Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n JMPD-lid deur ‘dronkbestuurder’ doodgery
Jacob Moila (49) Foto: Facebook/ Mandla Ntombela

’n Lid van die Johannesburg-metropolisie (JMPD) is na bewering die afgelope naweek deur ’n dronkbestuurder in Soweto doodgery toe hy die man by ’n padversperring wou aftrek.

Jacob Moila (49) is Saterdagmiddag op die toneel in Meadowlands dood nadat hy probeer het om die voertuig voor te keer.

Volgens Wayne Minnaar, JMPD-woordvoerder, is die bestuurder summier in hegtenis geneem nadat ’n asemtoets ’n alkoholtelling van 0.94 mg/1 000 ml aangedui het. Die wettige alkoholperk in ’n asemtoets is 0.24 mg/1 000 ml.

Die man word van strafbare manslag en dronkbestuur aangekla.

David Tembe, JMPD-hoof, het sy innige medelye aan Moila se familie betuig en gesê die man sal met die volle mag van die gereg te doen kry.

’n Militêre begrafnisdiens sal vir Moila gehou word omdat hy gesterf het terwyl hy diens verrig het.

Die voorval kom nadat die JMPD-beamptes Winnie Mokgolo (35) en Sophie Ngoasheng (45) in 2018 deur ’n dronkbestuurder doodgery is.

Netwerk24 het vroeër berig Albert Gerhardus Pretorius (43) is op 20 Januarie vanjaar in die landdroshof in Alexandra, Johannesburg, ’n boete van R10 000 (of ’n jaar tronkstraf) opgelê ná sy skuldigbevinding in dié saak.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het toe hofrekords vir verdere ondersoek aangevra.

Strenger vonnisse gevra

Michael Sun, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy gaan ’n aanlyn-versoekskrif aan die parlement rig om te verseker landswette word gewysig vir strenger vonnisse in die verband.

“Ons kan nie nog lewens in die naam van dronkbestuur verloor nie,” sê Sun.

Hy sê die wet is te sag op roekelose- en dronkbestuurders. Hy sê Pretorius se “ligte” vonnis skep ’n slegte presedent.

“Ons is verpletter om van nog ’n dood, ook glo veroorsaak deur ’n dronkbestuurder op ons paaie, te verneem. Die DA betuig sy innige medelye aan die familie, kollegas en vriende van die gestorwe JMPD-beampte,” sê Sun oor Moila se dood.

Hy sê Moila was net klaar met die nagaan van ’n ander voertuig toe ’n silwer Honda Ballade die punt genader het met geen teken dat hy gaan stop nie. Die Honda het Moila getref en hy is op slag dood.

Meer oor:  Doodgery  |  Jmpd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.