Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NGK se dss. tree dalk later af

Jong predikante in die NG kerk (NGK) se kans om voltyds beroep te word, gaan nog skraler word as die algemene sinode besluit dat predikante eers op 68 kan aftree.

Dr. André Bartlett: Tweesnydende swaard.

Die algemene sinode gaan by sy volgende sitting in Oktober in Benoni ’n voorstel om predikante se verpligte aftree-ouderdom van 65 na 68 te verander.

Soveel as 46% van NGK-leraars gaan teen 2028 die aftree-ouderdom van 65 bereik.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NGK, sê daar is nie tans genoeg studente wat teologie studeer en predikante word om al die poste te vul wanneer dié leraars teen 2028 die verpligte aftree-ouderdom van 65 gaan bereik nie.

“ ’n Klomp ouens tree voor 65 af, maar baie het nog meer as genoeg energie en die lus om ná hul aftrede in die bediening te staan.”

Baie van dié predikante word kragtens ’n kontrak by gemeentes aangestel. Op die oomblik is daar 1 000 predikante voltyds in die bediening, 249 is proponente en 132 afge­trede predikante wat vir drie jaar of langer op kontrak werk.

Predikante hoef nie voltyds te werk nie.

Dr. André Bartlett, lid van die algemene sinode se kuratorium oor opleiding, sê die kwessie kan ’n tweesnydende swaard wees. “As dit aanvaar word, beteken dit dat ’n klomp institusionele geheue vir die kerk behoue bly, maar dit sal ook beteken dat minder jong predikante voltyds beroep kan word,” sê hy.

Die aftredes kan weer meebring dat ’n groot klomp vakature by gemeentes ontstaan wat goeie nuus is vir studente en jong predikante wat graag in die bediening wil staan.

“Die ander realiteit is dat die kerk in sy geheel aansienlik kleiner geword het, dat mense se bydraes minder is as in die verlede en dat baie gemeentes sukkel om hul predikante se salarisse en verblyf te betaal.”

In die vroeë 1980’s is ’n rekord aantal jongmense jaarliks in die kerk gelegitimeer. In 1980 was dit 128 en in 1981, 180.

Volgens Bartlett word gemiddeld tussen 20 en 30 jong mense die afgelope sewe jaar per jaar gelegitimeer. Bartlett sê proponente wag gemiddeld vir ses maande tot ’n jaar om beroep te word.

Dr. Dewyk Ungerer, aktuaris van die algemene sinode, moderator van die Noordelike sinode en ’n senior lektor en eksterne dosent by die Universiteit van Stellenbosch, sê die daling in teologiestudente kan verder toegeskryf word aan die groot aantal lidmate wat emigreer.

“ ’n Klomp lidmate wat teologie sou studeer het, sit nou in die buiteland.”

Volgens hom is daar ook heelwat predikante wat die afgelope 20 jaar gelegitimeer is, maar nie dadelik beroep is nie.

Ungerer is egter nie bekommerd dat daar ’n leemte ná 2028 gaan ontstaan nie.

“Baie gemeentes vul nie noodwendig poste van predikante wat aftree nie, omdat getalle in kerke minder word.”

Ungerer sê die bestaande kerkorde maak voorsiening vir korter opleidingskursusse vir jeug-pastore. Predikante hoef ook nie voltyds vir die kerk te werk nie, maar kan as tentmakers deeltyds in die bediening staan en ’n ander beroep beoefen. Predikante kan ook voltyds net vir ’n jaar of twee beroep word.

Volgens Bartlett gaan die algemene sinode ook in Oktober oorweeg of hy sy tradisionele bedieningsmodel gaan verander sodat lidmate soos diakens en ouderlinge as lekepredikers die Woord kan verkondig.

As die algemene sinode ’n voorstel vir lekepredikers goedkeur, sal mense moontlik aanlyn kursusse kan doen om te leer preek. Intreevlak-opleiding sal vir ouderlinge of diakens beskikbaar wees wat eredienste wil lei.

“Diensleraars” sal opgelei word om die jeug te bedien of gemeenskapswerk te doen. “Standplaasleraars” sal gespesialiseerde opleiding ontvang om byvoorbeeld dowes te bedien.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.