Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nies kos vrou amper haar lewe

Die laaste ding wat Hetti de Beer onthou voordat sy beheer oor haar motor verloor het, was die gekriewel in haar neus toe ’n niesbui haar oorval.

Sy was op pad na die Noordwes-Universiteit (NWU) toe die ongeluk gebeur het.

“Toe ek bykom, het die bloed oor my gesig gestroom,” het De Beer (73) Vrydag in die Mediclinic Potchefstroom gesê, kort voordat sy ontslaan is.

Hetti De Beer se niesbui het amper haar lewe gekos.Foto: Susan Cilliers

Dit het waarskynlik gebeur toe sy haar oë onwillekeurig toegemaak het tydens die niesbui.

“Ek het die afgelope tyd gereeld niesbuie gekry. My kollegas sê elke kort-kort Bless you! wanneer ek so nies. Ek was (verlede) Saterdag op pad om toesig te gaan hou oor studente wat eksamen skryf, toe ’n bui my by ’n kruising oorval. Ek en ’n ander voertuig het gebots, maar ek kan niks van die botsing self onthou nie. Niemand in die ander voertuig is beseer nie.”

De Beer het ’n diep sny opgedoen wat van haar regteroogbank tot die begin van haar agterkop strek, asook erge harsingskudding.

Ek het nog erge hoofpyn.
Hetti de Beer

“Toe ek bykom ná die botsing, was die passasiersdeur oop. Ek was baie duiselig. ’n Vriendin van my, Brenda Palmer, het daar gestaan. Sy het ’n lap teen my kop gedruk om die bloeding te keer. Sy en haar man, Ronnie, was toevallig op pad na Klerksdorp om rolbal te gaan speel, toe hulle verby die ongeluk ry. Hulle het die ambulans ontbied.”

De Beer is onseker wat presies haar so gesny het. “Die ruit is nie stukkend nie. Ek vermoed dit was moontlik die gespe waarin die veiligheidsgordel haak.”

De Beer sê die pyn het eers in die ambulans erg geword.

“Die dokter by die hospitaal se ongevalleafdeling wou my sommer huis toe stuur nadat hy die steke ingesit het. Hy het nie X-strale laat neem of vir my pynpille of antibiotika gegee nie, net salf.”

Hetti de Beer Vrydag in die Mediclinic Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers

Hesta Kotzé, haar dogter, het toe aangedring op ’n tweede mening van ’n spesialis by die hospitaal wat die familie al jare ken.

“Die hospitaal en personeel was fantasties,” sê De Beer.

“Die spesialis het dadelik ’n skandering laat doen, my laat opneem en vir ’n paar dae binneaarse antibiotika en pynmedikasie gegee.”

Diana King, Mediclinic Potchefstroom se woordvoerder, sê ongevalle-dokters is uitgekontrakteer en dus nie direk in diens van die Mediclinic nie.

“Ons het mev. De Beer se klag aan die hoofdokter oor die uitgekontrakteerde dokters deurgegee, wat dit nou ondersoek. Hulle werk onafhanklik, ons kan hulle dus nie self ondersoek of teen hulle optree nie.”

Hoewel sy tot 1 Julie afgeboek is, twyfel sy of sy “so lank kan stilsit”. Dié weduwee speel nog aktief rolbal en werk as ’n ontvangsdame by die Potchefstroomse ouditeursfirma Bezuidenhout, Steyn en Questus. “Ek het nog erge hoofpyn.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.