Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Niemand staan tou om die Guptas se vliegtuig te koop

Die Guptas se luukse Bombardier-straler gaan nou deur hul Kanadese skuldeisers verkoop word omdat hulle miljoene dollars agterstallig is met hul paaiemente.

Die Guptas se vliegtuig, die ZS-OAK, kom by Lanseria lughawe aan Foto: Deon Raath

Dit volg ná ’n uitgerekte hofstryd in Suid-Afrika en in Brittanje, waar die familie geveg het om die straler te behou in ’n geskil met die Kanadese finansiers van die vliegtuig.

Die geskil was tussen Export Development Canada (EDC) wat 80% van die finansiering vir die vliegtuig voorgeskiet het en StoneRiver, ’n Ierse maatskappy van die Guptas aan wie EDC die geld vir die vliegtuig geleen het.

Die hooggeregshof in Johannesburg het in Maart verlede jaar ’n tydelike bevel uitgereik dat die vliegtuig binne 15 dae aan die EDC of by die Lanseria-lughawe besorg word. Die EDC het intussen ’n nuwe aansoek ingedien om die vliegtuig te kan verkoop. Die hof het pas dié bevel toegestaan.

Daar is ook nie belangstelling in Jet Airways nie.

Die EDC wil op die vliegtuig beslag lê omdat reeds $27 miljoen (R380 miljoen) agterstallig is op paaiemente. Die oorspronklike leningsbedrag was $41 miljoen (R576 miljoen teen die huidige wisselkoers). Boonop voer die maatskappy aan dat die Bombardier die wêreld vol vlieg met sy naspeuringstoestel afgeskakel wat dit vir hulle bykans onmoontlik maak om te weet waar die vliegtuig hom tans bevind.

Die Guptas het in die hof aangevoer die agterstallige betalings was omdat al die Suid-Afrikaanse handelsbanke hul rekenings bevries het. Hul advokaat het aangevoer die EDC het geweet wie die Guptas was toe die finansiering toegestaan is.

Die straler is in Rusland en Indië opgemerk, ook in Dubai waar die Gupta-broers blykbaar deesdae woon.

Nadat hulle onsuksesvol teen die uitspraak in Suid-Afrika probeer appelleer het, is die vliegtuig stil-stil laatnag by Lanseria gelewer waar die staat summier daarop beslag gelê het. Die bate­beslagleg­gings­een­heid van die nasionale vervolgingsgesag het tydelik eienaarskap oorgeneem.

Die hofbevel in Johannesburg het van krag gebly totdat die saak in Brittanje afgehandel is. Dié het egter tot stilstand gekom omdat die EDC reeds in Suid-Afrika met ’n soortgelyke geding begin het. Dit was in die lig van dié skaakmatsituasie dat die EDC ’n nuwe aansoek ingedien het, wat nou toegestaan is, berig The Globe&Mail in Kanada. Shelley MacLean van die EDC het na berig word gesê die verkoopproses is op dreef en ’n derde party is aangestel om dit te behartig.

Die straler word volgens Lanseria-werknemers in die vliegtuigloods van Execujet geberg, waar dit elke oggend uitgesleep en elke aand teruggesleep word. Die bergingskoste beloop R5 000 per dag, en dit is onduidelik wie vir dié rekening, wat al R1,5 miljoen beloop, aanspreeklik is.

Terselfdertyd was daar sedert die hofuitspraak geen aanduiding dat voornemende kopers toustaan om die straler te koop nie.

“Niemand wil daaraan vat weens die omstredenheid nie. In die hof is immers aangevoer dat die deposito vir die vliegtuig moontlik met die opbrengs van misdaad betaal is. Ná die hele wêreld laasjaar die straler gesoek het, gaan ’n voornemende koper twee keer dink voor hy hom in enige gemors begewe,” het een lugvaartkenner op Lanseria gesê.

“Normaalweg sal die vliegtuig vluggereed gemaak word as ’n koper opdaag, want dié sou daarin wou vlieg. Daar was nog geen tekens van nie en elke dag staan dit maar buite, wat nie goed vir ’n vliegtuig is nie, want onderdele kan begin verweer. Die waarde sal mettertyd net verder afneem.”

Intussen het Jet Airways, wat 200 lede van die Gupta-familie en hul gaste na Suid-Afrika gevlieg het vir die omstrede Gupta-troue, alle vlugte opgeskort, luidens ’n kennisgewing deur WorldAware, ’n maatskappy wat risiko’s in die lugvaartbedryf uitwys. Dit volg nadat die konsortium van banke wat die lugdiens se geldsake beheer, glo weier om verder geld voor te skiet. Die banke wil die lugdiens verkoop, maar daar is glo nog nie belangstelling nie.

Die Guptas is herhaaldelik met dié lugdiens verbind, hoewel hul presiese belange vaag is.

Meer oor:  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.