Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n kinderhuis wag op staat se subsidie

Terwyl die departement van maatskaplike ontwikkeling sloer om sy subsidie te betaal, hoop die skuld op by ’n kinderhuis in Pretoria.

Karin Berriman, bemarkingsbestuurder van die Jakaranda-kinderhuis in East Lynne, sê die departement is tjoepstil oor die geld wat aan die kinderhuis betaal moet word.

Die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria wag nog op sy subsidiegeld van die departement van maatskaplike ontwikkeling.

“Ons moet elke kwartaal ’n diensvlakooreenkoms met die departement onderteken. Hoewel ons die eerste kwartaal se subsidie ontvang het, wag ons steeds vir die tweede kwartaal se geld,” sê Berriman.

Dié kinderhuis is ’n veilige hawe wat na die behoeftes van 250 mishandelde kinders omsien.

“Ons bied holistiese sorg vir kwesbare, mishandelde, getraumatiseerde en voorheen benadeelde kinders en as ’n organisasie sonder winsbejag maak ons sterk staat op dié subsidies. Dit dek sowat 49% van die kinderhuis se maandelikse uitgawes.”

Berriman sê die kinderhuis hou darem nog kop bo water.

“Ons is geseënd met skenkings, maar soos die geld inkom word daar in die behoeftes voorsien sodat die kinderhuis aan die gang kan bly.

“Die water- en kragrekening moet betaal word. Nog groot probleme is die salarisse en brandstof sodat ons kinders by die skool kan uitkom.”

Sy sê hoewel daar groot onsekerheid is oor wanneer die geld betaal gaan word, is die kinders hul eerste prioriteit.

“Ten spyte van al die finansiële uitdagings waardeur ons sedert Maart in die gesig gestaar word, sorg ons dat ons kinders goed versorg word.

“Hoewel ons ’n betreklik groot bedrag nodig het om ons maandelikse koste te dek, is ons oorweldig deur al die ondersteuning wat ons intussen ontvang. Ons bly positief dat ons teen einde Mei iets van die departement sal ontvang.”

Netwerk24 het twee weke gelede berig oor ’n ander kinderhuis wat ook steeds wag vir sy subsidies.

Ancha Smuts van die Louis Botha-kinderhuis in Pretoria het Dinsdag gesê dit gaan maar erg.

“Ons het meer as genoeg kos, maar ons het geld nodig om ons water en elektrisiteit te betaal. Ons hou duim vas die subsidiegeld word betaal voordat dit te laat is.”

Busi Kheswa, woordvoerder van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê daar is verskeie organisasies in die provinsie wat nie die diensvlakooreenkoms onderteken het nie.

By San Michele-tehuis vir psigiatriese en gestremde pasiënte in Brakpan is alles “nog tot vandag (Woensdag) toe oukei”.

Marius Bosman, bestuurder van die tehuis, sê met ’n maandelikse begroting van R1,3 miljoen kan dit in ’n krisis ontaard as hul staatsubsidies nie uitbetaal word nie.

“Ons het Woensdag ’n brief van die departement ontvang oor ’n vergadering wat op 27 Mei gehou gaan word. Hierin is ook genoem dat ons geen uitbetalings gaan kry voordat die diensvlakooreenkoms onderteken is nie, maar kan jy glo ons het nog geen kontrak ontvang nie,” sê Bosman.

Hy sê hoewel die tehuis gewoonlik voorsiening maak vir onvoorsiene situasies, is hy veral bekommerd oor die personeel se salarisse.

“Pasiënte word versorg deur gekwalifiseerde verpleegsters en ’n matrone. Jy kan mos nie verwag dié mense moet verniet werk nie.”

Volgens Bosman wil die tehuis die departement dagvaar vir kontrakbreuk indien die geld nie binnekort aan hulle uitbetaal word nie.

Busi Kheswa, woordvoerder van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê daar is verskeie organisasies in die provinsie wat nie die diensvlakooreenkoms onderteken het nie.

“Geld kan net betaal word indien dié dokument, ’n vereiste vir organisasies sonder winsbejag, onderteken word.” Die diensvlakooreenkoms dui aan dat so ’n organisasie aan wetgewing voldoen.

Kheswa sê die kinderhuise se dokumente is steeds uitstaande. Sy is ook nie bewus van ’n vergadering wat gehou gaan word nie en kan nie kommentaar lewer op die tehuis se beweringe dat diensvlakooreenkomste nog nie aan hulle uitgereik is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.