Enkele dae nadat die lyk van Tazne van Wyk (8) in ’n stormwaterdrein op die N1 buite Worcester gevind is, het nog ’n jong meisie in die Wes-Kaap spoorloos verdwyn.
Die nuus oor Nabeelah Begg (16) se verdwyning het vrese en skokgolwe deur die gemeenskap van Bonteheuwel gestuur.
Begg is op 18 Februarie laas lewend gesien terwyl sy skool toe gestap het, maar sy het nooit by die skool opgedaag nie.
Sy was in haar skoolklere, ’n grys langbroek en ’n wit hemp geklee.

Nabeelah Begg (16) is as vermis aangemeld. Foto: Facebook
Begg het lang bruin hare en groen oë. Sy word beskryf as iemand wat fyn gebou is, en sy is 1,4 m lank.
Volgens ’n familielid is die gesin rasend van bekommernis, veral in lig van al die gebeure rondom Tazne.
Die familielid sê verder dit is die eerste keer dat Begg net sonder enige verduideliking van die huis af verdwyn, en vir so ’n lang tydperk weg is.
“Ek wil nie die kar voor die perde span nie, maar dit wil voorkom asof ’n leidraad wat laat gisteraand (Vrydagaand) ingekom het, dalk tot ’n positiewe uitkoms kan lei,” sê die familielid.
“Ons het die inligting vanoggend (Saterdagoggend) aan die speurder gegee, wat onderneem het op dit op te volg en ondersoek in te stel.”
Tazne was sedert 7 Februarie vermis. Moyhdine Panganker (54) word aangekla van haar moord en ontvoering.

Nabeelah Begg Foto: Facebook