Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n motorfietsryer in Bfn raakgery

Nóg ’n man is die naweek in Bloemfontein ernstig beseer in ’n motorfietsongeluk ongeveer 24 uur ná die ongeluk waarin ’n ander jong man op sy motorfiets by ’n verkeerslig deur ’n bakkie getref is.

Jeremy Barnard (20) het kopbeserings, ’n gebreekte ken, gekraakte ribbes en vog op die longe nadat hy Sondag omstreeks 01:05 deur ’n rooi Isuzu-bakkie op die hoek van Parfittlaan en Nelson Mandela-rylaan raakgery is. Dit is skaars ’n kilometer van die plek waar Jason Pieters (22), ’n werktuigkundige, die vorige nag deur ’n bakkie getref is waar hy by ’n verkeerslig gewag het.

Die bakkie wat glo Jason Pieters (22) getref het terwyl hy by ’n verkeerslig gewag het.Foto: Leon Rossouw

Netwerk24 verneem die bestuurder van die bakkie wat in Barnard vasgery het, het weggejaag. Hy was na bewering later saam met sy passasiers, ’n vrou en jong kind, in die parkeerterrein van ’n hotel. Hulle is glo Sondagoggend vroeg daar weg.

Op beeldmateriaal van straatkameras in die stad kan daar ook gesien word hoe die voertuig minute voor die ongeluk in die verkeerde rigting in ’n eenrigtingstraat ry. Die voertuig het ná die ongeluk ook op verskeie ander plekke gestaan voordat dit uiteindelik ’n geruime tyd in die hotel se parkeerterrein was. Volgens inligting na aan die ondersoek gaan dié bestuurder binnekort in hegtenis geneem word.

Rouvé, Barnard se ma, sê haar seun is steeds in ’n geïnduseerde koma en het sedert die ongeluk nog nie sy bewussyn herwin nie. Hy word in die neuro-intensiewe sorgeenheid van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein behandel.

Die polisie sê in 'n verklaring hulle ondersoek 'n klag van roekelose en nalatige bestuur. 

Minute ná die ongelukstoneel toe Jason Pieters (22), ’n werktuigkundige, deur ’n bakkie getref is terwyl hy by ’n verkeerslig gewag het.Foto: Leon Rossouw
Jason Pieters in die hospitaal. Foto: Verskaf

Pieters, die ander jong man wat ook op sy motorfiets deur ’n bakkie getref is, het op sy beurt by ’n verkeerslig op die hoek van Zastronstraat en Eerste Laan in Bloemfontein gewag.

In 'n video van die voorval, wat sedertdien wyd op sosiale media versprei word, kan daar gesien word hoe Pieters Saterdag om 01:20 by ’n rooi verkeerslig wag toe ’n wit bakkie teen ’n hoë spoed hom tref. Ná die slag trek hy deur die lug terwyl sy valhelm enkele meters verder beland. Die bakkie het meters verder tot stilstand kom.

Netwerk24 verneem hoewel ’n polisievoertuig op dié toneel was, is die bestuurder van die wit Ford Ranger-bakkie nie in hegtenis geneem nie. Hy het egter nie weggejaag nie en het met Pieters se pa, Johan, by die hospitaal gepraat. Hy het glo die motorfiets ná die ongeluk opgelaai en dit Sondagoggend na Pieters se huis in Bloemspruit gebring. Daar het hy vir Johan gesê Pieters het in hom vasgery.

Johan sê onder omstandighede gaan dit goed met sy seun.

“Hy praat, maar hy sukkel met geheueverlies. Dit gaan baie, baie beter met hom.”

Navrae oor Pieters se ongeluk is aan die polisie gestuur, maar geen antwoorde is nog verskaf nie.

Johan Pieters Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Bloemfontein  |  Padongelukke  |  Motorfietsryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.