Nog twee mense is Maandag in die Kiaat-hospitaal in Mbombela (Nelspruit) aan hul beserings dood nadat ’n busongeluk Sondagmiddag die lewe van sewe ander mense op die R532-pad tussen Graskop en Ohrigstad in Mpumalanga geëis het.
Al nege oorledenes is mans, sê Moeti Mmusi, woordvoerder van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga. Volgens hom word 37 ander mense in die Kiaat- en die Matibidi-hospitaal vir beserings behandel.

Die ongelukstoneel Sondag waar ’n bus op die R532-pad tussen Graskop en Ohrigstad in Mpumalanga omgeslaan het. Sewe mans is op die toneel dood en nog twee later in die hospitaal. Nog 37 mense word in hospitale behandel.
“Dit is nog onduidelik wat die oorsaak van die ongeluk was. Al wat ons weet, is dat mense van verskillende provinsies op die bus was toe dit omgeslaan het. Party van die beseerdes is buitelandse burgers. Die identiteit van die oorledenes is aan die owerhede bekend, maar hul naasbestaandes moet nog in kennis gestel word,” sê Mmusi.
Die busongeluk het Sondagmiddag omstreeks 17:00 gebeur en sewe mense is op die toneel dood verklaar.