Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NMU-student verdrink in swembad op kampus

’n Student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Port Elizabeth het die afgelope naweek in ’n swembad op die kampus verdrink.

Volgens die polisie is die 26-jarige student Sondagoggend omstreeks 03:30 in die swembad by die Unitas-klubhuis aangetref.

Paramedici van Netcare 911 op die toneel waar ’n student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Port Elizabeth verdrink het. Foto: Netcare 911

Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, het gesê na bewering is ’n geselligheid die vorige aand in die klubhuis gehou en die veiligheidswagte het omstreeks middernag klaargemaak.

’n Klein groep studente was blykbaar teenwoordig toe die voorval gebeur het.

“Op die oomblik is dit onduidelik presies wat gebeur het, maar die man is uit die swembad gehaal en daar is met mond-tot-mond-asemhaling begin,” het Rheeder gesê.

Met die polisie en paramedici se aankoms op die toneel was die man reeds dood.

Die polisie het hom as Nhlokomelo Ntsewale geïdentifiseer.

Zandile Mbabela, universiteitswoordvoerder, het bevestig die oorledene is ’n student aan die universiteit, maar kon nie verdere besonderhede oor sy studierigting bekend maak nie.

Sy het gesê die geselligheid was nie ’n amptelike universiteitsgeleentheid nie, maar ’n geselligheid van die studentebeweging Sasco.

Athenkosi Sityata, NMU Sasco se streeksekretaris, het bevestig hulle het Saterdag ’n geselligheid by die klubhuis gehou.

Volgens hom was die geselligheid omstreeks 01:00 verby en het hul lede opgepak en die klubhuis toegemaak.

“Ons verstaan daar het ’n groep studente van ’n ander geselligheid af na die klubhuis gegaan en geswem,” het Sityata gesê.

Hy kon nie bevestig of die oorledene ’n Sasco-lid was nie, maar het bevestig hy was nie deel van die Sasco-geleentheid nie.

“Ons wil graag ons meegevoel met die student se familie uitspreek. Ons hoop die mense wat die aand betrokke was, kry die nodige berading, omdat dit vir enigeen ’n traumatiese ervaring is om te sien hoe hul vriend verdrink.”

Rheeder sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.