Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NGK-leiers nie vóór buitengewone sinode voor hof gedaag
Afgevaardigdes van die NG Kerk verlede jaar in ’n oop gesprek oor gay verhoudings in die kerk. Foto: Claudi Mailovich

Die NG Kerk se leiers gaan nie voor die kerk se buitengewone algemene sinode in November voor die hof gedaag word nie.

Die 11 lidmate wat die kerk wil dwing om die algemene sinode se besluit oor gay verbintenisse toe te pas, het Vrydag gesê ’n onafhanklike regspan gaan ondersoek doen of die stappe teen verlede jaar se besluit oor gay verbintenisse regsgeldig voor die buitengewone algemene sinode kan dien.

Die regsmening sal voor die buitengewone spesiale sinode aan alle belanghebbendes en aan media beskikbaar gestel word.

“Ons glo dat die aanvalle op die 2015-besluit van die algemene sinode ’n gewetenskrisis vir die kerk daarstel,” sê die 11 lidmate.

“Daar is reeds jare lank met hierdie pynlike geskil onder lidmate en kerkleiers geworstel. Die trauma van ’n voortgesette konflik is verreikend en vernietigend. Ons glo dat die 2015-besluit, wat niemand onder verpligting plaas nie, gehandhaaf moet word, en dat die kerk moet voortbeweeg sonder dat dit onafwendbaar word om die howe te nader,” sê hulle.

Prop. Hennie Pienaar, een van die 11 lidmate, sê dit is hul “laaste poging” om die kerk se amptenary te help.

Dit is vir hom belangrik dat mense besef die groep wil nie die kerk as instansie dagvaar nie.

“Die kerk het klaar sy besluit by die sinode geneem.” Hulle wil die amptenary wat veronderstel is om die besluit toe te pas, voor die hof daag.

Die besluit wat die algemene sinode verlede jaar geneem het, is om burgerlike verbintenisse te erken en dat predikante wat “hul weg oopsien”, gay paartjies se verbintenisse kan bevestig en dat gay predikante nie selibaat hoef te bly nie.

Die NG Kerk moet as denominasie by die departement van binnelandse sake registreer voordat sy leraars burgerlike verbintenisse kan bevestig. Dit het nog nie gebeur nie.

Adv. Jeremy Gauntlett SC is die 11 lidmate se regsadviseur.

Die 11 lidmate wat die saak voer:

Vyf gay lidmate: proponente Laurie Gaum, Pieter Oberholzer, Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen en Judy Kotze; adv. Leon Wessels, direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat en ereprofessor aan die Noordwes-Universiteit; dr. Murray Coetzee van die Beyers Naudé-sentrum vir openbare teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US); prof. Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die fakulteit teologie aan die US; dr. Frits Gaum, emerituspredikant en voormalige redakteur van Kerkbode; dr. Chris Jones, hoof van die US se kantoor vir morele leierskap, en dr. Nadia Marais, sistematiese teoloog aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Gay Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.