Hy kan nie toelaat dat vlugtelinge Suid-Afrika se naam deur die modder sleep terwyl die land hulle die beste behandeling ter wêreld gee nie, sê eerw. Chris Nissen van die Menseregtekommissie (MRK).

Eerw. Chris Nissen. Foto: Malherbe Nienaber
Netwerk24Foto: Malherbe Nienaber
Nissen het Donderdag ’n klag van intimidasie en naamskending by die polisie ingedien teen een van die leiers van die vlugtelinge wat in en om die Metodistekerk op Groentemarkplein in Kaapstad woon.
Die man en sy lyfwagte het Nissen glo Dinsdag buite die hooggeregshof in Kaapstad gedreig en geïntimideer.
Die leier was na bewering eers in ’n onderonsie met ’n metro-beampte betrokke, waarna hy Nissan glo ook in sy visier gekry het.
“Toe skree hy vir my: ‘Ja, jy, Nissen van die kommissie, jy het probeer om die leierskap te verdeel. Ek sal jou doodmaak!’ ”
Nissen sê nadat hy die MRK se hoofkantoor geraadpleeg het, het hy besluit om ’n klag by die polisie aanhangig te maak.
“Ek het nou my saak gestel, ek moet dit nog onderteken, en dan sal die ondersoek begin.”
Hy sê hy het dit vir homself gedoen, maar ook vir die kommissie, wie se naam deur die betrokke leier beswadder word.
“Die feit is, hulle het ’n dreigende houding, selfs joernaliste word nie toegelaat om met hulle te praat nie. Hulle maak ons land se naam so sleg. Hulle dink hulle is verhewe bo die wet en misbruik die land se gasvryheid.”
Dieselfde leier staan ook op aanklagte van aanranding tereg.
Die vlugtelinge moes Dinsdag in die hof verskyn in verband met ’n aansoek deur die Kaapstad-metroraad dat hulle die stad se verordeninge nakom en dat teen oortreders opgetree mag word. Die uitspraak word op 17 Februarie in die hooggeregshof gelewer.
Hulle maak ons land se naam so sleg. Hulle dink hulle is verhewe bo die wet en misbruik die land se gasvryheid.
Dit kom nadat die hof verlede jaar nie ’n dringende interdik aan die metroraad toegestaan het om die vlugtelinge te verwyder nie en die partye beveel het om teen 28 Januarie ’n “werkbare langtermynoplossing” vir die krisis te vind.
Intussen is ’n 30-jarige man Donderdagoggend op Groentemarkplein gesteek, sê Wayne Dyason, inspekteur van die metro se wetstoepassingseenheid.
“Die situasie is in dié stadium kalm. Die slagoffer is op pad polisie toe om ’n klag in te dien.”