Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n droomnaweek wink vir SA op Wimbledon

Daar is ’n Wimbledon-euforie in Suid-Afrika ná Kevin Anderson en Raven Klaasen se spogvertonings op die gras-tennisbane van Wimbledon.

Sarel van der Walt dink terug aan 13 jaar gelede toe Suid-Afrikaanse tennisspelers ook goed in die suidweste van Londen gevaar het.

Sarel van der Walt, die skrywer van dié artikel, in 2005 op ’n reëndag op Wimbledon. Foto: Olivia Steyn

“Dit was ’n droomnaweek vir Suid-Afrika op Wimbledon”, het die inleiding van my storie gelui wat op Maandag 4 Julie 2005 in Beeld, Die Burger en Volksblad verskyn het.

Die Durbaniet Wesley Moodie en sy Australiese spanmaat, Stephen Huss, het die dubbelspel vir mans gewen.

Hulle was die eerste dubbelspelpaar ooit wat eers vir die toernooi moes kwalifiseer en dit uiteindelik gewen het.

Liezel Huber, ’n oud-Durbaniet, en haar Zimbabwiese dubbelspelmaat, Cara Black, het in die dubbelspel vir vroue koning gekraai en Kevin Curren en Johan Kriek, twee van die beste spelers wat Suid-Afrika ooit opgelewer het, het die derde keer die dubbelspeltitel vir spelers ouer as 45 jaar verower.

Ellis Ferreira en die Nederlander Paul Haarhuis het in die afdeling vir spelers ouer as 35 geseëvier.

“O ja, hy is dalk ’n Switser, maar die briljante Roger Federer wat gister sy derde Wimbledonse titel verower het, se ma, Lynette, is ’n Afrikaanssprekende vrou wat van Kempton Park kom,” het ek geskryf.

Nadat Curren en Kriek op ’n buitebaan hul titel suksesvol verdedig het, het ek by die hekkie gewag waar hulle moes uitkom.

Ek het myself aan hulle voorgestel en gevra of ek ’n foto van hulle kon neem.

“Natuurlik!” het Kriek, wat oorspronklik van Pongola in die noorde van KwaZulu-Natal kom en later as ’n Amerikaner die Aussie-Ope twee keer (in 1981 en 1982) gewen het, in Afrikaans gesê.

Curren, ook ’n oud-Durbaniet, het in 1985 as ’n Amerikaner in die enkelspeleindstryd teen die 17-jarige Boris Becker op Wimbledon verloor.

Die voorblad van Die Burger op 4 Julie 2005.

Ek het ná Huber (née Horn), ook ’n oud-Durbaniet wat Suid-Afrika vyf jaar vroeër op die Olimpiese Spele in Sydney verteenwoordig het, en Black se oorwinning op die hoofbaan die mediakonferensie bygewoon.

Vir die eerste keer in drie jaar dat ek oor Wimbledon verslag gedoen het, is ek toegelaat om op ’n mediakonferensie op dié roemryke toernooi ’n vraag te vra.

Soos die gebruik op mediakonferensies is, moet jy sê wie jy verteenwoordig wanneer jy ’n vraag vra.

“Sarel van der Walt, Beeld, South Africa. My question is to Liezel.

“Liezel, how does it feel to be a Wimbledon champion?”

Huber, wat met ’n Amerikaner getroud is, het oorgeleun en die mikrofoon tussen haar en Black nadergetrek.

Sy het vir my gekyk en met ’n groot glimlag in Afrikaans geantwoord: “Dis baie bakgat, dankie!”

Daarna het sy ter wille van die ander joernaliste oorgeslaan Engels toe en gesê sy het geweet dit was net ’n kwessie van tyd voordat sy ’n Grand Slam-titel in die dubbelspel sou wen, maar sy is baie verlig dat dit wel gebeur het.

Kevin Anderson tydens die stryd teen John Isner Vrydag. Foto: AP

“Ek was vandag baie senuagtig. Daar was tye dat ek op die baan moes bid om kalm te word.”

In ’n stadium het Black haar Suid-Afrikaanse spanmaat aan die skouer gevat ek gesê: “Sy is taai, want sy is ook van Afrika.”

Nadat ek my storie Johannesburg toe gestuur het, het ek met ’n lied in die hart die laaste keer deur die hekke van Wimbledon gestap na die nabygeleë Southfields-moltreinstasie: Dit was immers ’n droomnaweek vir Suid-Afrika op Wimbledon.

Die geraamde voorblad van Die Burger van 4 Julie 2005 en drie Wimbledon-plakkate wat in my studeerkamer hang, laat my gereeld na Wimbledon verlang.

Ek moet bieg, ek was Woensdagaand aan Federer se kant, maar mag Klaasen en Anderson dit ’n nog groter droomnaweek vir Suid-Afrikaanse tennis maak.

* Van der Walt het van 2003 tot 2005 elke jaar twee weke lank oor Wimbledon verslag gedoen toe hy Media24 (koerante) se Londense verteenwoordiger was. Hy is nou ’n politieke joernalis, maar skryf nog soms oor Davisbeker-tennis.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Wimbledon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.