Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog 3 kinders in Oos-Kaap dood ná swaar reën

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het Donderdag aangekondig dat nog drie leerlinge dood is ná die swaar reën en oorstromings in die Oos-Kaap. Dit bring die dodetal in die provinsie op ses te staan.

Mali Mtima, onderwyswoordvoerder, sê Yanga Solubambo (13) en Aseza Mngcilo (13), leerlinge aan twee verskillende skole in Flagstaff in die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit, het Woensdagmiddag ná skool in ’n dam verdrink.

’n Nedersetting in Port St. Johns is die afgelope week ontruim weens oorstromings in die gebied. Foto: Facebook

Mtima sê die kinders het in die dam geswem en is vermoedelik deur ’n sterk stroom meegesleur. Hul lyke is later deur polisieduikers gekry.

Asiphe Buso (11) van die Mzamo Primary School in KwaBhaca (Mount Frere) in die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit het ook Woensdag verdrink.

Asiphe is volgens Mtima weens die reën nie skool toe nie, maar is later gestuur om iets te gaan doen. Sy het van ’n tydelike brug afgeval en is meegesleur.

Mtima sê die departement het sy maatskaplike ondersteuningsdienste aan die ouers en onderwysers van die drie leerlinge beskikbaar gestel.

Mlungisi Mvoko, Oos-Kaapse LUR vir onderwys, het sy medelye met die ouers van die leerlinge betuig en ’n beroep op ouers gedoen om toesig oor hul kinders te hou.

“Die departement moedig ouers aan om veiligheidsmaatreëls in plek te hê, veral terwyl riviere en damme vanweë die reën so vol is.”

Vroeër vandeesweek het vloedwater in Mbizana en KwaBhaca die lewe van ’n 12-jarige meisie, asook ’n 38-jarige en 39-jarige vrou, geëis.

Die afgelope week se reënbuie het tot kitsvloede en oorstromings in dele aan die Oos-Kaapse kus gelei.

In Port St. Johns en die nabygeleë Green Farm-gebied is sowat 320 mense sedert Maandag dakloos gelaat nadat meer as 100 huise deur vloedwater beskadig is.

Meer as 100 huise en plakkershutte in Port St. Johns is deur vloedwater beskadig. Foto: Facebook

Enkele mense is ook in die Phola Park-nedersetting in die King Sabata Dalindyebo-munisipaliteit gered nadat hul huise oorstroom het.

Mamkeli Ngam, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het Donderdag gesê amptenare en lede van die nasionale rampbestuureenheid sal later die middag die gebied besoek om die reënskade te bepaal.

“ ’n Verslag sal saamgestel word om te verseker ’n ingeligte besluit word geneem om die gebiede moontlik tot ’n rampgebied te verklaar.”

Twee mense durf ’n oorstroomde brug in die Mnquma-nedersetting in Mbizana aan. Foto: Verskaf

Die verslag sal waarskynlik teen Vrydagmiddag gereed wees, sê Ngam.

“Vir nou fokus ons op hulpverlening aan diegene wat dakloos is. Sodra ons weet wat die omvang van die skade is, sal ons met opruimingswerk begin.”

Volgens Garth Sampson van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Port Elizabeth, het Port St. Johns tussen Sondag en Woensdagoggend 304 mm reën gehad.

Terwyl sekere kusgebiede verspoel het, het dele van die droogtegeteisterde Karoo oor dieselfde tydperk ’n fraksie van die reën gekry.

In Cradock is 10 mm gemeet en in Graaff-Reinet 9,8 mm.

In die Langkloof was die reënwolke vrygewiger en is net meer as 45 mm reën in Joubertina gemeet.

Patensie en die Kougadam, die Nelson Mandelabaai-metro se grootste opgaardam, het onderskeidelik 40 mm en 47 mm reën gehad.

Die nuutste damvlakke in die metro is Donderdag bekend gemaak. Die vlak van die Kougadam is 45,99%, die Churchilldam 97,20%, terwyl die Impofudam op 26,66% staan, die Loeriedam op 71,48% en die Groendaldam op 53,18%.

Die Amathole-distriksmunisipaliteit sê in ’n verklaring die onlangse reën het die damvlakke in die Groot-Kei-gebied (Morganbaai, Chintsa en Haga Haga) van ongeveer 70% tot 100% opgestoot.

Die Cwilidam in Keimond se vlak is egter steeds op 20%, terwyl die Andrew Turpin- en Adelaide-dam onderskeidelik op 5% en 0,5% is.

Luidens die verklaring is die Hogsback- en Mnquma Xilinxa-dam 18% en die Toleni-dam 33% vol.

Meer oor:  Mali Mtima  |  Oos-Kaap  |  Reën  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.