink al anders hieroor. Ons besef dat dit probleme in ons verhoudinge met ander kerke kan veroorsaak.”

Meer oor:  Nelis Janse Van Rensburg  |  Ng Kerk  |  Seksisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.