Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nóg ’n rob geskiet in ‘oorlog’ oor visbronne
Dié robkarkas het Maandag met ’n skietwond op een van Port Elizabeth se strande uitgespoel. Dit is die vierde dooie rob wat in Januarie hier uitgespoel het. Foto’s: VERSKAF

In die jongste voorval van “vissers se oorlog” in die Algoabaai-streek teen seediere wat om visbronne meeding, is ’n rob met ’n haelgeweer doodgeskiet.

Minstens 21 dooie robbe het in Desember op die strande tussen Port Elizabeth en Kaap St. Francis uitgespoel, en in Januarie is vier karkasse al op die strande gevind, sê dr. Greg Hofmeyr, marienebioloog by die Bayworld-oseanarium.

“Die outopsie op die rob wat by Maitlandstrand buite Port Elizabeth uitgespoel het, het drie haelgeweerkorrels in die karkas opgelewer.”

Verlede jaar is sowat 15 robbe tussen Februarie en September doodgeskiet. Selfs ’n stompneusdolfynkoei het in Oktober met ’n skietwond uitgespoel. In die outopsie is ’n koeël in die ribbebene van die dolfyn gevind.

By navrae oor die Maitlands-rob het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement van omgewingsake, gesê dit is kommerwekkend dat die stryd om visbronne tussen mense en robbe tot só iets kan lei.

“Dit is iets wat ook aan die Weskus van die Wes-Kaap voorkom. Ons moedig die mense aan om die voorvalle by die wetstoepassers aan te meld, sodat dit ondersoek kan word,” het Nqayi gesê.

Maar die polisie se hande is afgekap as daar nie ’n klagte ingedien word nie, het ’n ondersoekbeampte, wat die skietdood van die robbe en dolfyne in die Oos-Kaap ondersoek, hierop geantwoord.

Die beampte, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het die voorbeeld genoem van ’n hengelaar wat onlangs glo in Port Elizabeth se Algoabaai gesien het hoe ’n ander hengelaar vyf robbe rondom sy boot doodskiet. Dié hengelaar is te bang om ’n verklaring by die polisie af te lê, omdat hy blykbaar gedreig is deur die hengelaar wat geskiet het.

“Sonder verklarings en klagte wat ingedien word, kan ons nie die voorval ondersoek nie.

“Al wat ons tans kan doen, is om die koeëls wat in die robbe en dolfyn gevind is, vir ballistiese toetse te stuur. “Ook dit neem lank voordat enige terugvoer gegee kan word,” het die ondersoekbeampte gesê.

Ná die skietdood van die stompneusdolfyn verlede jaar het Dennis Mostert, hoof van die Baaise kantoor van die departement van landbou, bosbou en visserye, aanbevelings aan die pylinkvissektor se bestuurskantoor gedoen om vuurwapens op alle plaaslike kommersiële vissersbote in die Oos-Kaapse waters te verbied.

Hy het toe ook gesê die groeiende getal seediere wat met skietwonde op die strande uitspoel, verg dringend aandag en die logiese stap is om vuurwapens te verbied. Hy het sy aanbevelings verder gemotiveer deur te sê daar is geen dreigende gevare op die Oos-Kaap se seewaters wat ’n vuurwapen regverdig nie.

Maar die aanbevelings is van die hand gewys en wettige vuurwapens mag steeds aan boord geneem word.

Hofmeyr glo die enigste uitweg om die skiet van seediere te keer, is om Mostert se aanbevelings wet te maak en vuurwapens op bote te verbied.

“Ek maak tans soveel as moontlik data bymekaar oor die robbe en dolfyne wat geskiet word.

“As ons genoeg bewyse en ’n sterk saak het, sal die owerhede nie anders kan as om vuurwapens op kommersiële bote te verbied nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Skiet  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.